courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
6 Desember 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 449
6 Desember 2017
•LEWENSBESKOUING VERANDER NÁ CHARLOTTE
Plaaslike TV-ster span uit op tuisdorp
•Jaomi Zeeman Die bekende en bekroonde aktrise, Rolanda Marais, het verlede week vinnig ‘n Wellingtonse draai kom gooi. Sy het as geleentheidspreker by haar alma mater, Hugenote Laerskool, kom optree en vir ‘n dag in haar grootword-dorp kom uitspan. Dié beeldskone oud-Wellingtonner, wat tans in die Waterfront-televiesireeks op KykNet te sien is, lyk ewe gemaklik in kaal voete op die grasperk van die Au d’Hex Boetiek Hotel as voor die televisiekameras. “Dis eintlik ‘n heerlike bederf om heeltemal alleen hier in my tuisdorp te kan kuier. Ek is so jaloers op mense wat hier kan bly. My werk maak dit egter vir my onmoontlik om so ver van die stad af te woon,” sê Rolanda. Haar en haar man, Jozua Malherbe, se dogtertjie, Charlotte, word hierdie week ‘n jaar oud en hulle het onlangs van Gauteng na die Kaap verhuis. Volgens Rolanda het moederskap haar lewensbeskouing heeltemal verander. “Sjoe, ‘n mens besef eers wat jou ouers alles vir jou gedoen het, hoe lief hulle vir jou is en wat hulle alles vir jou opgeoffer het as jy self ‘n kind het. Van slaap, tot finansies, tot jou sosiale lewe, alles verander wanneer jy ‘n ouer word. Jou kind kom altyd eerste. Dit is ‘n voorreg dat ons nou weer naby my ouers kan bly en dat hulle ons ondersteuningsnetwerk kan wees en hul kleinkind elke dag kan sien,” sê sy. Haar en haar man se besige skedules, die feit dat sy aan verskillende produksies gelyktydig moet werk en hard aan haar woorde leer, het hulle laat besluit om die skuif Kaap toe te maak. “Ek het net besef ek kan nie sonder my ouers nie. Ek moet gereeld halfses soggens uit die huis uit en kom dan eers weer rondom twaalfuur die nag terug. Jy kan nie daardie ure werk, veral as altwee ouers dit moet doen, en van iemand wat nie familie is nie verwag om vir jou in te staan met jou kind nie. Ons werk is sporadies en onvoorspelbaar met onmoontlike ure. Die enigste manier waarop ek en Jozua albei kan werk, is as ons naby my ma-hulle is. Ons het letterlik agter my ma-hulle aangetrek,” lag Rolanda. Rolanda word in Januarie veertig. Hoe voel dit vir haar om hierdie mylpaal te bereik?
“Ek weet nie hoe dit gebeur het dat ek tot hier gekom het nie. I don’t know how it happened! Jissie, dit voel soos gister dat ek hier uit is,” sê sy. Alhoewel al die tonele van die Waterfront televisiereeks, waarin sy tans te sien is, reeds verfilm is, is Rolanda geheimsinnig oor die uitkoms van hierdie storie. “Al wat ek kan sê, is dat daar só baie kinkels in daardie kabel is, dat selfs die akteurs en regisseur op ‘n stadium terwyl ons geskiet het, die skrywer moes bel en vra om te verduidelik hoe die vurk in die hef steek. Die intrige word al hoe erger. Die uitkoms is onverwags,” is al wat sy wil verklap. Watter eienskappe sal Rolanda graag wil hê dat haar dogter by haar moet erf? “My uithouvermoë. En weet jy wat ook? My vermoë om nie te worry oor wat ander mense van my sê nie. Ek dink ek was nog altyd van
kleintyd af ‘n rebel, maar nie op ‘n lelike, vergeldende, uitspattige manier nie. Ek gee nie om om soms eenkant, of ‘n loner, te wees nie. Maar ek wil nie hê Charlotte moet ‘n loner wees nie. Ek wil hê sy moet baie maatjies hê. Ek hoop sy erf Jozua se positiewe uitkyk op die lewe en ook sy vermoë om mense bymekaar te bring. Oral waar hy is, trek hy mense net saam, amper om oral versoening te aktiveer,” sê sy filosofies. Rolanda se veelsydigheid as aktrise maak van haar ‘n gesogte persoon in die vermaaklikheidsbedryf. Volgens haar, werk sy maklik in een week aan ‘n radiodrama, aan advertensies, aan televisie en aan teater. “Dit as absoluut amazing om te sien hoe jy elke keer wanneer jy in die een medium inbeweeg, eenvoudig adjust, op alle vlakke. Jy moet vocally en fisies vir elke medium aanpas en jou kop heeltemal skuif. Boonop moet jy nog in verskillende karakters klim. Ek hóú van die afwisseling. Ek is baie lief vir teater, want dis waar ek begin het, maar hoe meer televisiewerk ek doen en hoe meer films ek doen, hoe meer raak ek verlief op daardie mediums ook. Dis eintlik maar om te vra vir watter kind is jy die liefste - elkeen is spesiaal,” verduidelik sy. Is daar iets van Wellington wat sy nog elke dag met haar saamdra, wat aan haar menswees kleef? “Dit is definitief Groenberg. Die gevoel wat ek kry as ek aan Groenberg dink of dit sien - daar is vir my ‘n geborgenheid in Groenberg. "Dit is daardie gevoel dat ek veilig is. Groenberg is vir my soos ‘n karakter. Hy was ook ‘n karakter in my kinderlewe en in my mensword,” sê sy. Selfs die skoollied van haar alma mater, Hugenote Laerskool, waar sy later die dag ‘n inspirerende toespraak gelewer het, verwys na Rolanda se geliefde Groenberg. “Aan die voet van die bloue berge, daal Groenberg golwend, sag.” Dit is híér waar Rolanda se hart steeds geborge voel.
NUUS • NEWS