465 dié courant Wellington

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

18 April 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

•TITEL WINK VIR SKOONHEID

Uitgawe 465

18 April 2018

Mooie Mischke mik na Mev SA-kroon •Jaomi Zeeman Mischke Joshua, née Le Cordeur, is ‘n boorling van Wellington wat onlangs as een van die semi-finaliste in die Mev. Suid-Afrika Kompetisie aangewys is. Dié 32-jarige bemarkingspesialis is ‘n voormalige leerder van Hugenote Hoërskool wat nog gereeld by haar ouers, professor Michael en sy vrou, Sylvia, in haar geboortedorp kom kuier. Mischke het na haar studies in bemarkingsbestuur die bemarking van die Protea Hotel Groep by hul hoofkantoor behartig. Sy is intussen getroud en het na Rustenburg verhuis. Hier, waar sy vir eers tussen werke is, nog nie kinders het nie en ‘n baie ondersteunende man het, het vriende haar aangemoedig om vir die Mev. Suid-Afrika Kompetisie in te skryf. “Ek is nou in ‘n spasie waar ek tyd het om ‘n verskil in mense se lewens te maak - iets wat ek nog altyd wou doen. Die Mev. SA Kompetisie bied ‘n goeie platform waar ‘n mens ‘n positiewe impak op mense, maar veral vroue, se lewens kan maak. Hulle het reeds strukture in plek wat op die bemagtiging van vroue fokus,” verduidelik sy. Volgens Mischke is die amptelike begunstigde welsynsorganisasie van die kompetisie die “Women for Women”-groep wat spesifiek help om vroue te bemagtig. “Hulle help vroue om klein ondernemings te begin om self ‘n inkomste te genereer. Hulle fokus ook op die aanleer van lewensvaardighede en leer vroue om na hulself te kyk. Al die geld wat ons tydens ons veldtog insamel, word vir hierdie doel aangewend,” sê sy. Elke semi-finalis moet teen die einde van Junie ‘n sekere bedrag geld ten bate van Women for Women insamel. Op 28 en 29 Junie sal Mischke, saam met die ander semi-finaliste, finaal beoordeel word voor ‘n keuse vir die top 10 finaliste aangekondig word. Mischke het op Saterdag, 14 April, ‘n High tea ten bate van hierdie doel gehou. Hierdie uithang-geleentheid het by The Garden Shed buite Wellington plaasgevind en is deur talle dames, sowel as van Mischke se vriende en familielede bygewoon. Sy het tydens die funksie ‘n praatjie gelewer waarin sy haar doelstellings en rede vir deelname aan die kompetisie met die gaste gedeel het. Volgens Mischke, sal haar fokus altyd op die vrou val. “Vroue doen soms altyd die sleurwerk in die lewe. Ek wil vir vroue wys dat hul van nut kan wees en waarde het. Nog ‘n belangrike kwessie waarop ek wil fokus, is die probleem van boelie, veral onder jong meisies,” het sy gesê. Mischke, wat self as dogter geboelie is, emo-

Mischke se twee oumas het haar tydens haar fondsinsameling ondersteun.

sioneel afgekraak is en onseker oor haarself gevoel het, wil hierdie probleem onder jong meisies aanspreek. Volgens haar wil sy meisies bemagtig om te verstaan dat die persoon wat hul emosionele skade berokken, eintlik die gebroke een is. Sy wil verder ook met meisies oor hul onsekerhede praat en hul help om nie hul eie twyfel op ander te projekteer nie. Die pragtige Mischke lag oor haar gebrekkige ervaring in skoonheidskompetisies. “Ek is as klein dogtertjie vir ‘n Little Miss Stars kompetisie ingeskryf, maar het glad nie hond haaraf gemaak nie. Die laaste keer wat ek aan so ‘n kompetisie deelgeneem het, was toe ek ‘n finalis vir Mej. Matieland was, maar dit was baie jare gelede toe ek nog ‘n student was,” sê sy. Vir haar maak dit nie saak of sy verder in die kompetisie vorder nie. “Ek wil net die hele tyd onthou waarom ek eintlik ingeskryf het: om ‘n positiewe invloed in ander vroue se lewe te hê. Al maak ek dit nie tot die einde nie, is dit vir my ‘n deel van die reis tot hierdie doel,” sê Mischke. Haar deelname aan hierdie kompetisie is tekenend van Mischke se goeie gene. Behalwe vir haar skerp intellektuele vermoëns, het sy ook iets van haar tannie, Edwena (née Le Cordeur) Goff, se dryfkrag en skoonheid in haar bloed. Edwena, Mischke se pa, professor Michael le Cordeur se suster, is in 1980 as die eerste Mej. Rapport, die swart weergawe van Mej. Suid-Afrika, gekroon. As deel van haar destydse verpligtinge ten opsigte van

hierdie titel, het sy haar aan opheffingswerk onder vroue, veral in die bruin gemeenskap, toegewy. Edwena, wat ook by Mischke se fondsinsamelingsgeleentheid teenwoordig was, het haar bemoedig met die oog op haar deelname aan die Mev. Suid-Afrika Kompetisie. “Almal gaan nie altyd saam met jou bly wees of saam met jou celebrate oor wat jy regkry nie. Gebruik die lesse wat jy in die lewe geleer het, jy het reeds die wenresep. Jy moet heel wees van binne en eers baie dinge ervaar en weet voordat jy ander kan bemagtig. Jy het al hierdie dinge alreeds - gebruik dit nou tot voordeel van ander,” het Edwina haar aangemoedig. Vir Mischke sal Wellington altyd haar hartsplek bly. “My basis is my rustigheid, en dit is iets wat ek in my grootwordjare in Wellington geleer het. My rustige grootwordjare gee my ‘n stil krag. In Wellington voel ek 100% myself en dit is die plek waar ek my dinkwerk doen. Die feit dat my fondasie hier lê, maak my wie ek vandag is. Party mense praat baie, maar doen min. Met my is dit andersom, en dit is iets wat ek by die huis geleer het,” sê sy dankbaar. Intussen is Mischke druk besig om haarself vir die kompetisie voor te berei en gemeenskapswerk te doen. Die publiek kan vir Mischke stem en haar kanse om as finalis vir hierdie kompetisie te kwalifiseer ‘n hupstoot gee deur “Mischke Joshua” na 35959 te sms.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.