courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
8 November 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 445
8 November 2017
•JOHAN DEMPERS EN SPAN TERUG OP WELLINGTON
Avonturier tuis ná Amasone-reistog •Jaomi Zeeman Johan Dempers van Wellington het onlangs, na twee maande in Suid-Amerika, na sy tuisdorp teruggekeer, nadat hy ‘n ekspedisie in die Amasone-reënwoud onderneem het. Hy het hierdie avontuur saam met drie ander spanlede, Joe Brooks (80), Muldene Holloway (32) en Hennie van Rooyen (47) aangedurf. “Ons was vier mense, dit was twee maande en ons het een doelwit gehad, naamlik om die harde maar wonderlike biosfeer van hierdie unieke gebied te ontdek. Ons wou hierdie gebied ondersoek en die inligting met mense en studente regoor die wêreld deel,” het Johan gesê. Dit wil voorkom asof dít presies is wat hierdie avonturiers tydens hul ekspedisie vermag het. Johan, wat met die eerste oogopslag aansienlik ligter as voor sy vertrek lyk, vertel dat hy bykans 19kg gedurende die ekspedisie afgeskud het. “Ons het vis geëet en water gedrink en ons het geoefen. Ons kon geen gaskoeldrank drink of brood, suiker en verfynde kos eet nie. Ek het ook nie een keer sooibrand gekry, terwyl ek daar was nie. Ek moes ekstra gate in my gordel met my knipmes maak,” lag hy. Volgens hom was die ongereptheid en gebrek aan roetine wat hy in die Amasone ervaar het, iets waaraan hy kan gewoond raak. “Daar is nie spertye of mense wat jou pla nie. Jy besluit wat belangrik is om te doen, wanneer dit nodig is om op te staan, om kos te kry, om verder te roei. Daar is nie grense en drade nie. Alles is nie so gestruktureerd soos waaraan ons hier gewoond is nie,” sê hy. Alhoewel die groep se beplanning vooraf haarfyn gedoen is, het hulle besef dat daar waarskynlik onvoorsiene omstandighede en veranderlikes is wat moontlike aanpassings tydens die ekspedisie sou vereis. Die tyd wat hulle uiteindelik in die bos deurgebring het, was net meer as twee weke. Die res van die twee maande moes hulle aan die duisende kilometers wat hulle moes aflê, afstaan. Die baie bagasie, waaronder ‘n boot, tente, sonpanele en ‘n klomp kameratoerusting, het ekstra uitgawes, tyd en moeite tydens hul reis vereis. Anders as met sy vorige ekspedisie na die Amasone, waar hy deur Indiane gevange geneem is, het die Indiane wat hulle hierdie keer teëgekom het, hul baie vriendelik ontvang. Hulle het die avonturiers van kos voorsien, by hulle gekuier en wou meer oor hul toerusting en
ervaring te wete kom. “Van die een plek waar ons gekamp het, moes ons by ‘n volgende dorp uitkom. Ons het aanvanklik beplan om daarheen te roei, maar dit sou omtrent so twee weke geneem het. Ons kon toe ‘n ooreenkoms met die Indiane aangaan, sodat hulle ons met hul groot huisboot, wat ‘n petrolenjin het, tot by die dorp neem, in ruil vir ons boot, kanoe, sonpanele en battery. Hierdie rit het net twee dae geneem, omdat hulle dag en nag met die boot ry,” vertel Johan. Volgens hom het die Amasonerivier sedert sy vorige besoek aan hierdie gebied, verander. “Die rivier se loop verander maar oor die jare. Waar hy kronkels gemaak het, neem hy miskien tydens ‘n vloed ‘kortpad’ en dan verval daardie kronkel,” verduidelik Johan. Hierdie verandering het veroorsaak dat hy nie die plek, wat hy “Camp Leatherman” gedoop het, waar hy ‘n geliefde mes wat hy tydens sy vorige ekspedisie langs die oewer van die Amasonerivier verloor het, kon opspoor nie. “Dit was seker eintlik simpel om te dink dat ek weer die plek sou kry, maar dit was iets wat ek graag wou probeer doen,” lag hy. Al die lede van die ekspedisie se gesondheid het tydens die avontuur goed gehou en behalwe vir ‘n paar minimale skete, het almal heelhuids teruggekeer. Die groot getalle piranhas en krokodille ten spyt, het niemand darem ‘n onderonsie met een van dié gevaarlike inwoners van die Amasone gehad nie. “Ons het húlle vir ete gehad, gelukkig was dit
nie andersom nie,” vertel Johan oor die piranhas. Hoogtepunte tydens die ekspedisie is volop. “Die positiewe ontmoeting met die Indiane was ‘n hoogtepunt. Hulle gasvryheid, vrygewigheid en nuuskierigheid was regtig wonderlik. Dit was ook baie lekker om te kon teruggaan na ‘n plek wat ek jare gelede besoek het. "Dan was daar die dolfyne en die krokodille. Die varswaterdolfyne wat sommer so skielik uit die niet langs jou boot uit die water skiet, is ongelooflik,” sê Johan. “Op een plek het ek in die nag met die flits geskyn na die rivier en omtrent twintig pare rooi ogies van krokodille gewaar,” vertel hy meer oor die diere wat hulle teëgekom het. Na hul terugkeer het die kameraspan van Fokus reeds by hulle ‘n draai gemaak vir ‘n insetsel, wat binnekort op hierdie program uitgesaai sal word. Johan beplan reeds aan sy volgende ekspedisie, weer na die Amasone, in 2018. “Ek is baie bly ek het hierdie ekspedisie aangepak. Ek het fantastiese materiaal ingesamel en wonderlike foto’s geneem. Die uitdaging is nou om deur dit alles te gaan en te orden,” sê hy. Johan het ook ‘n gratis fotografieklub op Facebook, Explorer’s Photo Club, begin waar ander entoesiastiese fotograwe hul foto’s kan deel en vir hulp kan aanklop. “Hierdie klub sal egter nie net op sosiale media funksioneer nie, maar ook fisiese uitstappies en oefeninge in fotografie onderneem,” sê hierdie avonturier.
NUUS • NEWS