courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
20 Junie 2018
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 474
20 Junie 2018
•DEELNEMER AAN SURVIVOR SA-REEKS
Joubert ken van val en weer opstaan
•Jaomi Zeeman Mense regoor die land, en op Wellington, sit die afgelope paar weke elke Donderdagaand voor hul televisies vasgenael om die lief en leed, uitdagings en strategieë van die deelnemers aan hierdie jaar se Survivor SA dop te hou. Die spanaktiwiteite, kompromieë, onderlinge gekonkel en ontbering van die deelnemers is dinge wat die verbeelding van kykers aangryp. Een van die gewildste deelnemers onder die spanlede is die oud-Wellingtonner, Werner Joubert. Hierdie fikse, diplomatiese pastoor van Secunda is ‘n oud-leerder van Hugenote Hoërskool en was selfs op sy dag Meneer Hugenote. Volgens Werner het hy en sy vrou in 2012 groot aanghangers van die Survivor-reeks geword toe hulle die vorige reeks op televisie gevolg het. “Ons het die reeks begin ontleed en ek het daarvan begin droom om self deel te neem. In 2014 het ek dit amper gemaak om eiland toe te gaan, so jy sal verstaan hoe ongelooflik bly ek was om vir hierdie seisoen gekies te word,” vertel Werner. Toe die keuringsproses vir die nuwe Survivor SA-reeks in 2017 begin, het Werner dus dadelik die geleentheid aangegryp. “In November 2017 het ek ‘n video ingestuur vir die Survivor South Africa oudisies en die produksiespan het daarna met my in verbinding getree. ‘n Paar ekstra keuringrondes het gevolg, wat onder meer mediese en sielkudige toetse ingesluit het,” vertel hy. Aangesien sy familie en vriende geweet het dat dit ‘n groot droom van hom was om deel te neem, het hulle hom ondersteun en was hulle saam met hom opgewonde. Volgens Werner is dit vir hom lekker om nou elke week self voor die kassie na die reeks te kyk. “Dis nogal vreemd om myself elke week op die televisie te sien en alles te herleef. Wat wel lekker is, is om uiteindelik die oomblikke op die eiland met geliefdes te deel. "Op die eiland hou ‘n mens baie goed vir jouself. Dit kan nogal alleen raak,” vertel hy oor die ervaring.
Bo: Die oud-Wellingtonner Werner Joubert, is weekliks in die Survivor SA-reeks te sien. Omdat die fisiese, sowel as die emosionele deel van die kompetisie baie veeleisend is, het Werner die uitdaging met ‘n plan aangepak. “Ek wou n harde game speel. Maar dis ’n game waarin mense se hart en emosies kan seerkry. Daarom het ek besluit om die game te speel, maar nie die man nie,” sê hy oor sy strategie. Dit het ook kophou gekos om al die struikelblokke tydens sy tyd in die kompetisie te oorkom. “Ek het baie gebid op die eiland en het hard daaraan gewerk om gedeeltes skrif vanuit die Bybel te memoriseer. "Ek sou elke dag die stukkies vir myself opsê. Ek het ook lekker gesels met die ander deelnemers, vis gevang en die natuur bewonder,” sê
Werner. Volgens hom het sy grootwordjare in Wellington hom beslis ‘n paar nuttige dinge geleer wat tydens die kompetisie in sy guns getel het. “In Wellington het ek geleer van val en opstaan. Ek het grootgeword in 'n wonderlike, nederige straatjie in Wellington saam met die Krynauws en die Du Toits. "As ‘n groep kinders het ons die veldjie afgebrand, slange en krappe gevang in die rivier, ons velle afgeval op ons fietse en heeltyd rugby en krieket gespeel. "My ouers het my toegelaat om te speel en deel te neem. Ek speel steeds!” lag hy. Die mense van Secunda, waar hy nou ‘n pastoor is, staan al die pad bankvas agter hom. “Ek is ‘n pastoor, maar was ook Secunda se rugbyspan-afrigter en ‘n speler vir vyf jaar. "Mense ken my as ’n pastoor, maar ook as ‘n sportman en ‘n man wat lief is vir buite die boks dink. So die mense was baie opgewonde en staan bankvas agter my,” sê hy oor die ondersteuning wat hy uit sy gemeenskap kry. Volgens Werner het hy baie lesse tydens die Survivor SA-reeks geleer. “Ek het baie tyd gehad vir introspeksie. Ek het geleer dat familie en vriende baie spesiaal is. Eers wanneer jy hulle nie het nie, dan besef jy dit. Verder het ek ook geleer dat mense baie gou kla en ondankbaar is, terwyl meeste van ons kos en klere het,” sê hy. Die reeks is reeds lankal klaar geskiet en Werner is sedertdien weer by sy hartsmense. Hy waardeer sy tyd saam met sy familie en fokus nou op sy gemeenskaps- en gesinslewe. “Ek en my vrou het ‘n dogtertjie aangeneem. Haar naam is Talitha en my fokus is nou om ’n pappa te wees vir my seun Kaeleb (4) en my dogter, Talitha (7 maande),” sê hy trots. Intussen mag hy nie ‘n woord rep oor die uitslag van die kompetisie nie en mense sal maar geduldig elke week se episode moet kyk om te sien hoe ver hierdie oud-Wellingtonner se vaardighede hom in die Survivor SA-reeks laat vorder.
NUUS • NEWS