504 dié courant Weskus en Bergrivier

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Weskus • Bergrivier

dié

6 Februarie 2019

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 504

•SAKEMAN BELÊ VERDER IN DIE WESKUS

6 Februarie 2019

Ontwikkeling ‘enorm’ •Madi Pieterse “Dit is enorm!” Dit is die woorde van `n bekende sakeman van Laaiplek/Velddrif/Port Owen, wat ook hotelle en restaurante in London besit. Hierdie uitroep van Russel Foster vat in `n neutedop saam die beplande ontwikkeling van die hawe by Laaiplek deur die Laaiplek Hawe-Forum en verskeie ander rolspelers. Die Forum is dit eens dat die tyd van praat en droom verby is en dat die realiteit begin gebeur. Vir hulle is dit nie meer `n kwessie van ‘as’ nie, maar ‘wanneer’. “Besigheidsmense in Laaiplek en omgewing stem oor een ding saam: die plek is ryp vir drastiese stappe om toerisme te bevorder. Daar bestaan `n groot toeloop van toeriste na die area, die visbedryf taan en ons kort nuwe bloed, nuwe geleenthede, nuwe werksgeleenthede, nuwe alles,” gesels `n baie entoesiastiese Dian Müller, argitek van dele van die ontwikkeling en woordvoerder namens die Hawe-Forum. “Alhoewel nog niks goedgekeur is nie, is ons in volle swang om dinge te laat gebeur.” Onder andere word 145 selfsorg-eenhede, Bergrivier Family & Lifestyle Facility, in die vooruitsig gestel wat op die punt staan om goedgekeur te word. Die Harbour Edge-ontwikkeling beskik reeds oor 68 gedienste persele. Die Eigelaargroep het ook gedienste erwe binne die hawegebied en die opgradering van die Laaiplek Hotel om by die ontwikkeling in te skakel, sal binnekort begin. Die beplande wandelpad dwarsdeur die ontwikkeling sal toegang tot die hotel bied. Die Sunset Villas met ses woonstelle en die Sunset Cabanas met sewe meenthuise vorm ook reeds deel van die hawegebied. Ook op die tafel is die Key Way Shipwright Facility & Academy. In samewerking met die Bergrivier Munisipaliteit word daar gekyk na die integrasie van die Stywe Lyne-karavaanpark in die nuwe ontwikkeling. Dian vertel dat hy groot inspirasie vir die argitektoniese tema ontvang het nadat hy plaaslike skrywer Lokkie van Zyl se boek, Velddrif se Stories, onder oë gehad het en besef het dat die Italianers `n groot invloed gehad het in die geskiedenis van Laaiplek. Daarom word Italiaanse argitektuur, afkomstig van Romeinse argitektuur, in die ontwikkeling benut. In die beplanning is `n getylose marina, `n optelbrug, waterslotte, dalk `n droogdok by die slip, `n multi-denominale kerk, `n trou-venue, konferensiefasiliteite met negentien Romeinse-styl huise en ook sewentien woonstelblokke. Die brug oor die getylose marina is `n replika van die Rialto-brug in Venesië, waar besoekers in die toekoms pragtige onthoufoto`s sal kan neem. Selfs replikas van die Kolosseum en die Pant-

Die area waar die beplande ontwikkeling sal geskied.

heon in Rome, natuurlik in baie kleiner weergawes as die ware Jakob, gaan elkeen `n rol speel in die algehele prentjie van die ontwikkeling. Die Kolosseum sal dien as amfiteater en sal ook beskik oor `n opelug verhoog waar kunswedstryde, musiekfeeste, toneel-opvoerings, of enigiets anders aangebied sal kan word waaraan die gemeenskap kan dink. Die plek sal basies gratis aan die gemeenskap beskikbaar gestel word om te benut. Dian hoop dat Steve Hofmeyr die eerste kunstenaar sal wees om die verhoog te betree. Aan die onderkant van die Kolosseum sal winkelen restaurantspasie beskikbaar wees. Dit sal saamvloei in stegies met straatkafeetjies en straatkunstenaars wat die middelpunt van aktiwiteite sal vorm om dit bedags en saans vir besoekers aantreklik te maak. Op die geplaveide wandelpad (boardwalk) regdeur die ontwikkeling, waar nêrens trappe sal wees nie behalwe af na die strand toe, sal gholfkarretjies, fietse, stootwaentjies en rolstoele kan beweeg. Die Forum beplan ook om die seefront wat weggekalwe is te herwin deur letterlik `n muur daar te bou en as verhewe wandelpad teen die strandgebied te gebruik, wat gaan veroorsaak dat daar nie verdere erosie gaan plaasvind nie en ook `n verbintenis kan wees tussen

die hawegebied en die gemeenskapsgedeelte in St Helenastraat. Bes moontlik sal die De Villiersstraat-ingang verleng word na `n sirkel wat ook die hawegebied met St Helenastraat verbind. In die sirkel word `n baie interessante node beplan - `n kubus wat op sy punt staan en van kleur verander wanneer om die sirkel beweeg word. Die node word geskep as bevestiging aan besoekers dat hulle die hawegebied, die ‘nuwe waterfront’, binnegaan. Die plaveisel (“cobblestones” of keistene) wat vir die wandelpad gebruik gaan word sal deur die gemeenskap gemaak word, sodat elkeen wat op die wandelpad beweeg, sal weet dat die hele gemeenskap by hierdie groot projek betrokke was. “In breed: dit is so vroeg in die beplanningsproses dat ons nie regtig daarop kan staatmaak dat planne goedgekeur is of gaan word nie, maar op watter punt van die beplanningsproses besluit jy om vir mense te sê dat dit besig is om te gebeur?” gesels Dian. “Plaaslike mense is al so negatief oor ontwikkeling wat sou plaasvind en nooit gebeur nie. Ons is egter doodernstig om hierdie te maak werk en weet dit gaan werk, want ‘the next best thing to steak and whisky’ is Laaiplek, want almal kom hierheen!”

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.