courant
• Bergrivier 1Swartland Weskus • Bergrivier
dié
19 September 2018
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 487
19 September 2018
Trein bring dienste na Bergrivier
Die Phelophepa-trein het die afgelope naweek sy pad na Piketberg gevind waar dit gesondheidsdienste na die gemeenskap van die Bergrivier sal bring. Sien berig op bladsy 3.
•25 SENT PER SITPLEK PER JAAR
Kerk vier eeuwording •Madi Pieterse Sondag het 'n aantal kerkgangers op Velddrif op vergange dae se spore teruggeloop om die herlewing van 'n baie ou gebou te herdenk. “Die Ou Kerkie”, soos dit alom bekendstaan, is die afgelope maande in volle glorie herstel om hopelik weer vir die volgende paar geslagte 'n geestelike heenkome te bied. Die inwydingsdiens is waargeneem deur die leraarpaar, pastore Ivan en Anita Fitchet. Die amptelike onthullingsgeleentheid het na die diens plaasgevind met die nuwe gedenkteken wat deur Russell Foster, eienaar van die kerkgebou en kompleks waarop dit staan, onthul is. Hierdie pragtige ou gebou was die heel eerste kerk wat op Velddrif gebou is en is in 1908 voltooi. Die destydse inwydingseremonie is op 10 September 1908 gehou en die onthulling is waargeneem deur die Ringvoorsitter, Ds De Vos De Wet. Die bewoording op die ou gedenkteken, Gode Geweid Door, is Hoog-Hollands en beteken Soli Deo Gloria. Die ou gedenkteken pryk reg onder die nuwe een. Die grond is desjare deur die Smit-familie geskenk toe Velddrif nog `n plaas was. Die koste om die kerkgebou op te rig het R3 568,10 beloop. Die geskiedenis van Die Ou Kerkie het `n hartseer noot of twee by… Deur die loop van die geskiedenis is die saad van geestelike verval gesaai. Tog is dit die neiging van baie kerke wêreldwyd… en Die Ou Kerkie het nie hierdie tendens vrygespring nie. Die eerste verval het gekom toe kerkgangers vir hulle sitplekke moes betaal. Die koste? 25 sent per sitplek per jaar. As jy nie jou sitplek gaan gebruik op `n sekere Sondag nie, moes die
kerkleiers veertien dae vooruit in kennis gestel word daarvan. Geen betaling, geen sitplek! Hierdie betalery vir sitplekke was die hoofrede dat kerkgangers toe begin wegbly het. Daarmee saam het die kinders toe ook nie vir Sondagskool opgedaag nie. Teen 1910 was bywoning baie laag en die geestelike toestand van sy mense het die predikant baie bekommerd gehad. Inwoners was ook nie baie gretig om blyplek aan die leraar te verskaf wanneer hy daar was om kerk te hou nie, wat hulle taak aansienlik moeiliker gemaak het om gereeld die area te besoek. `n Nuwe skoolhoof op die dorp het egter besluit om die situasie te beredder en hy en sy vrou het hulle huis vir die leraar beskikbaar gestel tydens sy besoeke. Teen 1912 het kerkgangers weer Die Ou Kerkie se sitplekke volgesit. `n Tweede verval het Die Ou Kerkie daarna getref - die misbruik van alkohol onder inwoners het groot probleme teweeggebring en die leraars het nie meer raad gehad nie. Die Ou Kerkie se deure is gesluit…. Baie jare later is dit as `n koffiewinkel bedryf en nog later het dit `n kunsgalery geword. Maar die lewe gaan aan. 110 jaar het gekom en gegaan en Die Ou Kerkie staan nog, gerestoureer en gereed om `n nuwe geslag kerkgangers tot diens te wees. Die nuwe St Christopher Velddrif Gemeenskapskerk se lede is baie dankbaar vir hulle pragtige gebou, die nuutgeboude saal en ook vir die ‘loft’ wat spesiaal vir die kinders ingerig is. Hulle hoop om uit die foute van die verlede te leer en kyk met moed en geloof na die pad vorentoe.
NUUS • NEWS