503 dié courant Swartland

Page 1

c urant

dié

• Bergrivier 1Swartland Swartland

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

30 Januarie 2019

77.2%

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 503

30 Januarie 2019

Links: Sean in aksie op die water. Hy is die naweek as die Mosambiekse nasionale seilkampioen gekroon. Bo: Sean is 'n leerder aan die Christelike Privaatskool op Malmesbury.

•SEDERT 4-JARIGE OUDERDOM ALLEEN OP SEE

Sean span die seile Sean Kavanagh (10) van Malmesbury is die afgelope naweek as die wenner van die Mosambiekse nasionale seilkampioenskappe in sy klas gekroon, toe hy met sy seilboot, ‘n optimist, daar deelneem het. Kavanagh het eers vroeg Maandagoggend by die huis gekom ná dié kampioenskappe wat oor drie dae gestrek het. Dié leerder van die Christelike Privaatskool op Malmesbury was ook baie besig gedurende die afgelope skoolvakansie toe hy ‘n tweede plek met sy deelname aan die Suid-Afrikaanse jeug seilkampioenskappe (SAS) losgeseil het. Sy passie vir seil bruis deur sy are. Sy ouers Michael en Heidi Kavanagh is albei kranige seiljagvaarders wat Sean van ‘n baie jong ouderdom begin touwys maak het op die gebied van seiljagte. Sy seilvernuf is ook te danke aan sy oupa en ouma wat ook albei ywerige seiljagvaarders is. Kavanagh het reeds op eenjarige ouderdom oor die Mediterreense see saam met sy ouers geseil en was slegs twee jaar oud toe sy ouers hom

saamgeneem het op ’n seiljagvaart waartydens hulle die Atlantiese oseaan twee keer oorgesteek het, vertel hy. Kavanagh was ook die jongste bemanningslid wat aan die Cape2Rio 2017-seiljagresies deelgeneem het toe hy saam met sy gesin en familielede dié seevaart aangedurf het. Kavanagh het op die ouderdom van 4 op sy eie begin seil toe sy ouers hom verras het met sy eie seilboot, ‘n dinghy. Hy kon ook toe al goed swem en was gewoond aan die water en die see, voeg hy by. Hy is baie lief vir die buitelewe en seesportaktiwiteite. Hy spog ook graag met sy pa se seiljag van 44.7 voet lank. Kavanagh en sy gesin is lede van die Milnerton Aquatic-klub wat hulle byna elke naweek besoek as hulle nie met vakansie is of besig is met ‘n seiljagvaart elders nie. Kavanagh het in 2016 vir die eerste keer op sy eie aan ‘n kompetisie deelgeneem, vertel die jong seevaarder. Sedertdien was daar geen keer aan hom nie.

Hy neem graag aan kompetisies deel wat gereeld deur dié seiljagklub aangebied word. 2018 was ‘n goeie jaar vir hom. Dit was ook gedurende verlede jaar met die viering van sy tiende verjaardag, wat hy vir die eerste keer deelgeneem het aan 'n internasionale kompetisie, naamlik die Britse nasionale en oop-kampioenskap in Wallis. Hy het onderskeidelik sesde en vierde plekke uit 60 deelnemers behaal. Met die terugkeer na Suid-Afrika het hy koers gekies na Oos-London, waar hy deelgeneem het aan die SAS-provinsiale kampioenskappe en hier geseëvier het. Hy het ook aan die einde van Augustus skoonskip gemaak met sy deelname aan die SAS-provinsiale kampioenskappe in Aeolians. 2019 lyk net so belowend met ‘n goeie begin vir die jaar. Hy gaan binnekort aan nóg ‘n internasionale seilvaartkompetisie deelneem. Vir nou is dit terug na die skoolbanke met ‘n skool wat bankvas agter hom staan in sy doelwitte op die water.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.