452 dié courant Wellington

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

17 Januarie 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 452

17 Januarie 2018

•KOFFIEMAN TE SIEN IN 'BLACK SAILS'

Akteur skrop nes op Wellington

•Jaomi Zeeman Baie Wellingtonners het al by die vriendelike Francois Coertze se koffiestalletjie koffie gekoop of sy gesig tussen al die ander ouers van skoolleerders op Wellington gesien. Min mense weet egter dat dit nie net sy betrokkenheid by dié dorp se aktiwiteite is wat van hom ‘n bekende gesig maak nie - Francois is ook ‘n gesogte akteur wat al in verskeie films, advertensies, sepies en ander produksies gespeel het. Francois, wat in Johannesburg gebore is en in Amanzimtoti grootgeword en studeer het, het aanvanklik beroepsrugby gespeel. Hy het vir vier jaar vir die Engelse rugbyklub Sudbury, uitgedraf, waarna hy na Suid-Afrika teruggekeer en ook ‘n paar keer vir die Valke gespeel het. ‘n Motorkaping, waartydens albei sy arms beseer is, het egter sy rugbyloopbaan kortgeknip. Hy het teruggetrek Durban toe en het sewe jaar later die geleentheid gekry om as ‘n verteenwoordiger vir ‘n kalkmyn in die Kaap te werk. “Met ons verhuising Kaap toe, het Wellington sommer met die eerste oogopslag my en my gesin se belangstelling geprikkel. Ons moes tussen Wellington, Durbanville, Worcester en die Paarl kies en Wellington het loshande gewen. Ons is tans al vyf jaar woonagtig op dié pragtige dorp,” sê Francois. Volgens hom was hy al van kleins af geïnteresseerd in drama en toneelspel. Hy het drama as vak op skool geneem en ook ná skool by ‘n dramagroep aangesluit. Terwyl hy sy rugbyloopbaan nagejaag het, is sy droom om ‘n akteur te word op die agtergrond geskuif. Nadat Francois egter die geleentheid gekry het om saam met John Cleese en Troye Sivan op die stel van Spud te wees, het sy liefde vir toneelspel weer vlamgevat. “Met ons verhuising Kaap toe, was dit net soveel makliker om hierdie droom na te jaag en te verwesenlik,” sê hy. Alhoewel Francois voltyds as ‘n verteenwoordiger vir 'n onderneming wat chemiese en landboukalk verskaf, werk en boonop ‘n koffiebesigheid wat mense van alle soorte koffie by funksies en feeste bedien, bedryf, is hy ook druk besig met sy loopbaan as akteur. Sedert hy in die Kaap woon, het sy akteursloopbaan vinnig momentum gekry en het hy al aan talle internasionale en plaaslike projekte gewerk. “Internasionaal het ek al aan Black Sails,

Homeland, Call The Midwife, Unexplained Files en Deutschland 86 gewerk. Plaaslik het ek in Suidooster, Waterfront, Modder en Bloed, Van Der Merwe, Hum en ook talle kortfilms vir plaaslike en internasionale feeste verskyn. "Ek is op die oomblik met ‘n nuwe film, ‘Die SMS’, besig wat volgende jaar in Julie bekendgestel sal word,” sê hy dankbaar. Francois het ook al in verskeie verhoogproduksies verskyn. In 2015 het hy saam met drie ander akteurs die groep, “That WAC Company”, gestig. Hierdie groep het ‘n Engelse toneelstuk, “Twist”, verwerk en ‘n Suid-Afrikaanse geurtjie gegee. Hulle het in 2016 verskeie optredes met hierdie toneelstuk tussen die Paarl en Stellenbosch gehad. “Ons is huidiglik aan die werk met ons nuwe produksie, maar kan ongelukkig nie baie daaroor sê nie,” laat hy die aap uit die mou. Francois tree ook gereeld as seremoniemeester by verskeie funksies op en geniet in hierdie hoedanigheid die interaksie met mense baie. Volgens hom is daar verskeie dinge in die vermaaklikheidsbedryf wat vir hom heerlik is. “Daar is verskeie aspekte van al die mediums wat my laat ‘tick’. Om op ‘n verhoog te staan met ‘n 100 paar oë wat jou dophou tot die adrenalienbelaaide aksietonele wat enige oomblik kan verkeerd loop, sou jy verkeerd val of spring, is vir my wonderlik. Ek wil my karakter se storie vertel, maak nie saak hoe groot of klein die rol is nie. Dit is altyd ‘n uitdaging om iemand anders van die begin af te skep, sy spraak, sy nuanses, sy gewoontes en sy agtergrond. Ek geniet dit om voor die kamera of verhoog daardie karakter lewendig te maak. En geglo te kan word,” sê hy. Alhoewel hy nie voltyds as akteur werk nie, is daar talle struikelblokke wat hy moet oorkom. “As jy deur stil tye gaan waar werk bitter skaars is of glad nie bestaan nie, moet jy dit in jouself vind om daardeur te druk en harder aan jou kuns te werk, sodat vervaardigers jou raaksien. Ek was deur so ‘n tyd ‘n jaar of wat gelede wat ek wou opgee, wou tou opgooi. Ek het myself met klein projekte begin besig hou en stelselmatig het dinge aan die gang gekom. So besef jy hoe dankbaar jy moet wees vir alle geleenthede wat jou kant toe kom,” sê hy.

Volgens Francois dink sy oudste dogter dat dit “cool” is wanneer sy haar pa op die kassie of groot skerm sien. “My familie is baie trots op elke rol en bid net so hard na ‘n groot oudisie. Hul ondersteun my geweldig,” sê hy. Oor sy “bekendheid” lag hy net. “Nee wat, ek is glad nie bekend nie. En ek verkies dit so. So hier en daar sal daar iemand verbystap wat twee keer kyk of as ek aan mense voorgestel word, kry ek die ‘hoekom lyk jy so bekend?’ En dan, as die penny drop, voel ek nogal geëerd dat mense wel ons films of produksies ondersteun. Ek doen net waarvoor ek baie lief is,” sê hy beskeie. Vir meer inligting oor Francois se loopbaan en aktiwiteite kan mense hom op facebook by http://www.facebook.com/actorfrancoiscoertze volg of by @coertzefrancois op Twitter en Instagram.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
452 dié courant Wellington by DieCourant - Issuu