c urant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
18 Julie 2018
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 478
18 Julie 2018
•ROEI STORM LOS IN INTERNASIONALE KOMPETISIE
Bartho jongste ooit op Berg-podium Die plaaslike 17-jarige skoolseun, Bartho Visser, het geskiedenis gemaak by die onlangse Bergrivier Kanomarathon. Bartho, ‘n graad 11-leerder aan Hugenote Hoërskool, en sy spanmaat het uitstekend presteer deur ‘n algehele derde plek in dié prestige kano-wedvaart te behaal. Met hierdie prestasie word hy ook die eerste junior en die jongste deelnemer in die geskiedenis van die Bergrivier Kanomarathon om op die podium te verskyn. Die formaat van die wedvaart het hierdie jaar verander en dit was die eerste keer dat die marathon in spanne aangedurf is. Vir Bartho het dit aanvanklik probleme ingehou, omdat dit moeilik was om ‘n junior roeier te kry wat saam met hom in ‘n span kon roei. Om hierdie rede het hy dit selfs in ‘n stadium oorweeg om glad nie hierdie jaar aan die Bergrivier kano-wedvaart deel te neem nie. “Die nuwe formaat het die hele dinamika van die Berg verander. Dit was moeilik om ‘n junior te kry wat dieselfde spoed en sterkte as ek was en wat bereid was om die 4 dae aan te pak. Jy kry ook nie altyd seniors wat bereid is om saam met n junior te roei nie. Indien jy enkel deelneem, sou dit beteken dat jy elke dag heel agter sou wegspring,” vertel hy. Gelukkig het hy later uitgevind dat die 32-jarige Gavin White van Century City Canoe Klub nog nie ‘n spanmaat het nie en hom gekontak. “Gavin het dadelik ingestem. Ons het mekaar al by wedvaarte raakgeloop, maar het nog nooit saam geoefen nie. Gavin het ook eers twee weke voor die Berg besluit om deel te neem, aangesien sy pa ‘n operasie sou ondergaan. Hy het nie baie kans gehad om te oefen nie, maar ken gelukkig die rivier goed aangesien hy voorheen vyf Berge voltooi het. Hy het nog nooit die geleentheid gekry om op die podium te kom nie,” sê Bartho. “Wanneer ek ekstra tyd gehad het, het ek probeer om saam met Chrisjan Coetzee te oefen. Die tye wat daar min water was, het ek gaan surfski en daar aan ’n paar wedvaarte deelgeneem. Surfski het weer ander tegnieke, maar dit maak jou baie sterk en jy is altyd gewaarborg van genoeg water. Die see droog nooit op nie,” lag Bartho. Hy het ook soveel as moontlik tyd saam met gesoute roeiers op die rivier spandeer. “So word baie verhoudings gebou. Die rivier bly gevaarlik en daarom moet ‘n mens soveel as moontlik probeer leer en mekaar help,” sê Bartho. Buiten die feit dat hy gelukkig genoeg was om Gavin as ‘n spanmaat te kry, het hulle boonop ‘n borg gekry wat hul inskrywing betaal het. “Die inskrywing is op die oomblik baie duur. Dit is ook een van die redes waarom daar roeiers
is wat nie inskryf nie. Borge help baie om sport lewendig te hou,” sê Bartho dankbaar. “Ons het in die eerste skof baie foute gemaak, maar kon gelukkig die ander roeiers inhaal. Ons was die eerste en tweede dag net ‘n paar sekondes voor die span wat ook vir ‘n posisie op die podium gewerk het. Die lang skof van 75 km op die derde dag, maak dit moeilik om tyd te wen. Ek het boonop daardie oggend met maagkrampe opgestaan en glad nie lekker gevoel nie,” vertel hy. “Ek het geweet ons het omtrent 20 km om hul in te haal om ‘n voorsrpong te kry en daarom het ek alles ingesit. Ek het vir 15km my spaanmaat in my slip laat roei om hul in te haal. Toe dit begin moeilik raak, het ek net begin sing! Ons het uiteindelik daarin geslaag om hul in te haal en ons kon ons derde posisie behou met ‘n voorsprong van 1.30 minute. Dit het gemaak dat ons minder druk op dag vier gehad het,” vertel hy oor die moeilike derde skof. Tydens so ‘n uitmergelende marathon is dit baie belangrik om na elke skof te rus en vir die volgende dag te herlaai. Volgens Bartho het hy hierdie les verlede jaar op die harde manier geleer. “Dis baie belangrik om jou liggaam op te bou en gesond te eet gedurende die wedvaart. ‘n Groot fout wat ek verlede jaar gemaak het, was om nie
tydens die wedvaart genoeg in te neem nie. Ek het gesorg dat ek genoeg elektroliete tydens die wedvaart inneem en saans genoeg proteïene eet. Aartappels en jellybeans het my op dag drie gered!” lag hy. Alhoewel Bartho en Gavin voor die wedvaart geen drome van ‘n plek op die podium gekoester het nie, het hul ná die eerste skof besef dat dit dalk moontlik is. “Ons het saam besluit om hard te werk, dit net te geniet en so min as moontlik foute te maak. Gavin het in ‘n grap gesê dat ons vir die top vyf moet mik. Na die eerste skof het ons ons mikpunte ‘n bietjie hoër gestel,” vertel Bartho. “Ek was baie emosioneel omdat dit nog altyd ‘n groot droom was. Ek het baie hard gewerk daarvoor. Ek is die eerste junior en jongste persoon wat nog ooit op die Bergrivier Marathon se podium geklim het en dis vir my ‘n groot eer om dit saam met Gavin te kon doen. Dis vir my belangrik dat ‘n mens dit altyd moet geniet, maak nie saak of jy eerste of laaste is nie. Om die Berg te kan voltooi, is vir almal ‘n groot prestasie,” sê Bartho dankbaar. Intussen is hierdie nederige jong man ‘n gewone, gebalanseerde skoolseun wat aan skoolsport deelneem, ernstig is oor sy skoolwerk en selfs ‘n voordanser in Hugenote se onlangse produksie van Grease was.
NUUS • NEWS