480 dié courant Wellington

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

1 Augustus 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 480

1 Augustus 2018

•MA DEUR EIE SEUNS GEÏNSPIREER TOT WELDAAD

Deur van Lewe gee babas tweede kans •Jaomi Zeeman Weggooi-babas sal binnekort ‘n veilige heenkome in Wellington hê wanneer die Door of Life, waar mammas ongewenste babas kan los, geopen word. Die Wellingtonner Marlet Meadon is die dryfveer agter hierdie projek en sy werk kliphard sodat hierdie inisiatief eersdaags van stapel gestuur kan word. Die 25-jarige Marlet is die ma van twee seuntjies en sy en haar gesin woon al ongeveer 6 jaar op ‘n plaas buite Wellington. Volgens Marlet kan sy en haar man hul liefde vir alle lewende dinge hier ten volle uitleef. “Ons is vreeslik lief vir diere en ek sou sê dis ook waar ons inneem- en aanneem-geaardhede seker vandaan kom. Ons neem graag diere aan en trek nou al by 14 honde!” lag sy. “Ons is lief daarvoor om by te dra tot gemeenskapsprojekte en ek dink dit is ook deel van die rede hoekom ons besluit het om iets groter vir ons gemeenskap te doen,” vertel Marlet oor die motivering vir die Door of Life inisiatief. Sy het die afgelope twee jaar as ‘n kantoorbestuurder gewerk, maar gaan dit binnekort verruil om haar droom om ‘n Graad R-onderwyseres te wees, te bewaarheid. “Ek studeer tans deur die pos en gaan nou voltyds hieraan aandag gee, asook om die Door of Life projek te bevorder,” sê sy. Maret se gedrewenheid om kinders te help, spruit uit ‘n eie ondervinding wat haar lewe handomkeer verander het. “Ek het ‘n week na my 20ste verjaardag uitgevind ek is swanger met my eerste seuntjie. "Dit was onbepland, ek was ongetroud en met geen kennis van kinders nie. Ek kan 'relate' met jong ma’s wat totaal en al geskok en onseker is van hul toekoms sodra hul uitvind hulle is swanger en dit is onbeplan. "Daar is soveel dinge wat bydra tot die besluitneming om jou kind te 'dump' of weg te gee, maar ek weet ek kan die meisies en vrouens se persoonlike besluite verstaan sónder om te oordeel, omdat ek self daardeur is. Ek het twee pragtige seuns wat my lewe so kom verander het en hulle het my liefde vir kinders laat 'spark'. Elke kind verdien die kans op lewe,`n liefdevolle gesin en `n blink toekoms,” sê sy. Marlet kan egter nie die Door of Life-projek sonder die samewerking van talle ander plaaslike instansies bedryf of op die been bring nie. Sy werk saam met NorSA Community Care, asook Procare. Dié organisasies behartig die tydelike plek van veiligheid vir die babas en die langtermyn-plasings. Die Baby Safe Organisation bied die fisiese boks en

die netwerk wat dit moontlik maak om so ‘n inisiatief volgens die regte kanale te bestuur. Die Door of Life-houer sal uiteindelik op die hoek van Mellingstraat geplaas word. “Dit sal op die skoolgronde van die Pauw Gedenk Primêre Skool, regoor die minibus-staanplek, geplaas word. Ons mik dat ons boks teen einde Augustus, begin September aktief sal wees. Dit sal 24/7 oop wees, met geen kameras en altyd anoniem bedryf word. Ons sal die dag van installasie aankondig,” sê Marlet. Volgens haar sal die boks deur die draad van die skool se perseel na buite kan oopmaak. Die mamma kan dan die baba binne die boks plaas. “Sodra sy die deurtjie toemaak, sal die boks outomaties sluit. Die mamma sal altyd anoniem bly en die boks is altyd oop vir gebruik. Ons gaan ook sorg dat daar `n instruksiebord is en dat die boks duidelik gemerk is. Ek, my man of ons ander lede sal binne minute by die boks wees as ons `n aanduiding op ons fone kry dat daar moontlik `n baba is. Die boks werk met `n sensor. `n Ambulans, asook sekuriteitspersoon sal ontbied word sodat die baba geëvaluuer kan word en dan hospitaal toe geneem kan word,” verduidelik Marlet. ‘n Maatskaplike werker van NorSA sal van hier af die proses verder voer. Marlet en haar man is ook verplig om gekwalifiseerd te wees om basiese noodhulp op ‘n baba te kan toepas indien daar hulp sou nodig wees totdat ‘n ambulans opdaag. Volgens Marlet maak die sensitiwiteit van die projek dat hulle voor talle uitdagings te staan kom. “Daar is hope mense wat opinies lewer en nie

huiwer om negatief eerder as positief te wees nie. Maar ons verstaan elkeen het die reg tot sy opinie en respekteer dit. Ons het al gehoor dat ons seksuele gedrag aanmoedig en `n maklike manier skep vir ma`s om net `weg te kom` met hul dade. Ons redeneer liewer dat so `n lewe onskuldig is en dat ons eerder wil sien dat `n ma haar baba in veiligheid plaas as om die baba in `n drom te gooi, te vermoor of in die toilet af te spoel. Ons probeer altyd mense motiveer om te sien dat die baba steeds God se skepping is, ongeag die moeder se optrede. Finansieel het ons natuurlik ook struikelblokke, maar ons het `n hele paar helpende hande waarvoor ons so dankbaar is en ons spaar maar soos ons vorentoe beweeg met die projek. Dit was `n lang proses, maar ons is baie gelukkig om nou hier te wees,” sê sy. Op die oomblik is hul nommer een behoefte dat die nuus oor die baba-boks in die gemeenskap versprei sal word. As mense daarvan weet, sal hulle weet waarheen om te gaan as hulp benodig word. Op hul facbook-blad, Door of Life Baby Saver, is meer inligting oor die projek en ‘n PDF-dokument kan aangevra word wat mense sal toelaat om plakkate en pamflette hieroor te druk en te versprei. Volgens Marlet is skenkings van tweedehandse klere en kombersies, sowel as ‘n klompie gebede vir die projek, ook welkom. “My groot inspirasie is my seuns. As ek nie my oudste seun so jonk gehad het nie, sou ek seker nooit so na ‘n kind gekyk het nie. Ek weet êrens is daar ouers vir hierdie babas wat ook presies dieselfde oor hulle gaan voel,” sê Marlet.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.