469 dié courant weskus

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Weskus • Bergrivier

dié

16 Mei 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 468

•NAAMBORDE HELP MET BEFONDSING

16 Mei 2018

Projek help woef en kie warm slaap

VREDENBURG – Twintig metaal plakkaatgrootte naamborde waarop sakeondernemings hul logo’s of advertensie kan plaas, kan by die Weskus-dierebeskermingsvereniging (DBV) gekoop word. (Sien foto). Volgens Colette Mang, voorsitter van die Weskus, Swartland en Cape of Good Hope DBV’s, kry borge vir R4500 dié naambord, sigbaar opgesit waar almal wat die honde-eenheid besoek, dit kan sien. Die borgskap sluit benewens die bord ook ‘n higiëniese plastiekhondehok, beddegoed en ‘n seilafskorting in, wat saans en op koue of reënerige dae toegetrek kan word. Op die oomblik is daar net tralies waardeur wind en reën maklik inwaai. Mang vertel dat die DBV in 2011 uit die Weskus onttrek het vanweë ‘n tekort aan geld, wat die hele Saldanhabaai munisipale area sonder ‘n amptelike DBV gelaat het. Die gebied het histories nog nooit amptelik ‘n skut gehad waar verlore en rondloper diere versorg kon word nie. Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) en die DBV het drie jaar gelede met samesprekings begin, wat uiteindelik uitgeloop het op die koop van die stuk grond langs die munisipale vullisterrein langs die Vredenburg-Saldanhapad. Mang en haar span het SBM voorsien van ‘n sakeplan en die beraamde bedryfskoste en inligting oor wat ‘n herberg vir diere alles moet bevat. Die gebou is verlede jaar voltooi en sluit in: kantore, ‘n honde-eenheid, ‘n ontvangs, ‘n kathok met glasafskorting, ‘n vertrek waar nuwe diere-aankomelinge gemonitor en ondersoek word, ‘n operasiekamer, ‘n kombuis/ontspankamer vir die personeel en ‘n raadsaal. “Die munisipaliteit het regtig baie goeie werk gedoen,” meen Mang. “Hulle het die inligting van ons kant af toegepas.” ‘n Diensvlakooreenkoms is verlede jaar tussen die twee partye geteken, nadat die DBV as die gekose tenderaar aangewys is. SBM betaal die DBV se bedryfskoste. “Dit is kostes wat hulle in elk geval sou moes dra, indien hulle ‘n diere-

skut gebou het.” Mang wil in die toekoms nog ‘n permanente inspekteur vir die Weskus aanstel. Tans is dit net Jameson October, met Patrick Chiwawa wat of in Weskus of in die Swartland uithelp. Wanneer ‘n klag van dieremishandeling of verwaarlosing ontvang word, moet die inspekteur eers ‘n

waarskuwing gee en die persoon inlig oor wat die regte manier van doen is. As die persoon nie gehoor gee nie, het die inspekteur gronde om ‘n lasbrief by ‘n landdros te kry om die dier by sy eienaar af te vat. Mang verduidelik die verskil tussen die DBV en wetstoepassers se rolle só: klagtes oor rondloper of probleemdiere moet by wetstoepassing gerapporteer word, klagtes oor mense wat diere mishandel of verwaarloos, moet by die DBV gelê word. Mang beklemtoon dat almal wat by die DBV werk, ‘n passie vir diere het. “Dit is dus baie stresvol om met mishandelde diere te werk, beseerde diere uit te sit óf hulle te moet los in haglike omstandighede, om die eienaar kans te gee om te verander.” Die personeel bestaan uit Louise van Zyl (bestuurder van Weskus én Swartland DBV’s), Hannatjie van Staweren (algemene admin en aannemings), Shadrack Busa en Evelyn Johnson wat met die honde werk en die honde-eenheid skoonhou. Aan die agterkant van die DBV is kampe vir groot diere, wat wag vir 'n op-en aflaai skuinste en skuiling. Veeartsenydienste by die DBV word verskaf deur ‘n veearts in sy of haar verpligte gemeenskapsdiensjaar vir die departement van landbou, bosbou en visserye. Van die belangrikste funksies wat die DBV vervul is om gereeld massa-sterilisasies te doen. “Dit is die antwoord,” meen Mang. Indien jy ‘n bord wil borg of honde- en katkos, kombersies en hondejassies wil skenk, bel die Weskus DBV by 022 289 0998. Onderskrif: Colette Mang, voorsitter van die DBV, voor die bord wat sy geborg het. By haar is die hondjie wat op die oomblik in dié vertrek gehuisves word.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.