c urant
dié
• Bergrivier 1Swartland Swartland
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
29 Mei 2019
55.4%
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 520
29 Mei 2019
•STREEK SE GRAANLANDE IN GROEN GEKLEUR
‘Opkoms lyk goed’
Die meeste gewasse wat deur produsente in die Swartland en dele van die Bergrivier geplant of gesaai is, is in die grond. Nou wag boere vir opvolgreën. “In die Swartland is meeste produsente klaar geplant wat alle gewasse (koring, kanola, weidings) betref, sê Gareth de Bruin, landbou-ekonoom by Kaap Agri. Volgens hom is dit nog te vroeg om ‘n indruk rakende opkoms te gee, maar bevestig wel dat die meeste gesaaides, veral koring nou besig is om op te kom. “As gevolg van onlangse reën, behoort opkoms goed te wees.” Die onlangse reënval was noodaaklik vir goeie ontkieming, verduidelik De Bruin. Hy voeg egter by dat opvolgreën binnekort ideaal sal wees. Volgens Izane Leygonie, landboukundige van Soill, is kanolaprodusente veral positief ná die onlangse reënbui. “Geen siektes of plae het tot op hede kop uitgesteek nie, so vir nou is die grootste bekommernis reën.” Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap is dit ook eens dat die onlangse reën verwelkom is deur produsente wat besig was om te plant. Hy sê egter gewasse gaan swaarkry as dit nie in die komende week reën nie. “Die Swartland het nou dringend opvolgreën nodig en gegewe die reënval van die volgende paar dae, behoort ons teen die einde van volgende week ‘n beter
idee te hê van hoe die seisoen vir die Swartland kan uitdraai,” voeg hy by. Opnames rakende hoeveel hektaar koring en kanola vanjaar in die Swartland en in die omgewing van Piketberg en Porterville aangeplant is, is tans onderweg, maar volgens De Bruin is daar volgens die oesskattingskomitee vroeë aanduidings dat daar in die Wes-Kaap ‘n toename van 1.88 % (totaal van 324 000 ha) vir koring verwag word. Volgens Soill is aanplantings van kanola in die Swartland redelik konstant met verlede jaar se 21 654 ha kanola wat geplant is, terwyl aanplantings in die Wes-Kaap op ‘n totaal van 67 000 ha dui. “Tans is daar ongeveer 21000 ha kanola in die Swartland aangeplant," sê Leygonie. Volgens die meeste produsente is daar in droë grond geplant. Gedurende én ná planttyd, was temperature bo-gemiddeld. “So ons was bekommerd dat sekondêre dormansie weer te voorskyn mag kom. Geen gevalle van sekondêre dormansie is gelukkig tot op hede aangemeld of geïdentifiseer nie.” Sy voeg by dat die stande tans goed in alle areas lyk, maar dat reën inderdaad nodig is. “Daar is nog voldoende vog in die grond na die lekker reënbui van verlede Maandag, maar opvolgreën sal binne die volgende twee tot drie weke moet realiseer.” Meeste produsente sê kanola het ná die twee reënbuie op 3 en 8 Mei opgekom. Sommige produsente, wat in swaarder tipe gronde geplant het,
sê kanola het eers ná verlede Maandag se reënbui begin ontkiem. Sy verduidelik dat die kanola nou staatmaak op die teenwoordige grondvog. “Kanola is baie droogteverdraagsaam, dit het ons in 2017 gesien. Die kenmerkende wortelstelsel het ‘n unieke manier om vog te gaan soek in die grond. Meer reën sal egter toestande baie verbeter,” voeg sy by. Giel Hugo, Overbergse weervoorspeller wat in Maart vanjaar by die jaarlikse SKOG-voorsaaidag op Langgewens-proefplaas buite Moorreesburg met produsente kom gesels het, het tóé gesê dat langtermyn weervoorspellings daarop dui dat die Wes-Kaap, en in besonder die Swartland en selfs die Overberg, nie vanjaar soveel reën kan verwag as in dieselfde periode van 2018 nie. Daar word egter voorspel dat dit wel meer sal wees as wat daar in die besonderse droë 2017 was. “Wat reënval in die provinsie betref kan daar waarskynlik ’n meting tussen die syfers van 2018 en 2017 verwag word. Vanjaar sal waarskynlik nie ’n swak jaar vir die landbou in die Wes-Kaap wees nie.” Dit blyk uit die modelle dat die noordelike dele van die Swartland droër kan wees as die suidelike dele van die streek. Die moontlikheid bestaan dat daar aan die einde van 2019 minder water in die Wes-Kaapse damme kan wees as aan die einde van 2018. - Charlotte Lesch
NUUS • NEWS