477 dié courant Wellington

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

11 Julie 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 477

11 Julie 2018

•'BEGIN BY JOUSELF. DIE LEWE SKULD JOU NIKS'

Danelene is 'n dromer en doener

•Jaomi Zeeman Danelene Ruiters is nie net ‘n dromer met groot idees nie, sy is ook ‘n doener wat woeker om haar drome vir landelike mense gestalte te laat neem. Hierdie plaasmeisie van Wellington is baie trots op haar landelike herkoms en het die afgelope week haar eie nie-winsgewende organisasie, Rural and Proud, geregistreer. Sy het groot planne om mense in landelike gebiede deur middel van hierdie organisasie te bemagtig. Danelene is ‘n suksesvolle landboukundige en werknemer van AMC Fruit SA. Sy het in 2016 as innovasie tegniese assistent by die maatskappy begin werk en is in 2017 as die tegniese betuurder van druiwe aangestel. Hierdie jaar is sy tot mark-toegansbestuurder bevorder. Sy is ook ‘n trustee van hierdie internasionale maatskappy se nie-winsgewende been, Muñoz Foundation. Danelene is ‘n boorling van die plaas Desperado buite Wellington en het haar skoolloopbaan aan Pauw Gedenk, Wellington Primêr en Bergrivier Hoërskool voltooi. Sy het in 2010 haar BA-graad in plantproduksie aan Elsenburg verwerf en werk sedertdien in die landbousektor. Hierdie klein mensie het egter ‘n groot hart en gebruik haar kundigheid, kennis van landbou en haar liefde vir mense om ‘n verskil in veral landelike mense se lewens te maak. Die stigting van haar Rural and Proud-organisasie was vir haar dus ‘n logiese uitvloeisel en samekoms van al haar passies. “Ek wil die hulpbronne en kennis tot my beskikking gebruik om ‘n ommeswaai in die manier waarop die samelewing na plaaswerkers kyk, te weeg te bring, maar ook die beperkende ideale wat hierdie mense vir hulself stel, met ‘n groter visie te vervang,” sê sy. Alhoewel sy deur middel van haar werk as trustee van die Muñoz Foundation die geleentheid kry om in landelike gemeenskappe terug te ploeg, fokus hierdie organisasie meestal op die plase wat aan hulle vrugte verskaf. “Daar is soveel ander plase waar mense ook hulp nodig het. Met Rural and Proud sal ek die geleentheid hê om soveel meer mense te bereik,” verduidelik sy. Sy gaan Rural and Proud saam met twee ander direkteure bedryf. Hulle is ook altwee oorspronklik van landelike gebiede en verstaan die omstandighede en dinamiek van plaaswerkers.

Volgens Danelene sê die naam van haar nuwe organisasie presies wat dit is. “Dit definieer wie ek is. Dit is deel van my erfe-

nis, want my voorgeslagte was almal huishulpe of plaaswerkers. Ek voel ‘n mens moet aanvaar en erken waarvandaan jy kom en trots wees daarop, maar dit hoef nie noodwendig te bepaal waarheen jy op pad is nie. Ek sou nooit ‘n ander herkoms wou hê nie. My lewe as plaasmeisie het my gemaak wie ek vandag is,” sê sy trots en sonder ‘n sweempie bitterheid. Met Rural and Proud wil Danelene mense in landelike gebiede bemagtig en inlig. “Mense op plase is dikwels oningelig en weet nie wat in die wêreld rondom hulle aangaan of wat die moontlikhede buite hul verwysingsraamwerk is nie. Ek wil hulle bewus maak van wat aangaan, hulle bemagtig en toerus om te leer. Ek wil hê veral die jongmense moet ophou met hul ‘lazy mindset’ en hul denkwyse skuif na iets meer positief en proaktief. Hulle moet weet hulle kán ‘n waardevolle lewe lei. Hulle moet hulself afvra: Waarheen is ek op pad?” sê sy oor haar visie vir hierdie nuwe inisiatief. Volgens Danelene is daar baie uitdagings in die

lewens van mense in landelike gebiede. “Dit waaraan hulle van kleins af blootgestel word, word hul verwysingsraamwerk. Alkoholmisbruik en om skuld te hê is doodnormale dinge op plase. As ‘n mens hierdie negatiewe siklus met die verskuiwing van hul denke kan verander, kan jy die lae selfbeeld en selfwaarde wat hierdie mense het, aanspreek. Mense moet weet hulle het een van twee keuses: Jy kan toelaat dat jou omstandighede en herkoms jou definieer en daarin vasgevang raak, of jy kan dit omarm en as motivering gebruik om iets beter te wil hê,” laat sy passievol hoor. Danelene is nog jonk, sy is klein en ‘n vrou. Hoe laat sy haarself geld en watter raad sal sy aan jongmense met groot drome gee om ook suksesvol te wees? “Begin by jouself. Die lewe skuld jou niks. Jy moet jouself laat geld deur hard te werk. Opvoeding is die belangrikste ding waarmee jy jou kan bemagtig. Introspeksie kan jou jou goeie en slegte eienskappe laat raaksien en ken, sodat jy weet waaraan jy kan werk. As jy jou waarde ken, sal dit soveel moeiliker vir dinge en mense wees om jou onder te kry,” sê sy. “Onthou, sukses diskrimineer glad nie. Moet nooit die beeld wat ander van jou het, aantrek nie,” voeg sy by. Danelene se planne ken geen einde nie en sy is reeds besig om die eerste projekte van Rural and Proud te organiseer. Haar beplanning vir ‘n vrouedag-funksie, sowel as ‘n funksie vir mans, is reeds ver gevorder. Sy wil ook ‘n behoorlike bekendstellingsgeleentheid vir Rural and Proud hou. Danelene is verder besig om bande met plaaslike landelike skole te smee en beplan ook ‘n “library on wheels” waarmee sy hierdie skole wil bedien. Sy beplan voorts om ‘n program waarmee sy mense in landelike gebiede meer oor goeie finansiële bestuur en die waarde van spaar van stapel te stuur. “Ek wil ook met die boere saamwerk en hoërskoolkinders meer blootstelling aan beroepsvoorligting en dinge soos die aansoek om ‘n ID en die saamstel van ‘n CV gee,” vertel sy. Dit lyk asof alles waaraan Danelene raak, in iets goeds verander - heel waarskynlik as gevolg van haar positiewe lewensbeskouing. “My geloof is my fondasie. Ek kyk altyd na varkblomme en dink: hulle staan met hul voete in die modder, maar hulle het reguit, regop stele en die mooiste kelke. Ons mense kan ook so wees,” sê sy.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.