courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
15 November 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 446
15 November 2017
•WERKE GEPUBLISEER IN 14 DIGBUNDELS
Ink en woorde bruis in Caren se are •Jaomi Zeeman Die Wellingtonner Caren Kearley is iemand wat met haar talente en drome woeker. Sy het hierdie jaar twee boeke die lig laat sien en is onlangs met ‘n INK-toekenning vir haar skryfwerk vereer. Caren, wat oorspronklik van Namibië kom, woon al vir 14 jaar op Wellington. Sy is die trotse ma van twee dogters en is bedrywig in die eiendomswêreld. Haar liefde vir taal en vir woorde is egter iets wat sy haar lewe lank met haar saamdra. “Ek het op laerskool al baie van my tyd in biblioteke spandeer. "My liefde vir woorde is deel van my liefde vir Afrikaans en my trots op ons kultuur,” sê sy. Caren het reeds op hoërskool gedigte geskryf en om te skryf was nog altyd haar gunsteling tydverdryf. “Dagboek-stukkies, briewe vir my vriende en soms sommer net los gedagtes op enige stukkie papier beskikbaar wanneer woorde my kop oorval. "Ek het egter nooit gedink dat skryf ‘n noemenswaardige talent is nie, want almal kan mos skryf. Ek het my skryfwerk maar net met mense naby my gedeel, tonne weggegooi en hordes uitgedeel,” vertel sy. Nadat ‘n vriendin haar drie jaar gelede aangemoedig het om haar gedigte op ‘n Facebook-blad te plaas, was die koeël deur die kerk. Alhoewel Caren aanvanklik senuagtig was om haar skryfwerk aan ‘n breër gehoor bekend te stel, het sy dit tog uiteindelik gewaag. Die reaksie op haar gedigte was vir haar verrassend en oorweldigend. “Week na week het my gedigte onder die top drie geëindig en ek het hope boeke en skilderye as pryse gewen. In 2016 was daar ‘n groot kompetisie op ‘n Facebook-blad en daar was ongeveer 80 inskrywings. "Tot my groot verbasing het ek dit gewen. Daarna het ek my eie Facebook-blad, ‘Nimfoleptiese Woorde', begin en ook gereeld gedigte en kortverhale ingestuur vir goedkeuring om in saamgestelde bundels gepubliseer te word. Daar is tans omtrent 14 saamgestelde bundels met van my skryfwerk in. Litnet het ook al ‘n paar op hul webblad geplaas,” vertel Caren.
Sy het ‘n maand gelede ook van Malherbe Uitgewers verneem dat ‘n kinderboek, “Neelsie en die geel monster”, wat sy saam met ‘n paar woordvriendinne geskryf het, by die drukkers is. “Die storie gaan oor die vernietiging van natuurlike habitat om geboue en woonbuurte op te rig. Ek voel dis belangrik om ons kinders van kleins af bewus te maak daarvan dat ons hierdie mooi planeet van ons moet oppas,” sê sy oor hierdie boek. Caren het in 2016 by die webblad “INK skryf in Afrikaans” aangesluit en haar digkuns verder geslyp. Haar gedigte was op ‘n gereelde basis onder die top drie op hierdie blad se maandelikse dig-uitdagings en hulle het ook ‘n bundel geloods - iets waarin sy haar hart en siel begewe
het en ‘n manuskrip saamgestel het. Die INK-paneel het gedurende die jaar alle plasings van lede beoordeel en uiteindelik die wenners in verskillende kategorieë aangekondig. Caren het ‘n uitnodiging na hul glansgeleentheid in Pretoria gekry en sy is met die trofee vir “Gedig van die Jaar” vir haar gedig, “Tussen seisoene”, vereer. Sy het ook ‘n derde plek as “Digter van die Jaar” verower. Haar manuskrip het ook ‘n derde plek verwerf. “Ek kon vir die eerste keer in my lewe tien gedrukte bundels van my eie in my hande vashou. Die bundel is ‘Tussen Woorde’ genoem,” vertel sy oor hierdie spesiale ervaring. Alhoewel 2017 tot dusver ‘n hoogtepunt vir Caren was, het sy al hierdie dinge ten spyte van baie persoonlike uitdagings reggekry. “2017 was die jaar wat alles in my lewe handomkeer verander het. Ek het in Januarie onverwags ‘n egskeidingsbevel van my man gekry. Ek is tans hard aan die werk om te verseker dat ek selfonderhoudend my ken hoog kan hou, my dogters kan onderhou en my drome kan bewaarheid. "Die enigste manier om die tipe struikelblokke te oorkom, is om groter en meer passievol te droom, harder te werk en elke dag positief aan te pak,” vertel sy oor dié wipplankjaar. Caren is met reg trots op en opgewonde oor die toekenning wat sy gewen het. “Daar is nie woorde wat dit kan beskryf nie. My grootste droom is om iets te skryf en te publiseer wat ek vir my kinders kan nalaat. Tweedens sal dit die grootste voorreg ooit wees as ek net ‘n druppeltjie in die emmer kan bydra tot die groei en instandhouding van ons taal. Om jou drome te sien vlamvat, is nogal ‘n hemelse belewenis,” sê sy. Miskien is die slotreëls van hierdie positiewe vrou se wengedig, sprekend van haar lewensuitkyk: “Nou is my hart na herfs hergiet (in grys skakerings van niks vermom) want geen seisoen is kwytgeskel van verdriet, en selfs die koudste liefde smag na ‘n lentevlam om te blom.”
NUUS • NEWS