courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
14 Maart 2018
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 460
14 Maart 2018
•WIL EFFEK VAN DAG ZERO AAN INWONERS WYS
Plaaslike boer kyk na waterkrisis
•Jaomi Zeeman Die plaaslike boer, Eduard Malan van die plaas Middelpos buite Wellington, het op Sondag 11 Maart tydens ‘n insetsel oor die waterskaarste in die Wes-Kaap op SABC 2 se Fokus-program in ‘n onderhoud gepraat. Eduard, wat al die vierde geslag in sy familie op die plaas is, vertel dat hulle met 100 ha wyndruiwe en 20 ha uitvoersitrus op die plaas boer. Middelpos is al vir 117 jaar die spil waarom hul familie se boerderybedrywighede langs die Bergrivier draai. Die insetsel op televisie het oor die huidige waterprobleme van boere langs die Bergrivier gehandel. Daar word sedert 4 Februarie geen water meer uit die Theewaterskloof- of Bergrivierdam losgelaat nie. “Ons het na hierdie datum nog maklik beskikbare water vir ses dae in die rivier gehad om te pomp. Daarna het ons pompgate in die rivier skoongemaak met die nodige toestemming van omgewingsake om die boorde en wingerde wat nog oeste aanhet, te besproei. Ons het al vroeg in die produksieseisoen voorsiening gemaak vir ‘n kleiner oes. Ons het minder bemes, strenger gesnoei en ook ons beskikbare water gespasieer deur die somer sodat ons genoeg water het om die sitrus te besproei deur die somer. Huidiglik het ek nog so 30% beskikbaar van my toegelate water volgens my meter. Maar daardie water wat ek gereserveer het vir die sitrus is nie in die rivier beskikbaar nie,” vertel hy oor hierdie krisis. Volgens Eduard het hul plaas ingelyste waterregte uit die Bergrivier. In die tagtigerjare kon hulle nie damlisensies vir privaat damme bekom nie en het daarom waterregte uit die Theewaterskloofdam aangekoop. Die huidige weerhouding van water uit hierdie waterbronne het dus verreikende gevolge vir boere langs die Bergrivier. “As ‘n wingerdstok gewoond is om vir jare tweeweeklikse besproeiing te kry, kan dit nie aan die lewe bly soos ‘n droë landstok nie. Die wortelstelsel is nie so goed ontwikkel nie. Dit is soos om te verwag ‘n potplant se wortels moet buite die pot water soek,” verduidelik hy. Tydens die onderhoud vir Fokus met Danie Hefers het Eduard lig op hierdie probleem gewerp. “Danie Hefers het Maandagmiddag, 4 Maart, ‘n vinnige onderhoud met my oor die droogte, die Bergrivierdam wat nog 50% vol is en nie meer landbouwater loslaat nie, asook dag Zero wat uitgestel Is, gehad . Die hele vallei word finansieel erg geraak, maar meer die boerderye met later oeste soos granate en sitrus. ‘n Buurplaas het twee weke voordat hulle granate begin oes feitlik
98% van die oes verloor. Hulle het vir ‘n week lank besproeiingswater probeer aanry, maar dit was net te duur,” sê Eduard. “Danie het ‘n paar vrae aan my gestel en die opname is op die rivierwal geskiet. Dit is sleg om te sien hoe ‘n seisoen se werk in ‘n kort tydjie verwoes word deur mense wat onaangeraak is deur die verliese en gevolge van die verliese en nie altyd in voeling is met wat op grondvlak gebeur nie. Die skuld vir werksverliese op plase word dikwels op die skouers van die produsente gelaai, terwyl mense wat besluite neem maar net volgende jaar weer aangaan in sy pos. Na alle kante toe is dit altyd net Landbou se probleem om op te los,” sê hy oor die boere se frustrasies. Eduard hoop dat die insetsel op Fokus die publiek sal help om die ingewikkelde gevolge van Dag Zero op die landbousektor raak te sien. “Die publiek moet vra op watter manier, en wie, het dag Zero bepaal. As jy kyk waar die damvlakke gestaan het aan die einde van die winter 2017 en die damme sak elke week ‘n sekere persentasie, en die onderste 10% aftrek wat nie kan uitloop nie, is daar genoeg water tot na die 2018 winter,” spekuleer hy. Volgens Eduard sal die landbou erge skade ly indien dit nie binne die volgende twee weke goed reën of water uit die Bergrivierdam, wat nog 50% vol is, gelaat word nie. Hy sal sy hele sitrus-oes verloor en nie die sestig seisoenwerkers wat elke
jaar op sy plaas kom werk, in diens kan neem nie. Alle uitbreidings sal gestop moet word en nuwe aanplantings sal gestaak moet word. “Die rimpeleffek van hierdie krisis kring baie verder uit as net my boerdery,” sê Eduard. Hy het, soos baie ander boere, reeds vele aanpassings gemaak om by die watertekort aan te pas. Hy moes al heelwat onkostes aangaan om ekstra pyplyne aan te lê wat verskillende pompe met mekaar verbind om die laaste bietjie syferwater in die rivier na sitrusboorde te probeer lei. “Ek gebruik al die hele paar jaar vogmeters, of continious logging probes, om nie oor te besproei nie. So word water en elektrisiteit oordeelkundig gebruik. Daar bestaan ‘n persepsie dat boere water en elektrisiteit mors. ‘n Boer wat met dit mors, sal nie lank boer nie. Dis van die grootste uitgawes in ‘n boerdery,” sê hy. Ten spyte van al die uitdagings, bly Eduard ‘n boer wat passievol oor sy werk is. “Iemand het eenkeer gesê ‘n mens se besigheid is soos om ‘n boom te plant. Maar jy moenie alleen in die boom se skaduwee sit nie. Die boom moet kan skaduwee gee vir ander ook. Ek boer omdat dit my passie is. Daar is nie iets anders wat ek wil doen nie. Dit sal kom reën, en een of ander tyd gaan die mense in hierdie land besef, ‘n goeie landbou-omgewing is tot voordeel van almal in die land. As jy boer kan jy nie pessimisties raak nie. Optimisme is ‘n vereiste,” sê hy.
NUUS • NEWS