c urant
dié
• Bergrivier 1Swartland Swartland
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
20 Junie 2018
31.1%
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 474
•HARTTOESTAND KRY HOM NIE ONDER
20 Junie 2018
Cloete sien die lig in die donker raak •Charlotte Lesch Ryno Cloete van Malmesbury, se wenfoto het verlede week beoordelaars se koppe laat draai toe hy as die wenner van die Swartland Fotografieklub aangekondig is. Cloete is baie verbaas, maar dankbaar vir die erkenning. Sy bynaam mag dalk "Skollie" wees, maar as ‘n talentvolle kunstenaar en fotograaf wat ander wil inspireer en die lewe ‘n beter plek wil maak, is hy alles behalwe een. Volgens hom wou hy met dié foto die innerlike prag van die lewe op straat uitbeeld. Sy tema waarvolgens hy werk, is "Arm maar Geduldig". “Ek het besef ek kan met fotografie die innerlike prag van die strate waar ons elke dag verby ry uitbring.” Hy meen daar is mense en dinge wat nie raakgesien word nie, wat werklik bestaan. “Almal is mooi en verdien om dit te weet.” Die liefde wat hy vir mense het, is ‘n groot inspirasie vir sy werk. Die wenfoto vorm deel van ‘n reeks foto’s wat verband hou met die tema. Cloete (25) is op Malmesbury gebore, waar hy verskeie skole en aktiwiteite bygewoon het soos karate, skaak, kunsklasse en sport. Hy het reeds op die ouderdom van sewe op kuns verlief geraak, nadat sy pa hom aan sekere reëls en vaardighede binne die kunste bekendgestel het. Sy eerste ontwerp waaraan hy gewerk het, was matriekhempde. Daarna het hy sy naam as kunstenaar begin opbou en die kompetisie daar buite begin geniet. Cloete was genoodskaak om sy matriekeksamen in 2011 vir ‘n hele jaar uit te stel toe hy sy skooljaar moes kortknip weens ‘n harttoestand. Cloete was gedurende 2012 vir byna ‘n jaar ‘n permanente pasiënt in Panoroma Mediclinic se harteenheid. Hy is aanvanklik gediagnoseer met brugata-sindroom,hoewel daar later vasgestel is dat hy slegs aan die simptome ly. Sy punte was dalk nie so goed soos wat hy dit wou hê nie, maar hy het klaargemaak met matriek wat ‘n groot prestasie onder sulke omstandighede was. Cloete besluit toe om na skool grafiese ontwerp aan die College of Cape Town te gaan studeer. Hy het later ook fotografie studeer. Sy talente in veral illustrasiewerk, drukwerk en teken het duidelik na vore gekom. Sy tekeninge en portretfoto’s het hom verskeie kompetisies laat wen. Die grootste oomblik tot dusver in sy lewe
Kunstenaar en fotograaf Ryno Cloete probeer om altyd die mooi in die negatiewe raak te sien. was die geboorte van sy dogter wat alles vir hom beteken. Hy deel ook ‘n hegte band met sy familie. En moet nie vergeet van sy troeteldiere nie, voeg hy by. Ongeag sy ander talente as ‘n jong hip-hop danser, is hy ook lief daarvoor om die jeug te inspireer. Cloete was ook al die jeugleier by die St. Thomas Anglikaanse Kerk. “Ek hou daarvan om te help, te deel en is lief vir mense. "Ek wil ander inspireer deur my kennis en liefde met hulle te deel,” verduidelik Cloete. Waar kuns eens slegs ‘n stokperdjie was, is dit nou sy voltydse werk. “As ‘n kunstenaar het my liefde teenoor portretfotografie gegroei deur die gesig van die mens te studeer en om te sien hoe hul lewensverhaal daarin saamgevat word. Deur dit te doen, beeld ek die innerlike prag van ‘n individu uit en praat namens dié wat nie raakgesien word nie. "Arm maar geduldig sê dit alles.” Sy dogtertjie het hom ook uiteindelik geïnspi-
reer om met ‘n klerehandelsmerk vir kinders, maar ook vir volwassenes te begin. Vandaar Peanutt butter & Jêm. “Peanut butter en jam is wat kinders in voedingsprogramme vir middagete ontvang het. Die beeld het sterk na vore gekom in dit wat ek juis ondersteun. "Haweloos bly haweloos en arm mense raak armer en deur geduldig te wees en as ‘n kunstenaar te ontwikkel, wil ek die tema laat uitstaan en wys hoe spesiaal elkeen vir mekaar is, om dié wat niks het nie, te respekteer, verhoudinge te bou deur ander te help en met ander te deel.” Hy erken ‘n kunstenaar se lewe is nie maklik nie, maar om sy kennis met ander te deel en sy dogter van vyf te leer om met ander wat niks het nie te deel, beteken baie vir hom. “As ‘n kunstenaar, beteken geskiedenis baie, maar dit is die toekoms wat ons ontwikkel. Elke prentjie skilder ‘n lewensverhaal en dit is die ongesiene waarheid agter alles. Maak ‘n verskil aan die prent wat jy skilder en inspireer die ongesiene toekoms voor jou.”
NUUS • NEWS