courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
23 Mei 2018
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 470
•REEDS 30 JAAR DEEL VAN TUINE
23 Mei 2018
Timothy woeker met sy groen vingers •Jaomi Zeeman Die Wellingtonner Timothy Jacobs se oë blink wanneer hy oor sy werk praat. Hierdie energieke man is altyd op ‘n drafstap, altyd op pad iewers heen om toe te sien dat sy plantjies elke dag die regte behandeling kry. Timothy werk al vir 30 jaar lank in die parkeafdeling van Wellington se munisipaliteit. Hy het op 18-jarige ouderdom as tuinwerker by die plaaslike munisipaliteit ingeval en hom intussen as plantkenner en kenner in tuinuitleg bekwaam. Volgens Timothy het hy nog altyd ‘n liefde vir plante en tuinmaak gehad. “Ek is oorspronklik van die Onverwacht-plaas en het as jong seun altyd na skool in die mense op die plaas se tuine gewerk. Dit was nog altyd vir my baie lekker en ek het ‘n groot liefde vir plante. Dit is waarom ek na skool by die munisipaliteit se parke-afdeling begin werk het. Tuine en plante is iets wat ek ken en waarvoor ek baie lief is,” vertel hy. Timothy het hom sedert sy dae as algemene tuinwerker by die munisipaliteit opgewerk tot ‘n toesighouer. Vandag is hy vir al Wellington se tuine verantwoordelik. Die plante- en tuinkennis wat hy destyds as jong kannetjie op die plaas opgedoen het, het intussen ook tot ‘n uitgebreide kennis van tuine en plante gegroei. Timothy kan die wetenskaplike volksname van al die plante in die tuine waarvoor hy verantwoordelik is, uitryg. Hy ken elke plant se aard en behoeftes en weet wanneer dit snoeityd is en watter pestilensies watter soort plante kan beetkry. Hy ken ook die name van elke doepa wat plantsiektes kan behandel. Timothy het boonop ‘n besondere gawe om tuine uit te lê en aanpassings na gelang van die seisoene of klimaatsverandering te maak. “Ek kan vooruit dink hoe sekere hoekie of tuin uiteindelik sal lyk nog voordat ons met die plantwerk begin het. ‘n Mens moet baie dinge
in ag neem wanneer jy plante in die grond sit. As jy hulle verstaan en mooi na hulle kyk, sal hulle jou met die mooiste tuine beloon,” laat hy hoor. Wellingtonners het die aanpassings wat die afgelope paar maande met die huidige droogte aan ons dorp se tuine gemaak is, opgemerk. Alle beddings op middelmanne, sowel as sekere munisipale tuinareas is die afgelope tyd in waterwys-tuine omskep. Hierdie inisiatief het onder Timothy se wakende kennersoog geskied. “Ons moes al ons tuine aanpas sodat dit met die minste water moontlik en min onderhoud kan klaarkom. Maar dit moet darem nog steeds ‘n mooi prentjie maak. Daarom het ons tonne rivierklippe ingespan om ou beddings te vervang en waterwys-plante wat die droogte sal kan deurstaan vir groenigheid gebruik,” verduidelik hy oor die nuwe baadjie waarmee Wellington se tuine deesdae spog. Timothy het onlangs ook ‘n eerbewys van Drakenstein se burgemeester, Conrad Poole, ontvang. Hy is vereer vir sy jarelange diens by die munisipaliteit en het ook ‘n ere-toekenning
vir die uitstaande en betroubare bydrae wat hy in die gemeenskap lewer, ontvang. “Dit voel baie lekker as mense raaksien wat jy doen en dat jy in alles wat jy doen jou bes te gee. ‘n Mens werk soveel jare aan iets wat vir jou baie lekker is. "Om nou, as ‘n toesighouer, iemand te wees wat erkenning kry, beteken dat my betroubaarheid, liefde vir wat ek doen en my toewyding en harde werk iewers raakgesien is. Dit beteken baie vir my en ek voel baie geseënd,” sê Timothy trots. Sy liefde vir sy werk kan ook by sy huis gesien word. Alhoewel mense soms spot dat ‘n skoenmaker se kinders soms stukkende skoene dra, is dit glad nie met Timothy die geval nie. Sy eie tuin is sy trots en verbygangers stop dikwels by dié lushof. Hy het selfs op eie inisiatief ‘n klein parkie voor sy huis uitgelê - iets wat sy hele straat en buurt opkikker. Vir hierdie man met die groen vingers is die grootste uitdaging om soms te besluit watter plante se tyd miskien verby is en vervang moet word. Hy weet hoe om steggies te maak en hoe om met min hulpbronne baie te vermag. Ná 30 jaar se diens in Wellington se munisipale tuine, sien Timothy nog steeds daarna uit om elke dag vroegoggend werk toe te gaan. “Ek val vroeg in sodat ek die beplanning van die dag aan die gang kan kry en die spanne se werk kan uitdeel en oral ‘n oog kan gaan gooi. "Ek is regtig mal oor my werk en elke dag gelukkig om dit te kan doen,” sê hierdie energieke plante-man wat nooit vakansie neem nie en daarvan droom om eendag sy eie tuindienste te begin. “Eendag, as ek moet aftree by die munisipaliteit, sal ek graag my eie tuindienste wil begin. Ek sal nie ‘n dag kan deurkom sonder om in ‘n tuin of met plante te werk nie,” sê hy.
NUUS • NEWS