courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
29 Augustus 2018
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 484
29 Augustus 2018
•FYNE WAARNEMING IN WERKE GEBRUIK
‘n Kop vol stories besorg Alma pryse •Jaomi Zeeman Alma Nel is ‘n Wellingtonner met ‘n fyn waarnemingsin, ‘n liefde vir stories en ‘n passie vir drama. Hierdie kombinasie van eienskappe het al vir talle pryswenner-tekste uit haar pen en vele bekroonde toneelstukke onder haar wakende oog gesorg. Sy bedryf ook die Alma Nel Drama-ateljee vanuit die Bôrdienghuis-teater by die plaaslike Breytenbach-sentrum. Volgens Alma het die blootstelling wat sy as jong kind aan drama gekry het, definitief ‘n groot rol in haar belangstelling en sukses in hierdie veld gespeel. “Ek is in Bethlehem in die Vrystaat gebore en as kind het ons gereeld vir my pa se werk as personeelbestuurder op myne rondgetrek. My ma was ‘n onderwyseres en het na-ure dramaklasse aangebied. Drama was deur my hele skoolloopbaan ‘n konstante in my lewe,” vertel sy. Nadat sy matriek aan Hoërskool Grens in die Oos-Kaap voltooi het, het sy drama aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer en haar honneursgraad cum laude verwerf. Die liefde het haar in 2014 na Wellington laat trek. Nadat Alma in 2013 as student die KKNK-teksontwikkelingsprys vir haar teks, Vat aan my, gewen het, het die bekende skrywer en dramaturg, Rachell Greeff, haar mentor geword om die teks verder te ontwikkel. Alma se eerste kennismaking met die Breytenbach-sentrum was toe sy Rachelle se skryfskool gedurende 2014 daar bygewoon het. “Ek het dieselfde jaar ook saam met my ma, Sanet Taljaard, en bekende akteur, Johann Nel, aan Tuin van Digters deelgeneem met die voorlees van gedigte. Asof dit, sowel as die romantiek van die gebou en omgewing nie genoeg was om my na die sentrum aan te trek nie, het ek ook my verloofde tydens die skryfskool daar ontmoet,” vertel sy oor haar verbintenis met hierdie sentrum. Volgens Alma word kinders vanaf graad 3 tot studente in die fyner kunsies van toneelspel, met spesifieke fokus op die ontwikkeling van self-insig en die aanleer van kommunikasievaardighede, by haar dramaskool onderrig. “Hierdie ateljee is dan ook een van slegs twee instellings in die Wes-Kaap wat geakkrediteer is by die SA College of Drama en leerders en studente lê jaarliks ‘n Mondelinge Kommunikatiewe-eksamen by die instelling af,” sê sy trots. Beide Alma se ma, Sanet, en oom, Pieter Taljaard, was nog altyd by toneel betrokke as akteurs, spelleiers en regisseurs. “Ek het drama dus saam met my moedersmelk ingekry en het altyd geweet dis wat ek met my
lewe wou doen,” sê sy. Wanneer ‘n mens hoor dat Alma al op tweejarige ouderdom onder die lessenaar in haar ma se drama-ateljee in Carltonville na ouer kinders wat dramaklasse geneem het gesit en kyk het, maak haar sukses vandag sin. “Ek dink almal het ‘die oomblik’, by gebrek aan ‘n beter woord, wat hul besluit ek wil hierdie vir die res van my lewe doen. My oomblik was toe ek as sestienjarige deelgeneem het aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie in Port Elizabeth. Ek het die rol van ‘n verleidster in ‘n Paul Slabolepszy komedie gespeel. Johann Nel, een van die beoordelaars, het my uit die stampvol teater gevra om op te staan voor almal gedurende die terugvoersessie. Hy het aan my gesê: ‘Dame, toe jy oor daai toonbank kruip, het jy darem ál jou punte by my gekry.’ Hierna het ek aan my ma gesê, ‘Mamma, ek wil drama swot.’ Nou ja, medies was ook ‘n opsie, maar dit kon nie kers vashou by daai oomblik van oortuiging nie,” vertel sy. Die feit dat Alma haar hart gevolg het, werp vandag vrugte af. Sy was nie net in 2013 die wenner van die KKNK se Teksontwikkelingsprys nie, maar het ook in 2015 met die prys as die beste verwerker/regisseur by die ATKV Tienertoneel se streeksfinaal weggestap. In 2016 behaal sy ‘n derde plek in die landswye ATKV Tienertoneelkompetisie met
“Dis ek, Annatjie”. In 2017 tree sy as dramaturg met “Uniform” by die US Woordfees op en wen ook die prys vir die Beste Nuutgeskrewe Teks by die Namakwaland Toneelfees vir haar drama “Blessings”. Met haar toneelstuk “Freaks” wen sy ook die prys vir die Beste Produksie en beste regisseur by die Heidelberg Toneelfees in 2017. Alma het onlangs twee tekste geskryf, naamlik “90/10” vir Hoërskool Durbanville en “Die huis van Bernard Albertyn” vir Hoërskool Stellenbosch. Beide hierdie skole gaan aan die ATKV-Tienertoneel kompetisie gedurende die laaste week van Augustus deelneem. Hulle het onlangs aan vier toneelfeeste deelgeneem, waar Alma haar segetog as dramaturg voortgesit het. Sy wen die prys vir Beste nuutgeskrewe teks vir haar toneelstuk, “90/10”, by die Fraserburgtoneelfees. Vir “Die huis van Bernard Albertyn” wen sy ook die prys vir Beste Nuutgeskrewe. Alma werk ook met Bergrivier Hoërskool aan die produksie “Vlerksleep”, waarmee hulle aan die ATKV Tienertoneelkompetisie by die Kunstekaap-teater gaan deelneem. “My droom is dat hul sal deurdring na die finale nasionale rondte in Roodepoort vroeg in Oktober. Hierdie droom is egter net ‘n moontlikheid met die ondersteuning van plaaslike besighede wat ons ondersteun en waarvoor ons baie dankbaar is,” sê sy.
NUUS • NEWS