courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
24 Januarie 2018
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 453
24 Januarie 2018
•WELLINGTONNER VIND GELUK NA DIE ONGELUK
Heleen gee hoop •Jaomi Zeeman “Waar daar lewe is, is daar hoop.” Só glo die Wellingtonner Heleen Pretorius - en sy praat uit ondervinding. Hierdie hartlike vrou met haar skerp humorsin en sorgvrye lag se lewe het in 1989, na haar en haar man Mike se drie weke lange wittebrood, vir altyd onherroeplik verander toe hulle in ‘n grusame motorongeluk was. Hulle het op pad terug Kaap toe in Bloemfontein stadig oor ‘n robotkruising, wat vir hulle groen was, beweeg. ‘n Motor wat teen’n geweldige hoë spoed oor ‘n rooi robot gejaag het, het Heleen en Mike se motor aan die passasierskant getref en hulle sowat 17 meter ver laat tol. Alhoewel Mike en die vier insittendes van die ander motor feitlik ongedeerd was, was Heleen in die wrak vasgekeer en lede van die brandweer moes haar met ‘n koevoet bevry. Heleen was só ernstig beseer dat die omstanders op die ongelukstoneel gedink het sy is dood. Sy is na die waakeenheid van die Universitas Hospitaal geneem waar sy steke aan haar kop moes kry. Haar blaas was gebars, haar bekkenbene was aan albei kante op twee plekke gebreek, haar linkerbeen se potjie was vergruis, haar regterheup was gekraak, haar lyf was vol kneusplekke en sy was in ‘n diep koma. “Alhoewel Mike geweet het dat hy onskuldig in die ongeluk was, het hy ongelooflike skuldgevoelens gehad. "Hy het baie magteloos gevoel. Ons was net drie weke getroud en hy het nie geweet of ek gaan lewe nie. My ouers was verslae toe hulle my die eerste keer in die hospitaal sien,” sê Heleen. Heleen was vir meer as twee maande in die hierdie hospitaal. Dokters het verskillende menings oor haar toestand gehad. Party het gereken dat sy geen kans op herstel het nie, ander het voorspel dat sy verstandelik gestremd sou wees. Sy is later na Panorama Hospitaal in die Kaap oorgeplaas. Sy was nog steeds onbewus van wat om haar aangaan het en het ‘n skrale 38kg geweeg. Die dokters en Heleen se vriende en
Bo: Heleen Pretorius deel haar verhaal. familie het haar van die hospitaal op uitstappies na bekende plekke geneem om te kyk of sy haar geheue kon terugkry. Dit het haar gehelp om geleidelik uit die koma te kom. Eers nadat sy ‘n maand in Panorama was, drie maande na die ongeluk, het sy haar bewussyn herwin. Heleen het haar korttermyngeheue verloor, sy kon nie loop, staan of praat nie en was feitlik vir alles van ander mense afhanklik. Sy kon nie met haar linkeroor hoor nie en sy het net 4% sig gehad. As gevolg van die pille wat sy moes drink om te verhoed dat sy epileptiese aanvalle kry, het sy baie geslaap. “In ‘n rolstoel, eers vier maande na ons troue, kon ek en Mike op my ouers se plaas ons trougeskenke begin oopmaak,” onthou sy. Na ‘n heupvervangingsoperasie moes Heleen van voor af met ‘n loopraam leer loop. Sy moes ook oefeninge doen wat die gebruik van haar regterhand kon herstel. Sy moes die alfabet van nuuts af leer sodat sy weer kon leer lees en skryf. “Ek moes leer om ‘n bal vas te hou en prentjies in te kleur, soos ‘n kleuter,” vertel Heleen oor haar moeisame herstelproses.
Volgens haar het sy besef dat dit in hierdie lewe nie gaan oor wat jy verloor het nie, maar wat jy oorgehou het. “En daarmee moet jy woeker. Die enigste pad vir my, was die harde, lang pad. Die breinbesering wat ek opgedoen het, het nege jaar geneem voordat my linkerbrein en regterbrein weer kon saamwerk,” sê sy. Heleen en Mike het uiteindelik in die Paarl, en later in Wellington, kom woon en sy moes daagliks aan haar herstel werk. Sy het weer leer motor bestuur en het by die bure gaan kuier. “Ek het gevoel hoe ek stadigaan weer mens word. Tog was ek bewus daarvan dat mense my soms vermy het omdat hulle nie geweet het hoe om my te hanteer nie. Hulle lewens het aangegaan, maar myne het agtergebly,” onthou sy. Heleen het ‘n kursus in rekenaarwetenskap en een in entrepreneurskap voltooi. Sy het ook weef- en pottebakkery-kursusse gedoen. Sy het saam met Mike op ‘n tandem begin fietsry en hulle het saam ‘n Argus Fietstoer voltooi. Alhoewel die kans op kinders na haar ongeluk skraal was, het Heleen tog swanger geraak en sy is vandag die trotse ma van twee suksesvolle dogters. Alhoewel sy talle uitdagings moes oorkom en daagliks nog ‘n stryd voer teen die gevolge van die ongeluk wat haar lewe verander het, lei Heleen ‘n vol lewe waar sy onbaatsugtig aan die gemeenskap teruggee. Sy reël elke jaar ‘n dinee vir die inwoners van Sunfield Home, help mense met liefdadigheidswerk, is by die organisasie van talle geleenthede betrokke en lewer gereeld motiveringspraatjies. Sy het selfs al die Rapportryers by hul Landsberaad toegespreek. “Ek dink dat al hierdie dinge waaroor ek passievol is, God se plan met my was. Ek kan die gebrokenheid in ander se lewens raaksien en daarmee empatie hê omdat ek dit ken. Ek weet hoe dit voel om moedeloos te wees. Maar ek weet ook dat daar altyd hoop is. Daar is lewe anderkant ‘n mens se ergste beproewings,” getuig sy.
NUUS • NEWS