courant
• Bergrivier 1Swartland Bergrivier
dié
14 Maart 2018
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 460
14 Maart 2018
Piketberg se mooistes gekroon
Piketberg Hoërskool se Mnr en Mej PHS word eersdaags op 27 Maart gekroon. Die kroningsgeleentheid vind in die skoolsaal plaas. Foto: Riana Engelbrecht
•WEN TALLE TOEKENNINGS VIR WERK
Gerstner volg Oupa
Charlotte Lesch PORTERVILLE - Sheldon Gerstner, ou-Piketberger en nou ‘n inwoner van Porterville, se droom is om in sy oupa Attie Vlok se voetspore te volg en ook eendag 'n burgemeester te word. Vir nou wil hy eers ander help en vir Porterville wys waar sy hart lê. Gerstner (39) wat sopas in Zambië aangekom het om die gemeenskap daar te leer om volhoubaar te lewe en hulle meer van God te vertel, se welwillendheidswerk, het op ‘n baie vroeër ouderdom oor sy pad gekom. Hy het op Piketberg grootgeword. Nadat hy in 1997 aan Boland Landbouskool matrikuleer het, trek sy gesin na Porterville. Daar was nie geld vir kollege of universiteit nie. Hy kry wel die geleentheid om Londen toe te gaan. Dit is toe dat sy oogklappe afval. Daar was nie sprake van rassisme om elke hoek en draai nie. Hy het besluit om nie na Suid-Afrika terug te keer nie en byna enige werk, asook bouwerk gedoen om te oorleef wat natuurlik met baie ervaring beloon is. In 2006 kry Gerstner ‘n noue ontkoming met die dood. Pampoentjies eis byna sy lewe en hy keer terug na sy huis in Porterville waar sy ma, Sharon Vlok steeds woon. Die armoede het hom laat skrik na byna 10 jaar in ‘n eerstewêreldse land. Dit was vir hom self moeilik om ‘n werk te kry. ‘n Lening om sy eie besigheid, “Extreme Tours through Africa”, te begin, is ook afgekeur. Gerstner kry toe in 2011 ‘n werk as ‘n kelner by ‘n gesogte restaurant in Kaapstad. Daar loop hy minder bevoorregte
kinders raak wat ‘n talent koester vir rolskaats. Gerstner was self ‘n ekstreme rolskaatser op sy dag en het altyd daarvan gedroom om yshokkie te speel. Op die platteland, was dit egter nie haalbaar nie. Hy het die kinders kort daarna weer gaan soek, maar kon hulle nie kry nie. Nie lank daarna nie, loop hy drie seuns raak en besluit om hulle te help. Nie net met die sport nie, maar ook met skool. Vandag speel twee van die seuns WP yshokkie. “Ongelukkig is een seun dood vanweë sy omstandighede, maar een skryf vanjaar matriek, terwyl die ander een verlede jaar klaargemaak het met skool.” Hulle is vandag nog baie na aan mekaar. Hy hoop om vir hulle ‘n borgskap in yshokkie in Amerika los te slaan, voeg hy by. Gerstner het daarna verskeie projekte aangepak. In 2014 wen hy die Elizabeth Arden Community Hero-toekenning. In 2016 begin hy as persoonlike oefeningskonsultant wat meer tyd besorg het vir sy welwillendheidsprojekte, wat onder meer gratis rekenaarvaardighede in Khayelitsha inhou. ‘n Tweede noue ontkoming tref hom. Gerstner word wakker vanuit ‘n koma in die hospitaal nádat hy van die trappe val. “Op 3 Junie 2016 het my lewe begin (the slap from God),” beskryf hy die ervaring. Gerstner moes na sy geloof gryp om deur die moeilike tyd
te kom. Hy moes van voor af leer loop en hoor. Hy begin toe mediteer en meer vir Yesoah,”Jesus se regte naam”, te luister. Twee maande later stap hy letterlik Afrika binne om sukkelende liefdadigheidsorganisasies en kinderhuise binne sy kapasiteit as bouer en boer te help. “Ek het my kennis gebruik om goed reg te maak en tuine te bou” Daarna begin hy sy eie ding en gaan voort om die armes te help en te leer om volhoubaar te lewe. Nie lank daarna nie, word Gerstner in Windhoek deur ses mans oorval. Hy is rot en kaal besteel en keer terug na Porterville vir ‘n nuwe paspoort. Hier het hy op eie bodem ‘n paar liefdadigheidsprojekte aangepak. Gaan loer gerus by www.theimilliproject.com om meer hieroor te leer. Gerstner het tot onlangs as ‘n pizzamaker en kroegman by Rendezvous op Porterville gewerk, asook mense se voertuie met ‘n waterlose middel gewas. Dit alles om te spaar vir sy volgende liefdadigheidstog na Afrika. Gerstner het op 7 Maart na Zambië vertrek saam met pastoor Kebby Kayombo (22). Hy beplan nie om vinnig te trou of kinders te kry nie. “Daar gaan nie tyd wees nie,” skerts hy. Gerstner hoop wel hy ontmoet sy lewensmaat op een van sy reistogte. Vir nou wag Afrika, SuidAmerika en Indië vir hom voor hy sy voete as burgemeester kom vind.
NUUS • NEWS