courant
• Bergrivier 1Swartland Weskus • Bergrivier
dié
8 Augustus 2018
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 481
8 Augustus 2018
•BEELDBLIND MET SLEGS 10% SIG NA SIEKTE
Prillie se dae bestaan uit stap •Madi Pieterse Vir die mense van St Helenabaai wat sy storie ken, is Prillie Christians `n voortdurende inspirasie. Vir die wat hom langs die pad sien en nie sy storie ken nie: diesulkes mis uit. En die van ander plekke af: julle sal bevoorreg voel om te kan sê dat julle die man met die waentjie se storie ken. Behalwe wanneer die weer baie sleg is, sal die 58-jarige Prillie nie sommer `n dag afvat nie. Sy dae bestaan uit stap. En om `n pasgemaakte waentjie te sleep. En om te herwin, want dit is hoe hy hom en Lena Swartz, sy lewensmaat, se ongeskiktheidspensioen aanvul. Prillie is beeldblind en het slegs sowat 10% sig. TB-meningitis as kind het dit veroorsaak. Lena is heeltemal blind. Gebore op Stompneusbaai, vloei Weskusbloed sterk deur sy are. Op 10-jarige ouderdom moes hy noodgedwonge Bellville-Suid toe, na die Athlone Skool vir Blindes. Prillie het skoolgegaan tot standerd 9. Alhoewel hy altyd die droom gekoester het om verder te studeer, het destydse wetgewing nie voorsiening gemaak vir bruin gesiggestremde om universiteit toe te gaan nie. Hy bly toe vir die volgende 15 jaar aan as arbeider by die sentrum waar gesiggestremdes as ambagsmanne opgelei word. Tot vandag toe is hy dankbaar dat hulle baie goed voorberei is op die lewe wat op hulle wag die dag wanneer hulle by die skool se hekke uitstap, waarvan die belangrikste is as jy niks doen nie, jy niks moet verwag nie. “Ek het geen reg om voor jou deur te kom staan vir `n stukkie kos nie, of ek gestrem is of nie. Ek glo aan wat die Bybel sê: God help die wat homself help. As jy jouself nie wil help nie, moenie verwag dat iemand anders dit moet doen nie, behalwe natuurlik in uitsonderlike gevalle waar mense regtig niks vir hulleself kan doen nie.” Waar het dinge skeefgeloop, volgens Prillie? “Toe beloftes deur die regering gemaak is dat hulle na ons gaan kyk, hulle gaan dit en daai gee. Van skooltyd af het ek vir myself gesê dat dit nie die hanger is waaraan ek gaan hang nie. Demokrasie het vir my vryheid gegee, maar hand-aan-hand daarmee loop verantwoordelikheid. My verantwoordelikheid is om enige talent wat ek het te gebruik.”
Prillie Christians, `n bekende gesig op St Helenabaai, by sy pasgemaakte waentjie waarmee hy herwinning doen. In 1996 begin Prillie sy droom vir verdere studie verwesenlik en skryf in vir 'n buitemuurse kursus as arbeidskonsultant. In 1997/98 skryf hy by die Universiteit Wes-Kaapland in om sosiale regte te studeer, wat gemeenskapsontwikkeling (hoe om omstandighede binne arm gemeenskappe ten opsigte van werkskepping en opheffing te hanteer) ingesluit het. Hy het sy kwalifikasie as gemeenskapsontwikkelaar en arbeidskonsultant verwerf. Nadat hy in 1998 sy werk as arbeider bedank het, het Prillie `n eie praktyk oopgemaak waar hy na arbeidsake omgesien en ook die Elsiesrivier Munisipaliteit adviseer het in hierdie veld. Omdat Prillie baie werk vir mindergegoedes gedoen het, kon hy nie volhou met die praktyk nie en na vyf jaar is die deure gesluit. In 2008 “keer hy terug huis toe”, St Helenabaai toe. Die werk binne sy gemeenskap het voortgegaan. Ongelukkig het dit nie kos op die tafel gesit nie en hy moes noodgedwonge na ander moontlikhede kyk. Hy het die leemte in die mark van herwinning raakgesien en kort voor lank het hy “in asblikke begin rondkrap” om herwinbare materiaal, hoofsaaklik glas, bymekaar te maak. Hy het ook by drinkplekke in die omgewing `n draai gemaak en is sedertdien
die amptelike glasherwinnaar in die omgewing. Die geld daarvoor is min, maar omdat glas baie weeg verdien hy `n redelike inkomste daaruit om vir hom en sy gesin te sorg (Prillie en Lena het `n seun). Sowat sewe maande gelede het daar `n nuwe maatskappy van Velddrif begin wat die herwinbare materiaal by Prillie se huis afhaal en hy herwin nou ook plastiek. Die waentjie wat hy tans gebruik is al sy tweede een en hy en Lena is baie dank verskuldig aan oom Bossie wat die waentjie onderhou. Welwillendes laai ook baiekeer herwinbare materiaal asook ander gebruiksgoedere soos klere en linne by die Christians se huis af. Die twee kan nie genoeg dankie se hiervoor asook vir finansiële bydraes nie. Goed wat hulle nie self kan gebruik nie word in die gemeenskap versprei. Behoefte in die gemeenskap is ook altyd voorop in hulle gedagtes. So het hulle al `n fiets aan iemand geskenk asook sonpanele laat opsit by `n gebou waar daar geen krag was nie. “Aan elkeen wat belangstel in wat ek doen en my groet langs die pad met `n handwuif of `n toet, sê ek dankie. Dit is julle wat my op die pad hou.” Prillie kan gekontak word by 078 740 3288.
NUUS • NEWS