c urant
dié
• Bergrivier 1Swartland Swartland • Bergrivier
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
22 November 2017
26.7%
Bou saam met goeie nuus
22 November 2017
Uitgawe 447
•LSS: 99 JAAR EN 2970 LEERDERS LATER
Trio roep onderwys vaarwel
Die Laerskool Swartland op Malmesbury wuif eersdaags vaarwel aan drie gesoute onderwysers wat na vele jare se diens die tuig neerlê om die weg te baan vir 'n volgende generasie opvoeders. Johannie Döman, Cielie Myburgh en Marie Louw het altesaam 99 jaar onderwys gegee by dié laerskool op Malmesbury en na raming 2970 kinders deur die skoolbanke gehelp. Döman het 38 jaar se ondervinding in die onderwys, waarvan sy 35 jaar hiervan by die Laerskool Swartland betrokke was. Sy is oorspronklik van Bellville en het haar onderwysdiploma op Wellington verwerf, waarna sy by Laerskool Simonsberg in Kraaifontein skoolgehou het. Daarna het sy haar HOD verwerf aan Denneoord in Stellenbosch en toe kom skoolhou op Malmesbury, waar sy ook haar man ontmoet het. "Ek is gek na skoolhou self; daar is soveel vlakke waarop mens kinders kan motiveer. Die kinders se sêgoed is ook te kostelik," vertel sy met 'n vonkel in die oog. "Ek sien uit na my aftrede. Dis miskien waar dat ek nie kan stilsit nie, maar ek gaan beslis eers 'n gap-jaar neem voor ek besluit wat om volgende aan te pak." Myburgh is op haar beurt oorspronklik van De Aar en het haar onderwys-kwalifikasie op Oudtshoorn verwerf, waarna sy 'n diploma met spesialisering in verstandelike gestremdheid op Stellenbosch ontvang het. Daarna het sy 'n jaar elk op De Aar en Kuilsrivier skoolgegee, waarna sy Malmesbury toe getrek het en 'n gesin begin het. Van die 28 jaar wat sy tussendeur die taak van kinders grootmaak skoolgehou het, was sy 26 jaar lank verbonde aan die Laerskool Swartland voor die swartbord. "Ek geniet dit om in my klas te wees en met die kinders te werk. Laerskool Swartland is 'n wonderlike plek om skool te hou; as onderwyser het jy genoeg bronne tot jy beskikking en die nodige ondersteuning om werklik 'n verskil te maak," sê Myburgh. "Dit was heerlik om so lank in diens te wees by dieselfde skool, maar ek sien ook nou uit daarna om lekker te rus en vir 'n ruk lank so min as moontlik te doen." Louw is oorspronklik van Swellendam en het haar onderwysdiploma op Wellington verwerf, waarna sy kom wortels skiet het op Malmesbury.
Tesame het Cielie Myburgh, Marie Louw en Johannie Döman 99 jaar ondervinding in die onderwys. Hier het sy haar man ontmoet, 'n gesin begin en toe vir 38 jaar lank onderwys gegee by Laerskool Swartland. "Die onderwys was nog altyd vir my 'n groot plesier. Dis moeilik om te beskryf hoe wonderlik dit is om te sien wanneer daardie liggie aangaan by 'n kind wat jy probeer help. "Dit bly mens vir altyd by. "Skoolgee is natuurlik egter nie aldag maanskyn en rose nie. Mense wat die onderwys as 'n loopbaanrigting kies, moet kans sien vir uitdagings en reg wees vir 'n noemenswaardige
administratiewe lading," sê Louw. "Ek het nog nie veel planne beraam vir my aftrede nie. Ek sal maar eers mooi besin en sien wat oor my pad kom." Die drie juffrouens stem ook saam dat die samehorigheidsgevoel onder die onderwysers by Laerskool Swartland vir hul al drie uitstaan as een van die hoogtepunte gedurende hulle termyn by die skool. "'n Mens lewer immers jou beste werk wanneer jy voel asof jy deel is van 'n wenspan," slaan Döman ter slotte die spyker op die kop.
NUUS • NEWS