514 dié courant Weskus en Bergrivier

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Weskus & Bergrivier

dié

17 April 2019

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 514

•SPESIALE TOEKENNING VIR NUWE BOEK

17 April 2019

Saterdagnuus vir Weskus se Dana •Madi Pieterse So `n week of twee gelede, op `n Saterdag, ontvang Dana Snyman `n e-pos van Frits Gaum, voorsitter van die Andrew Murray-prysfonds. Daarin word hy meegedeel dat `n spesiale Andrew Murray-toekenning vanjaar aan hom gemaak word vir die skryf van die verhoogstuk, Dominee Tienie, wat ook die basis vorm van die fliek met dié naam. “Die mense wat besluit het oor die toekenning reken dat Dominee Tienie `n merkwaardige, eerlike verhaal is oor `n hedendaagse predikant wat worstel om sy gemeente in die nuwe era te help oorleef, nog altyd die man van sy vrou en die pa van sy kinders is en ook geloofstwyfel leer ken. “Naas pryse vir Christelike en teologiese publikasies, maak die Andrew Murray-prysfonds (wat al meer as 40 jaar bestaan) gereeld ook spesiale toekennings vir ander media,” sê die skrywe. Dit is hier waar Dana se Dominee Tienie, `n eenmanvertoning wat hy `n paar jaar gelede vir Frank Opperman geskryf het, ter sprake kom. Hierdie is nie die eerste toekenning wat Dana vir sy alombekende en beminde skryfwerk ontvang nie. Hy is ook `n bekroonde rubriekskrywer wat al `n hele paar ATKVeertjie-toekennings ontvang het. Dit bly vir Dana `n eer en voorreg om erkenning vir sy werk te kry, want maak nie `n fout nie, om te skryf is harde, gedissiplineerde werk en lang ure van sit voor `n rekenaar waartydens die skrywer intens moet konsentreer. Maar Dana hou van sy werk. Hy sien dit as `n ambag. Soos wat `n skrynwerker sy ambag beoefen wanneer hy kaste bou en installeer, moet hy as skrywer stories bou en aanmekaar sit sodat die leser altyd sal vra vir nog. Dana woon tans in Yzerfontein in `n huurhuis saam met sy vier honde. Blackie is die bekendste van die vier nadat Dana hom op een van sy reise langs die pad opgetel het en dié nou gereeld saam met hom rondry wanneer hy agter stories aangaan. Blackie is gereeld deel van die storielyn. Die ander drie is Jerry, Kleintjie en Vlooi. Saam geniet die vier pragtige en duidelik gelukkige honde `n luilekker lewe. Dit terwyl Dana oor `n koppie koffie vertel van sy doen en late. Alhoewel Dana binnekort weer Jacobsbaai toe trek, is sy lewe op Yzerfontein nou verweef met `n paar mense. Een van hulle is Erna Oosthuizen, wat hy die afgelope jaar ontmoet het terwyl hy nog die skok van sy verloofde se dood, in Oktober 2017, verwerk het. Dana se verloofde en Erna se man het albei hulle eie lewens ge-

Die skrywer Dana Snyman, noem Yzerfontein deesdae sy nuwe tuiste. Inlas: Die bekende "swart hond". neem en hierdie twee seer mense kon mekaar troos in die rouproses en ook goed verstaan wat elkeen deurmaak. Erna het voorheen `n kunswinkeltjie gehad en wil baie graag weer een begin. Dana het die gedagte aangegryp en Swarthond is gebore, `n winkeltjie wat klaargemaakte lapgoed verkoop. Wanneer Dana terugstaan en na die geheel van sy lewensprentjie kyk soos dit nou is, is daar `n klomp lyne wat bymekaarkom. Iewers in hierdie verhaal van `n rouproses en `n kunswinkel en opgestopte lapgoedjies, het Moses homself kom inpas. Moses is `n werklose jong man wat ongelooflik kunstig is met lapwerk. En wanneer hy voor die masjien gaan sit en verskillende lappies aan mekaar begin werk, word dit kunswerke wat jy op jou kop wil dra om die son te keer of sommer net oor dit mooi is. Moses het nie net uit die niet verskyn nie, hy is bekend aan Dana. Baie jare gelede, in sy grootwordjare op Ventersdorp, was daar Johannes Mogosi, wat in die pastorietuin gewerk het. Ná Dana se pa dood is en hy hom later op Jacobsbaai gevestig het, het Johannes saamgekom.

En Moses, wat verantwoordelik is vir die mooi lapgoed, is Johannes se vrou se broer. En so is `n klomp lewens oor jare heen saamgevleg om uiteindelik hier aan die Weskus rustigheid te vind. Erna het toegesien dat Moses `n gerieflike woon- en werkplek het waar hy ongestoord mooi lapgoed aanmekaar kan sit. Dana bly besig met sy skryfwerk en werk tans aan Soekmekaar, `n boek met allerhande verhale, sommige wat hy al voorheen gebruik het en ander wat splinternuut is. Na Dana en Frank se groot sukses met die eenmanvertoning Dominee Tienie (Frank het die vertoning sowat 250 keer lewe gegee), het hulle weer koppe bymekaar gesit en die splinternuwe Donkie is verlede maand op die Woordfees bekend gestel. Donkie het baie goeie resensies ontvang en die agent is alreeds besig om die dagboek met besprekings op te vul. Frank voer Donkie eersdaags in Port Elizabeth op wanneer skoolhoofde van regoor die land bymekaar kom. Dana sal op 24 Mei die spesiale Andrew Murray-toekenning vir Dominee Tienie by Neethlingshof in Stellenbosch ontvang.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.