c urant
dié
• Bergrivier 1Swartland Swartland
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
8 Augustus 2018
59.4%
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 481
•OUTEUR VAN TALLE BOEIENDE VERHALE
8 Augustus 2018
Skrywer vind tuiste in die Swartland •Charlotte Lesch As kind het Elani Venter saans in die gang afgesluip om haar ouers se Stephen King-boeke uit hul boekrak te gaps. Vandag is sy die skrywer van haar eie reeks boeke waarvan die nuutste een, Een onlangs op die winkelrak verskyn het. Een, ‘n aksiebelaaide spioenasiereeks, is die eerste van vyf boeke in die Nini-reeks. Venter wat saam met haar man en drie kinders op Malmesbury bly, het aanvanklik in Gauteng grootgeword voor sy saam met haar ouers op die ouderdom van 16 na Lambertsbaai verhuis het. Venter is nie net goed met woorde nie, maar ook met syfers. Sy het ná skool deur Unisa studeer, terwyl sy as ‘n finansiële klerk by ‘n rekenmeesters-firma in Malmesbury gewerk het. Nou is sy assistent-rekenmeester, terwyl sy in die aande en oor naweke tyd maak om te skryf. Haar talent as skrywer het reeds op skool begin kop uitsteek. “In gr. 12 het my Afrikaanse onderwyser, meneer Visser een van my kortverhale hardop in die klas gelees,” vertel sy. Dit was die oomblik waar sy besef het haar skryfwerk het potensiaal. “My familie het my nog altyd ondersteun, maar mens voel altyd half asof hulle verplig voel om mooi dinge te sê oor die goed wat jy skryf. Toe meneer Visser beïndruk was met my stories, het dit vir my die selfvertroue gegee om regtig te begin skryf vir die publiek.” Venter het ná skool begin om vir webtuistes artikels te skryf en het ook van haar kort stories en gedigte op die Facebook-blad ‘Praat Afrikaans’ geplaas. Die terugvoering was besonders positief wat haar laat besluit het om een van haar verhale vir Human & Rosseau publiseerders te stuur. Sy is gevra om haar kortverhaal, ‘Hart van Swart’ in te skryf vir hul ‘Nuwe Stories’-kompetisie net om later daardie jaar in die ‘Nuwe Stories 2013’ kortverhaal-bundel gepubliseer te word. In 2014 is twee van haar kortverhale in die volgende ‘Nuwe Stories 2014’-bundel gepubliseer, waarvan ‘Lettie se verlies’ die opvolgprys van die kompetisie gewen het, en ook oor die radio uitgesaai is. ‘n Tyd ná dit het Anna Emm (skrywer en uitgewer) Venter gekontak om vir haar ‘n kinderboek
te skryf. Tot op hede het sy twee kinderboeke en ‘n reeks van vyf tienerboeke (Nini-reeks) vir Anna geskryf, naamlik Deur die digitale orbis en Kaptein Ressiv en die Nini-tienerreeks wat uit vyf boeke bestaan. ‘n Paar van haar kortverhale is ook op Litnet se webblad én in die nuwe KOOS-tydskrif gepubliseer, vertel sy. Sy het tot dusver kinder- en tienerboeke vir Anna geskryf, terwyl haar kortverhale op volwassenes gemik is. “Ek geniet dit om vir die jonger generasie te skryf, maar weet ook dat ek iewers in die toekoms boeke vir volwassenes wil aanpak,” voeg sy by. Een gaan oor ‘n jong spioen wat haarself moet
bewys in ‘n veld van baie ervare elite-spioene. In boek Een is Nini ‘n “undercover” leerder in Hoërskool Vuurkloof. Die skool bied ‘n kuns-uitstalling aan waar daar van die Louvre-Museum se kuns uitgestal gaan word. ‘n Berigte Franse kuns-dief het onlangs uit die tronk ontsnap, en gaan vermoedelik probeer om die kunswerke van die Vuurkloof-uitstalling te steel. Dis Nini se werk om te keer dat die dief die kuns steel. Sy vertel dat die boek baie ‘modern’ geskryf is. Daar is Engelse karakters daarin, en die kinders meng hul taal soos dit in die regte lewe gebeur. Sy is klaar besig om aan die sinopsis van ‘n volgende reeks te werk. Venter leef haar behoorlik in haar skryfwerk in wanneer sy met ‘n boek afskop, verduidelik sy. “Ek begin heel eerste met ‘n sinopsis van so 3000 woorde van die verhaal wat ek wil skryf. Soos die geraamte van die storie. Dan skryf ek ‘n in-diepte beskrywing van my hoofkarakters om hulle beter te leer ken. Wanneer ek gemaklik genoeg voel met my hoofkarakters begin ek te skryf. Die storie verander áltyd wanneer ek eers aan die skryf is, so ek spandeer so min as moontlik tyd aan my sinopsis en soveel as moontlik tyd om eerder die karakters se binnekante te probeer verstaan.” Sy skryf die lekkerste wanneer alles stil en rustig is, afgesien van waar sy haarself vind. Met drie kinders is dit nie altyd moontlik nie, maar ongeag ‘n voltydse loopbaan en drie woelwaters, maak sy tyd daarvoor. “In die aande wanneer my kinders gebad- en in die bed is, gaan sit ek voor my rekenaar om te skryf. Ek luister altyd rustige klassieke musiek of musiek waar die see se golwe in die agtergrond rol terwyl ek skryf, sodat ek myself heeltemal kan afsluit, en die storie uit kan vloei.” Een kos R140 en is beskikbaar in die Anna Emm boekwinkel in Tygervallei, asook deur landwye agente. Malmesbury se agent is Helene De Clercq (082 826 1002) waar die boek bestel kan word. Besoek ook gerus www.annaemm.co.za, of die Anna Emm Uitgewer Facebook-blad vir meer inligting, en ‘n volledige lys van agente reg oor die land.
NUUS • NEWS