483 dié courant Wellington

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

22 Augustus 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 483

22 Augustus 2018

•OLIVIA DU PLESSIS SE ENERGIE TASBAAR

Fiksheidsghoeroe skiet uit •Jaomi Zeeman Olivia du Plessis is ‘n bondel energie. Dit is hierdie aansteeklike eienskap wat haar in die fiksheidsbedryf laat beland het en waarin sy nou behoorlik uitblink. Hierdie Wellingtonner het die laaste paar jaar van ‘n lewendige jong meisie tot ‘n krag in die fiksheidsbedryf en ‘n bedrewe besigheidsvrou gegroei. Olivia het haar laerskoolloopbaan aan Newton Primêr en haar hoërskoolloopbaan aan Hugenote Hoërskool voltooi. Volgens haar was sy van kleins af al lief vir sport. “Ek het van graad 1 af netbal gespeel en dit het my deur die skool gekry. Ek het nooit baie van skool gehou nie. Ek was nie baie goed nie en het C-span gespeel, maar ek was nog altyd mal daaroor om aktief te wees en is baie lief vir die game. Ons is ‘n baie hegte gesin en ek en my ma speel nog af en toe saam action netball,” sê sy. Olivia vertel dat haar hele gesin baie lief vir sport is en dat haar ouerhuis die geboorteplek van haar belangstelling in fiksheid en ‘n gesonde leefwyse was. “My pa was ‘n langafstandatleet en die familie het gereeld saam gaan rugby kyk. Dit was ‘n geskree, lag en skel vir die referees. Ek was mal oor elke oomblik! Maar net so lief as wat ons vir sport is, is ons vir eet. Daar is ‘n geskiedenis van tipe 2 diabetes, hoë bloeddruk en cholesterol in my familie. Dit alles is my motivering vir ‘n gesonde leefstyl,” vertel sy. Alhoewel sy gedurende haar matriekjaar nog nie geweet het wat sy met haar lewe wil doen nie, het een feit soos ‘n paal bo water gestaan, naamlik dat sy gek was oor sport en om aktief te wees. “Ek het toe Sportbestuur by CPUT in Mowbray gaan studeer en deeltyds by Curves in die Paarl gewerk. Ek het daar my passie vir personal training en fitness ten volle ontdek toe ek ‘n kliënt gehelp het om 30kg te verloor. Dit was ‘n amazing gevoel om iemand so te sien verander, en om te weet jy was deel van die proses,” onthou sy. Sy het begin planne maak om vir haarself te werk en nadat sy haar studies voltooi het, haar bedankingsbrief by Curves ingedien. Olivia het hierna begin om persoonlike afrigting by kliënte se huis te doen. Op 4 Junie 2016 het sy die deure van haar eie fiksheidstudio, LivFit, in die Ou Rembrandt Mall oopgemaak. Oor die afgelope twee jaar het dit tot ‘n baie gewilde heenkome vir mense wat

gesonder wil lewe, geword. “Ons doen personal training, meal planning en groepsessies. En mense kan verwag om altyd ‘n gelag of ‘n geskree of ‘n gehuil in die studio te hoor,” lag sy. Daar is vier fiksheidsinstrukteurs wat by die studio werk en volgens Olivia fokus hulle op ‘n verskeidenheid oefeninge om elke sessie interessant te hou. “Ons is hier om mense se lewens te verander deur fiksheid en om mense ‘n gesonde leefstyl aan te leer. Ons doen elke dag van die jaar ‘n ander sessie, so jy weet nooit wat jy gaan kry nie. Jy sal verseker altyd sweet en brand. Die liggaam reageer op skok, so daar is altyd vordering in die vorm van gewigsverlies, spiere bou, verbeterde fiksheid, ensovoorts. Die verskillende sessies sorg dat ons nooit verveeld raak nie,” verduidelik sy. Olivia tree boonop ook gereeld as motiveringspreker op en lewer gesondheidspraatjies. Sy geniet dit veral om met kinders en jongmense oor ‘n gesonde leefstyl te gesels. Alhoewel sy nou suksesvol is, was dit nie altyd ‘n maklike pad om te stap nie. “Ek kom nie van rykdom nie, so als wat ek vandag het, het ek op my eie gekry. Ek’t my besigheid 10 jaar terug met R2500, 2 stelle gewiggies, ‘n mat, ‘n tou en ‘n klein koerantadvertensie begin. Ek het 8 jaar gespaar voor ek my studio kon oopmaak. Dit was die langste 8 jaar van my lewe,” vertel sy oor die lang pad van harde werk en aanhou probeer. “Ek glo dat ek op die aarde gesit is om mense te help. Vandat ek my studio oopgemaak het, moet ek buiten ‘n trainer ook ‘n besigheidsvrou

wees, en dit kom nie so natuurlik vir my nie. Groei is mos maar ‘n ongemaklike proses en ongelukkig wil ek altyd aanhou groei,” sê sy. Volgens Olivia is haar kliënte haar grootste motivering agter dit wat sy doen. “Die verskil wat ons in die gemeenskap kan maak en die lewens wat ons kan help verander is die dryfveer agter alles. En dan is daar natuurlik my drome wat my ook aan die gang hou,” sê sy. Olivia, wat hierdie jaar onder die top vier in Absa se Business Woman of the Year kompetisie geëindig het, droom daarvan om eendag haar eie plaas te hê, met ‘n huis, ‘n hindernisbaan en ‘n studio. Wat is haar raad aan jongmense wat ook groot drome het? “Stel lang en korttermyn doelwitte en moet nooit opgee nie. Soms wag jy tien jaar vir die een jaar wat jou lewe verander. Glo in jouself, maak nie saak of ander in jou glo nie. Do your thing until you know better and when you know better, do better,” sê sy.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.