475 dié courant wellington

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

27 Junie 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 475

•BEKEND VIR OUTENTIEKE KOOKKUNS

27 Junie 2018

Wellington is ervare sjef se hartsplek

•Jaomi Zeeman John Tecklenburg het geen bekendstelling in die koswêreld nodig nie. Hierdie sjef is regoor ons land vir sy enigmatiese, outentieke kookkuns bekend en het al by talle van Suid-Afrika se voorste restaurante kosgemaak. Min Wellingtonners besef egter dat hierdie lang man met die baard, wat soms saam met hulle in ‘n winkelry beland, ‘n wêreldgehalte kok is en net hier onder ons neuse woon en werk. Volgens John is hy al vir 13 jaar lank op Wellington. Hy en Susanna, sy vrou en besigheidsvennoot, bestuur al vir meer as ‘n dekade die Oude Wellington Restaurant buite die dorp. Al het John se pad, sedert sy kennismaking met Wellington tydens sy kinderjare, al baie draaie gemaak, voel dit vir hom soos ‘n tuiskoms hier tussen die wingerde en berge. John, wat nie ‘n telefoon het nie, nie aan sosiale media deelneem of ‘n e-posadres het nie, se pretensielose, outentieke leefwyse word ook in sy kos weerspieël. Sy ryke ervaring in die koswêreld getuig ook van sy veelsydigheid as kok - iets wat hom oor baie jare baie gesog gemaak het. John se verbintenis met Wellington strek so ver as die sewentigerjare terug toe hy as skoolseun na flieks in die derde verdieping van die Concord-gebou (nou die Shoprite-gebou) gaan kyk het. Hy het ook by die destydse Kontiki Restaurant (waar Nikki Siebrits Juweliers nou is) gewerk. “My pa was in die tekstielbedryf en ek het in die Paarl skoolgegaan. Na skool het ek my opleiding as sjef by die Riempie Hotel in Oudtshoorn gekry,” vertel John. Hy het later ook die bekende La Poubelle Restaurant in Oudtshoorn begin. ‘n Ander bekende restaurant wat al onder John se fynproewershand gedy het, is die Chez Michelle Restaurant in Franschhoek.

“Daar was daardie jare nog net drie restaurante in Franschhoek. Waar Reuben’s nou is, was my huis,” vertel hy. John was ook die Group Executive Chef vir die Day Night Grills in Pretoria, sowel as die sjef vir die 147 Dorpstraat Restaurant in Stellenbosch. Die After Dark restaurant in Stellenbosch het ook onder sy bekwame hande gewild geword. 34 Napier Street in die Bo-Kaap en Dixies in Simonstad is nog twee van die gewilde restaurante waar mense agter John se disse aangestroom het. Hy het ook by die Elgro Hotel in Lichtenburg, Melville House, Die Bosveld Kombuis in Warmbad en Ngwako in Pietersburg kosgemaak en hy het tot onlangs aan die stuur van die Bar

Bar Black Sheep restaurant in Riebeeck Kasteel gestaan. Uit die aard van sy kleurvolle ervarings en wye werksondervinding het John al talle interessante karakters ontmoet en vir ontelbare bekende en glanspersoonlikhede kosgemaak. Hy is egter skugter om interessante detail rondom enige van die mense wat al by sy tafels aangesit het, te verklap. “Vir my is elke gas presies dieselfde en ek hanteer hulle ook almal dieselfde. Natuurlik ken ek baie stories oor kunstenaars, politici, uitvoerende bestuurders van groot maatskappye en akteurs, maar hulle is nie enigsins anders as al die ander mense vir wie ek ook al kosgemaak het en wie se stories ek ken nie,” sê hy. Vir John is kosmaak iets waaroor hy, na al die jare, nogsteeds passievol is. “Ek hou daarvan om elke dag iets anders te doen. Ek sou doodgaan in ‘n plek soos ‘n kantoor,” sê hy. Vir hom is dit lekker om kos van kokke of restaurante wat outentiek te werk gaan en goed is in dit wat hulle bedien, te eet. Hy hoop ook dat mense, veral in die Afrikaanse kultuurgemeenskap, meer waaghalsig in hul eetgewoontes sal raak. "Vir my is ek in die kombuis amper soos ‘n director op ‘n filmstel. Die hele storie wat afspeel, met die karakters wat daarin opdaag, kan deur my geregte beïnvloed of bepaal word. En dis fantasties,” sê hy. Oor die feit dat hy homself nou al vir meer as ‘n dekade op Wellington tuisgemaak het, trek hy sy skouers laggend op. “What’s not to like?” sê hy.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.