courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
2 Mei 2018
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 467
2 Mei 2018
•KYK NA BOEINGS VANUIT HAAR AGTERPLAAS
Fatima vlieg hoog •Jaomi Zeeman Fatima Jakoet se gelukkigste kinderherinneringe is dié waar sy as vierjarige in hul agterplaas in Wellington vir die Boeing gesit en wag het om oor hul huis te vlieg. Vandag is dié boorling van Wellington ‘n Senior Eerste Offisier by die South African Airways. Fatima staan ook aan die hoof van die Sakhikamva Organisasie wat onder andere lugvaart-bewustheid onder die jeug kweek en verwante vaardighede onder leerders van graad 1 tot 12 ontwikkel. Sakhikamva is die Xhosa vir “om die toekoms te bou” - heel gepas vir die wonderlike werk wat Fatima in hierdie verband doen. Hoe het dit gebeur dat ‘n Moslem-meisie van Wellington vir haarself ‘n naam in ons land se lugvaart-kringe gemaak het, haarself as ‘n leier op die gebied gevestig het en boonop terugploeg in die gemeenskap? “Destyds, as vierjarige in ons agterplaas in Wellington, sou ek met die geringste geluid van ‘n vliegtuig die hele buurt se kinders roep en ‘n groot kabaal opskop. Almal moes na die vliegtuig kom kyk wat eendag vir my iets spesiaal sou bring. Ek het destyds eintlik gedink dat die vliegtuig miskien vir my ‘n boetie of sussie sou bring, want dis waar ek gedink het babas vandaan kom,” lag sy. Fatima se ma het haar op vyfjarige ouderdom skool toe gestuur. Dit is hier waar haar liefdesverhaal met lugvaart vlerke gekry het, alhoewel die vlug nie altyd sonder uitdagings en turbulensie was nie. “Tydens my grootwordjare het my drome die hele tyd verander. Ek het daarvan gedroom om ‘n vlieënier, ‘n dokter, ‘n vlieënier, ‘n ruimtevaarder of ‘n spioen word. En dan was daar natuurlik die droom om ‘n supermodel, wat die wêreld vol toer en miskien selfs in ‘n James Bond-fliek speel, te word,” vertel sy. Tydens haar hoërskooljare het sy dit ernstig oorweeg om ‘n dokter te word. In haar hart het Fatima egter geweet dat dit waarskynlik nie moontlik sou wees nie. As gevolg van apartheid en die feit dat sy ‘n Moslem-dogter was, het sy besef dat sy baie hard sou moes werk om haar drome te verwesenlik. Dit was vir haar ‘n groot teleurstelling toe sy nie vir medies gekeur is nie, maar het haar studies in haar tweede keuse, naamlik chemie, met mening aangepak. Fatima se loopbaan in chemie het haar in die fassinerende veld van forensiese wetenskap laat beland waar sy in toksikologie gespesialiseer en as ‘n narkotiese dwelmspesialis gewerk het. “Alhoewel dit nou nie so glansryk is soos CSI dit laat lyk nie, was dit ‘n bevredigende loopbaan waar ek my vaardighede as ‘n wetenskaplike,
spesialis-ondersoeker van misdaadtonele en spesialis-getuie ontwikkel het. Ek het baie insig in die wêreld van dwelms, moord, ons regstelsel en die algemene rykwydte van misdaad in Suid-Afrika gekry,” vertel sy. Dit was juis tydens ‘n dwelm-konfiskeringsmissie by die lughawe dat sy eendag in verwondering na ‘n Boeing 747-400 gestaan en kyk het. “Daardie vliegtuig het iets in my wakker gemaak en ek was weer die vierjarige meisie in my ouers se agterplaas. Ek het na my kollega gedraai en hom vertel dat hierdie vliegtuig my roep en dat ek nog eendag agter só een se stuur sal sit,” onthou sy. Dit was ‘n moeilike reis om vir die SAA se kadet-vlieërprogram gekeur te word. Fatima onthou die psigometriese toetse, mediese evaluerings, twee rekenaar-simulasietoetse, ‘n agtuurlange psigologiese profieltoets en die senutergende persoonlike onderhoud baie goed. “Uit omtrent 6000 aansoekers is net 16 uiteindelik gekies,” sê sy. Hierna het haar opleiding in Suid-Afrika, sowel as in Australië begin. Nadat Fatima haar opleiding voltooi en ‘n internskap by Airlink gedoen het, het sy in 2005 by SAA aangesluit waar sy die Boeing 747-400 en later die Airbus 340 op internasionale roetes begin vlieg het. Fatima vlieg tans die Airbus 320. Sy het in 2009 met ‘n MBA aan die Universiteit van Stellenbosch (US) gegradueer en ‘n onderskeiding vir haar tesis behaal. Sy is sedertdien aktief by die aktiwiteite van die US betrokke en is in 2013
as ‘n handelsmerk-ambassadeur vir die instansie aangewys. In 2010 het Fatima die Sakhikamva Stigting begin. Hierdie organisasie bedryf meer as 12 programme en projekte wat lugvaartvaardighede en -belangstelling onder die jeug ontwikkel en ondersteun. Deur middel van strategiese samewerking met ander instansies bied hul ook beurse aan belowende studente en werk hulle in vennootskap met universiteite om ‘n betekenisvolle, volhoubare platform vir die jeug in die lugvaartbedryf te skep. Fatima het ook die wêreld se eerste “Science Technology Robotics Engineering Aerospace and Mathematics” (STREAM)-laboratorium in 2015 ontwikkel en van stapel gestuur. Die STREAMlaboratorium is ‘n interaktiewe ruimte waar jongmense se vaardighede in die lugvaartsektor ontwikkel kan word. Sy het boonop ‘n Harvard-beurs ontvang en in 2016 hul program in leierskapontwikkeling suksesvol voltooi. Fatima het verlede jaar ook as direkteur van Besigheidsontwikkeling by die Cape Aerospace Technologies aangesluit. Hierdie dinamiese boorling van Wellington is dankbaar vir die stewige fondament wat tydens haar kinderjare hier in ons vallei gelê is. “Die enigste vlieëniers wat ek as kind geken het, was skoenlappers en voëls. Ek is geseënd dat ek my roeping kan uitleef. Soms vlieg ek oor my ou huis in Wellington en ek wonder of daar ‘n klein dogtertjie iewers is wat wens dat my vliegtuig eendag vir haar iets spesiaal sal bring,” sê hierdie vrygewige, dinamiese vrou.
NUUS • NEWS