478 dié courant Swartland

Page 1

c urant

• Bergrivier 1Swartland Swartland

dié

18 Julie 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 478

18 Julie 2018

•FAMILIEBESIGHEID IN 1910 HIER GEVESTIG

Groente-reus se sagte stem nou stil

•Charlotte Lesch Vir ‘n stil man wat ‘n gawe gehad het om na ander te luister, was Razaak Allie (72) ‘n reus met ‘n goue hart in die gemeenskap van Malmesbury. Sy vrou Gadija, ses kinders en 11 kleinkinders, het die wêreld vir hom beteken en hý het die wêreld vir hulle beteken. Razaak is op die ouderdom van 72 ná ‘n lang siekbed oorlede. In ‘n volgepakte intensiewe sorgeenheid deur familielede, het hy op 4 Junie 2018 sy laaste asem uitgeblaas. Razaak was die jongste van 12 kinders. Sy pa, wat in 1901 vanuit Indië in Kaapstad aangekom het, is dood toe Razaak twee jaar oud was. Sy ma is ook oorlede toe hy nog jonk was. Sy sibbe het hulle oor hom ontferm. Hy was geliefd deur elkeen. Hy was ook nie veel ouer as van sy jongste broers en susters se kinders nie. Hy het een van hulle selfs gesien as sy eie broer. Met net een suster oor wat tot sy dood toe by hom was, was Razaak die laaste van die vyf Allie-broers betrokke by die bekende groente- en vrugtemaatskappy, Allie Bros. Die familiebesigheid wat deur sy pa, Ismail Allie begin is, het sedert 1910 in Vootrekkerweg vanuit ‘n klein kafee, waar Malmesbury Fisheries vandag is, sake gedoen. Ismail het op die ouderdom van 16 in die land aangekom en op die Swartland verlief geraak. Hy het vir 'n ruk teruggekeer na Indië. Sy pa het na 'n paar jaar teruggekeer en homself en sy gesin op Malmesbury gevestig. Die gebou vanwaar handel gedryf is, was ideaal met sy koelkamers. Jare later beweeg Allie Bros na St. Johnstraat met Razaak as die jongste en Achmat, die oudste. Elkeen van die broers het deur die jare goeie verhoudinge met die plaaslike boere gebou, maar ook met dié in die sandveld, waar hulle aartappels gaan oes het, tot in die Koue Bokkeveld. “As die een trok op pad terug was met ‘n vrag groente, was die volgende een reeds op pad,” vertel Gadija met groot verwondering. Die broers het hard gewerk, maar ook hul passie vir die bedryf en sy kliënte uitgeleef. Weens die destydse Apartheidswetgewing, moes dié besigheid na Wesbank verhuis. Nie lank daarna nie, het die besigheid gevou. Die afstand van hul grootste en getroue kliëntebasis was net te groot en het die besigheid 'n kwaai knou toegedien. Razaak kon eenvoudig net nie afstand doen van die vrugte- en groentebedryf nie. Dit was waarvoor hy lief was. Dit was sy lewe. Hy begin toe om vanaf sy bakkie vrugte en groente te smous. Dít het hy vir byna 15 jaar gedoen. Almal het hom geken waar hy van een

Rooi duiwel stoom voort Dié rooi lokomotief wat Vrydag deur die Swartland voortgestoom het op haar eerste naweektoer in meer as 15 jaar, is die enigste prototipe in die wêreld. Die klas 26 4-8-4 lokomotief (no. 3450) is in die laat sewentigs in Soutrivier onder ingenieur David Wardale omgebou van die oorspronklike klas 25 NC-lokomotief wat in 1953 as nommer 28769 deur Henschel & Sohn in Duitsland gebou is. Ná die ombouing was die lokomotief, wat toe Red Devil gedoop is, baie sterker en baie meer ekonomies as voorheen. Met die nuwe gasverbrandingstelsel is kraglewering van die oorspronklike 1980kW by 80km/h tot 'n allemintige 2870kW verhoog. Haar hoogste kraglewering wat gemeet is, was 3350kW. Dit het die Red Devil bitter sterk gemaak, soveel so dat sy maklik kon gly ("spin") omdat sy eintlik te lig was vir die krag. Wardale het destyds gesê hulle kon weens die spoedbeperkings op ons spoorlyne nie haar topsnelheid meet nie, maar hy het geglo sy sou gemaklik teen 160km/h kon ry. Met die ombouing was sy ook baie meer ekonomies op brandstof en, afhangend van die spoed, kon sy met tussen 30 en 60% minder steenkool loop. Ook het sy 20% minder water benodig. Omdat dit in die era was toe stoomtreine uitgefasseer is, is daar nie voortgegaan met die ontwikkeling van die prototipe nie. Die Red Devil is onlangs in Worcester gerestoureer nadat dit vir meer as 14 jaar in onbruik was. Die naweektoer na Robertson is deur die Ceres Rail-maatskappy aangebied. - Foto: Johan Viljoen

kliënt na ‘n ander met sy bakkie beweeg. Razaak het nie sommer kwaad geword nie. In Januarie vanjaar het hy nog druiwe gaan pluk by die Vlok-familie op Riebeek-Kasteel, ongeag die feit dat hy Desember ‘n operasie ondergaan het. “Sy kinders het hom gesoebat om dit rustig te vat, maar dit was sy lewe.” Hy was ‘n rustige siel, vertel sy vrou. Een ding wat hom wel gegrief het, was mense wat vrugte op die rakke gevoel en gedruk het. “Hy het niks daarvan gehou nie. Daar was ‘n manier hoe jy toets of ‘n avokadopeer reg is.” Nie almal het tot sy ontsteltenis van daardie reël kennis gedra nie. Nie net sal hy onthou word as ‘n sterk familieman wat hegte bande met elkeen gehad het nie,

maar sy verhouding met veral die boeregemeenskap en kliënte waarmee hy byna daagliks te doen gehad het, word tot vandag toe gekoester. Volgens sy familie was hy ‘n wonderlike man, pa en oupa. Sy verhouding met sy kleinkinders was ook besonders, vertel Gadija. Nanna, wat oupa in Indië beteken, was veral lief daarvoor om kaart te speel met hulle. Hy het hulle gefnuik tot die oudste kleindogter te slim geraak het vir haar oupa. Hy het altyd gesorg vir die beste mango's en waatlemoene wat die kleinkinders gewoonlik op die agterkant van sy bakkie geëet het. Hulle kon daar mors net soveel soos hulle wou, verduidelik sy. Razaak, was rustig, hy het geluister en raad gegee wanneer hy kon. "Hy sal gemis word, maar nooit vergeet word nie."

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.