474 dié courant weskus en bergrivier

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Weskus • Bergrivier

dié

20 Junie 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 474

20 Junie 2018

•BRITSE SAKEMAN BELÊ VERDER IN PORT OWEN

Miljoene vir nuwe brouery op Weskus VELDDRIF – Russell Foster, Britse sakeman, entrepreneur en eienaar van die gesogte Russel’s on the Port-restaurant en gastehuis in Port Owen, het op Woensdag 13 Junie ‘n tweede eetplek, dié keer ‘n mikrobrouery en restaurant, Charlie’s Brewhouse geopen. Mense van regoor die Weskus en die Kaap het die plek met die opening raserig volgepak en behoorlik gebruik gemaak van die aand se aanbod van gratis handvervaardigde biere en jenewer (Gin). Foster het tong-in-die-kies gesê dat die aanbod ook genoodsaak is, aangesien hulle op daardie tydstip nog nie hulle dranklisensie na ‘n groot gesukkel met rompslomp kon bekom nie en daarom nie drank kon verkoop nie. Teen saktyd het hulle steeds gesukkel om dit te bekom, maar gaste uitgenooi om daar te gaan eet en hul eie drank te bring, sonder om ‘n kurkfooi te betaal. Die multimiljoen rand se Charlie's Brewhouse het ‘n stadsgevoel met ou rolprentplakkate gemeng met industriële afwerking as dekor, maar kyk uit op die pragtige waters van Port Owen. Foster het bekendgemaak dat Charlie's Brewhouse eers ‘n verskeidenheid plaaslik vervaardigde handgemaakte bier gaan aanbied, maar sodra die brouery (agter die restaurant) begin produseer gaan hulle net hul eie handgemaakte bier verkoop. Dit gaan bestaan uit ‘n Amerikaanse Pale Ale (sterk Hopsmaak), ‘n Lager, ‘n Bourbon Stout (sterk, donker bier) en ‘n Blonde Ale. Foster beplan om ook ‘n distilleerdery oop te maak, maar tot dan word ingevoerde Poetic License-jenewer, wat in Sunderland in die noord-ooste van Engeland gemaak word, bedien. Daar sal ook ‘n wye verskeidenheid plaaslike wyne – rooi, wit, roos- en vonkelwyn asook sap, koeldrank en melkskommels verkoop word. Die bekende sjef David Walker, voorheen van die Taproom by die Devil's Peak Brewing Company in Kaapstad, het die spyskaart vir middagen aandetes ontwikkel. Dit is ‘n samesmelting van tradisionele Britse kroegvleis en plaaslike Weskusgeure.

Tydens die opening kon gaste ‘n voorsmakie kry van heerlike voorgeregte soos Weskusmossels in bier- en klappersous, biergarnale, verkoelde lynvis cevishe, beestartaar en gerookte stokvis-en-avokado bruschetta, om maar enkeles te noem. Die een was so smaaklik soos die ander. Werklik ‘n geursensasie, was die algemene mening. Vir die hoofgereg kan klante wat kom aansit en uitkyk op die water uitsien na geelbruin eisbein, 'n gesmeerde varkensbroodjie, tuisgemaakte worsies met romerige aartappels, bierblaardeeg vis en skyfies, asook gestoomde beesvleis-en-bier Britse “poeding” met blomkoolpuree. Slaaie sluit in ‘n hoender Caesar-slaai en 'n calamari-en-lensieslaai. Soettande kan uitsien na sjokolade-en-biernagereg, Eton-nagereg ('n rowwe mengsel van geklopte room, stukkies meringue en vrugte, tipies aarbeie), suurlemoen posset ('n koue nagereg van verdikte room, gegeur met suurlemoen) en bosbessiebiskotti. Vir kinders gaan hamburgers, vis en skyfies, varkworsies en kapokaartappel, asook biefstuk

Russel Foster open Charlie’s Brewhouse amptelik. en skyfies bedien word. Charlie’s Brewhouse is Maandag tot Sondag oop, van 12:00-22:00. Vir meer inligting: bel 022 783 0448, besoek www.charliesbrew.co.za of Facebook @charliesbrewhouse.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.