c urant
dié
• Bergrivier 1Swartland Swartland • Bergrivier
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
8 November 2017
28%
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 445
8 November 2017
•AANGEWYS AS VOORSITTER VAN SA DORMERS
Hanekom vat voor by SA-genootskap Erika Hanekom van Rhenosterbosrug buite Malmesbury is by die Algemene Jaarvergadering van die Dormerras op 8 September, aangewys as die eerste vrou om as voorsitter van die Dormerras te dien. Sy word ondersteun deur dr Karin Wessels van Frankfort in die Vrystaat as onder-voorsitter. Hanekom het vantevore vir 21 jaar op die Raad gedien, later as visie-voorsitter. Sy het grootgeword op die plaas Nooitgedacht in die Perdeberg, waar haar jonger broer, Kobus Basson, tans boer. Haar liefde vir die boerdery, diere en natuur is van kleins af by haar vasgelê. As oudste kind het haar pa haar orals op die plaas saamgeneem en hulle as gesin jaarliks die Kruger Nasionale Wildtuin besoek. Na afloop van haar studies aan die Grootfontein-landboukollege het sy haar pa op die plaas gehelp, aangesien daar geen werksgeleenthede vir vroue gedurende daardie jare in die landbou was nie. Skeerseisoene het sy as wolklasseerder met skeermasjienspanne by boere gaan skeer. Gedurende hierdie tye het sy haarself geleer om met die masjien te skeer en daardeur kon sy later haar veilingsdiere self skeer. Sy is in 1968 met Pieter Hanekom van Koringberg getroud. Sy pa het in 1964 die plaas Rhenosterbosrug as 'n tweede plaas gekoop met ‘n reeks bestaande Dormerkudde. As getroude paartjie het die Hanekoms die plaas sy aan sy geboer. Reeds vanaf die begin het sy die verantwoordelikheid en alle aspekte van die Dormerstoet behartig, maar was ook by die ander boerderyvertakkings soos die melkery en wingerd betrokke. "Pieter het my die ruimte gegun om op die Dormerraad te dien en om dit uit te leef waarin ek belangstel." Pieter is in 1993 na ‘n suksesvolle hartoorplanting as gevolg van verwerping oorlede. "Met twee dogters op Stellenbosch en 'n seun in matriek moes ek en my werkers alleen voortgaan. Na Alwyn se studies op Elsenburg-landboukollege, het hy hom in 1996 by my aangesluit en saam het ons met ‘n passie ‘n gedugte span gevorm." Deesdae behartig Alwyn die melkery, wingerd en saaiery wat heelwat uitgebrei het saam met die algemene plaasbestuurder, Johandri van der Walt, terwyl Erika nog alle aspekte van die Dormerstoet behartig en steeds in alles belangstel
Links: Erika Hanekom is ‘n gesoute skeerder en geniet hierdie deel van die boerdery. Onder: Worcester Weskaap Dormerveiling; hoogste prys vir ooi met tweeling. V.l.n.r. Ters Marais (afslaer), Danie Thomas (koper), Jan Olivier (BKB), Anthony Verrooi, Erika Hanekom (verkoper). Foto’s: Sonja Naudé
en gewig ingooi as dit moet. Rhenosterbosrug Dormerstoet bestaan reeds sedert 1964 en is die oudste stoet in die land. “Reeds vanaf die begin is daar hoë eise gestel om kwaliteit Dormers te teel. Deur seleksie vir top-produserende ooie, is eienskappe soos vrugbaarheid, moedereienskappe, meerlinge, melkproduksie, groeisnelheid, hoë speen-persentasie, vleisbouvorm, voerbenutting en aanpasbaarheid oor die jare vasgeteel. "Prestasietoetsing word vanaf 1973 toegepas. Uit hierdie ooie word ramme met ‘n sterk erfdwang geteel om hul eienskappe aan hul nageslag oor te dra. Dormerramme is ook by uitstek geskik vir kruisteling met enige ras om slaglammers op ‘n vroeë ouderdom aan die slaglam-mark te lewer” verduidelik Erika. Sy neem reeds vanaf 1970 ononderbroke
aan die jaarlikse Nasionale Dormerveiling op Bloemfontein deel, waar sy en haar diere oor die jare verskeie toekennings ingepalm het. Waar Dormerkursusse dwarsdeur die land aangebied word, tree sy as instrukteur op om nuwe keurders op te lei om diere volgens rasstandaarde te keur. “Dis my passie om die Dormer landwyd te sien floreer en daarom dra ek die belange van nuwe en veral jong telers op die hart. Ek sal graag wil sien dat hulle die leiding en ondersteuning van gevestigde telers sal geniet en dat hierdie telers nie hul eie belange nie, maar dié van nuwe telers eerste sal stel, veral met die aankoop van teeldiere sodat hul volhoubaar met Dormers kan boer. Hierdie jong telers is ons ras se toekoms,” sit Erika haar doelwitte vir die Dormer Skaaptelersgenootskap uiteen.
NUUS • NEWS