courant
• Bergrivier 1Swartland Weskus • Bergrivier
dié
27 Februarie 2019
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 507
27 Februarie 2019
•TALLE UNIEKE PRODUKSIES OP DIE PLANKE
Lesch leef vir teater
•Madi Pieterse Gebore en getoë Weskusser, Jean-Pierre Lesch, is besig om met harde werk en deursettingsvermoë vir homself `n pad in die vermaakwêreld oop te grawe. Die 28-jarige Jean-Pierre is gebore op Vredenburg en het grootgeword in Laingville, St Helenabaai, waar hy sy laerskoolloopbaan by St Helenabaai Primêr deurloop het. Vir sy hoërskoolloopbaan is hy Weston Sekondêr toe op Vredenburg. Liefde vir die kunste, die vermaakwêreld en alle aspekte daarvan is vroeg in sy lewe al geprikkel en daarom was die besluit om na matriek in die Uitvoerende Kunste te studeer nie moeilik om te neem nie. Hy en sy goeie vriend Gantane Kusch (Dr Siya van Suid-Ooster) het in 2009 saam aangesluit by die New Africa Theatre Academy in Athlone. Na die afhandeling van sy studies het Jean-Pierre verskeie kunste-projekte aan die Weskus probeer aanpak, maar geleenthede hier is min en sy droom dat die Weskus se mense meer geleenthede in hierdie veld sou kry, het nie gerealiseer nie. Jean-Pierre het besluit om weer ‘n student te word, hierdie keer by CPUT, waar hy van 2013 tot 2016 sy Publieke Administrasie studeer het. Die grootste beweegrede vir hierdie spesifieke kursus was om meer te leer van die regering en hoe genoegsame inligting ingewin kon word sodat die kunste bevorder kan word. In hierdie tyd stig Jean-Pierre `n nie-winsgewende organisasie, die West Coast Academy of Performing Arts (WAPA). Die doel was om die vergete jeug van die Weskus ‘n geleentheid te gee om uitvoerende kunste te studeer met so min as moontlik kostes daaraan verbonde. Finansies was min en borgskappe skaars. Om sy droom te bewaarheid besluit hy toe om die program in Kaapstad van stapel te stuur waar geleenthede volop is: groot teaters, produksiemaatskappye, organisasies en agentskappe. Dit is in WAPA se beplanning om van einde Maart af elke week 5-dag kursusse in die Kaap, gemik op die jeug, aan te bied. Die kursus behels basiese teater, teatermaak- en opvoering-klasse. Jean-Pierre se grootste wens is dat Weskussers ook die geleentheid kon kry om die kursusse by te woon, maar daarvoor word borgskap benodig sodat hulle Kaap toe en terug huis toe vervoer kan word vir die duur van die kursus. Vir `n lang tyd was WAPA slegs `n organisasie op papier, maar nadat Jean-Pierre sy produksie Dirty Laundry ingeskryf het by die 2017 Zabalaza Festival en Cape Town Fringe Festival (CTFF), het mense hom ernstiger begin opneem.
Jarelange korrespondensie met verskillende organisasies, waaronder die Nasionale Loterykommissie (Lotto) een is, is befondsing toegestaan en nou huur WAPA `n huis in Observatory wat dien as kantoorspasie waar kursusse aangebied kan word. Advertensies vir aansoeke om `n kursus by te woon sal in gemeenskapskoerante en op sosiale media geplaas word. Ongelukkig het WAPA geen verblyf beskikbaar nie, maar Jean-Pierre is tans besig met samesprekings vir moontlike vervoer heen en weer. In 2017, na afhandeling van sy BTech-graad, stig Jean-Pierre sy eie teater- en TV/Film produksiemaatskappy, Lesch Antics Prductions. Die doel van die maatskappy was om oorspronklike teater-, TV- en filmprojekte te ontwikkel en dit dan met die hulp van ander produksiemaatskappye in mede-vervaardigingsooreenkomste lewe te gee. Sy teaterproduksie, Dirty Laundry, was sy eerste suksesvolle projek en word sedertdien by die Zabalaza Festival en CTFF opgevoer, soos voorheen genoem. Dirty Laundry was by die Zabalaza Festival genomineer vir beste akteur en aktrise en het ook ‘n toekenning by die CTFF ontvang. Jean-Pierre wag tans op terugvoer van die SABC om sy idee vir `n TV-reeks, Beats Boulevard, te aanvaar. Dit word vervaardig saam met die produksiemaatskappy Okuhle Media. Lesch Antics Productions het ook `n voorleg-
ging aan KykNET gemaak vir `n telenovella. Lesch Antics Productions se nuutste teaterproduksie, Alles Is Nie Altyd Soos Dit Lyk Nie, is deur die US Woordfees se eerste Fringe-fees genooi om deel te neem. Jean-Pierre gesels met entoesiasme oor die produksie, wat handel oor twee vriende wat jarelank saam op straat gebly het. Een van hulle kry die geleentheid om uit hierdie omstandighede weg te kom. Jare later keer hy terug om erkenning aan sy kindertyd-omstandighede te gee. Maar deur dit te doen staar die twee vriende die gereg, stereotipering en ook die dood in die gesig. Alles Is Nie Altyd Soos Dit Lyk Nie word op 6 Maart om 21h30 en op 9 Maart om 15h00 by die Pulp Cinema, Neelsie Studente-sentrum op Stellenbosch opgevoer. Jean-Pierre is die skrywer en behartig ook die regie en Rushin Brinkhuys, Eddie Newman en Garth Field vertolk rolle in die stuk. Kaartjies kos R60 per persoon en kan via Computicket verkry word of by die deur. Jean-Pierre hoop dat Saldanha Munisipaliteit vervoer beskikbaar sal stel, sodat `n groep Weskussers ook die geleentheid kan kry om sy vertoning by te woon en so eerstehands teaterfeeste te kan ervaar. Kontak hom by LeschAnticsProductions@ gmail.com / WAPA.co.za@gmail.com / whatsapp, sms, bel – 081 514 7704 / 062 813 8347.
NUUS • NEWS