courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
28 Februarie 2018
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 458
28 Februarie 2018
•CLARK 'N WÊRELDBEKENDE BLUES-MUSIKANT
Wellington basis vir kunstenaar •Jaomi Zeeman Gerald Clark is een van Suid-Afrika se bekendste blues-musikante en het ook al internasionaal naam gemaak. Hierdie eerlike kunstenaar is bekend vir sy ongelooflike gawe om stories met sy musiek te vertel. Gerald, wat elke jaar ‘n buitelandse konserttoer of twee onderneem, het Wellington sedert die begin van verlede jaar as sy basis gekies. Hy woon in ‘n kothuis op Bloublommetjieskloof. Dit is ook hier neffens Wellington waar sy album, Afroboer & the Golden Goose, opgeneem is. Oor sy nuutste album, Afrocoustic, is hy baie opgewonde. “Ek glo as ‘n akoestiese album is Afrocoustic ‘n outentieke verteenwoordiging van my ware klank, so gestroop as wat dit behoort te wees,” sê hy oor hierdie album. Gerald, wat sy pa op ‘n vroeë ouderdom verloor het, het in Stellenbosch grootgeword en aan Paul Roos Hoërskool gematrikuleer. Alhoewel hy destyds in die skoolkoor gesing het, het hy nie toe vreeslik aan enige ander musikale aktiwiteite deelgeneem nie. “Ek het altyd gedink ek sal miskien in ‘n regsrigting ingaan, ‘n prokureur of iets word. Daar was ‘n ou kitaar van my ma waarop ek altyd gespeel het, maar dit was bloot speel, sonder om te weet hoe dit werk. Iemand in die charismatiese kerk waaraan ons daardie tyd behoort het, het my later die drukke gewys,” vertel hy oor sy vroeë kennismaking met musiek. Volgens hom het hy eers laat in sy hoërskoolloopbaan na blues-musiek begin luister en dadelik daarvan gehou. Dit het uiteindelik ‘n groot invloed op sy eie musiek gehad. “As ek moet terugdink, was my musiek daardie tyd Rodriguez, Koos Kombuis, Eric Clapton unplugged en Cat Stevens. My vriend se suster het vir my ‘n paar ou blues cd’s gewys. Ek het ook in standard 8 daardie CNA Blues Collection cd’s gekoop, daai goedkoop goed, en toe self begin blues speel,” onthou hy. Hy is vol lof vir sy ma wat, ten spyte van baie uitdagings en struikelblokke, haar drie kinders in Stellenbosch kon grootmaak tussen van die rykste en mees invloedryke mense in die land. Een van Gerald se liedjies op Afrocoustic het die titel “No more work”. Vir hom voel dit wat hy doen egter nie altyd soos werk nie. “Soms, wanneer jy voor mense speel wat gewoond is om na cover bands te luister, of mense wat nie die authenticity van jou werk kan waardeer nie, voel dit soos werk. Maar ander kere, soos
verlede Sondag toe ek in Kirstenbosch voor 4000 mense gespeel het en die meeste van die tyd, is dit wat ek doen regtig lekker,” lag hy. Gerald het ook sedert sy kinderdae ‘n liefde vir en band met perde. Hy beplan tans ‘n perderoete aan die Weskus wat ander perdryers sal kan meemaak en waartydens hy die werk vir sy nuwe album gedaante wil laat kry. Volgens hom is sy skeppingsproses nooit dieselfde nie. “Partykeer skryf ek goed en dan kyk ek watter deuntjie daarby sal pas. Ander kere kom die deuntjie eerste en dan volg die woorde daarna. Daar is nie ‘n resep waarvolgens ek my liedjies skryf nie. Dis elke keer anders,” verduidelik hy. Gerald het al saam met baie bekendes ‘n verhoog gedeel. Onder hulle tel Albert Frost, Dan Patlansky, Koos Kombuis, Theo Crous, Luna Paige en Van Coke Kartel. Hy het al talle internasionale toere onderneem en is veral gewild in Tjeggiese Republiek, waar hy altyd uitverkoopte konserte aanbied, en die Lae Lande. Hy het ook al in Namibië, Botswana en Zambië opgetree en is al vir ‘n WoordTroFee vir die beste solo-vertoning benoem. Die musikante met wie Gerald skouers skuur en saamwerk is ook almal internasionaal bekend. Hy werk nog altyd saam met Tim Rankin en Schalk van der Merwe, maar speel nou ook saam met Simon OrangeBarry van Zyl, ‘n dromspeler wat al saam
met Johnny Clegg, Annie Lennox, Carlos Santana en Robert Plant gewerk het, het saam met hom aan sy Afrocoustic album gewerk. Hy het talle planne en vooruitsigte vir die nabye toekoms. Hy is gevra om hierdie jaar by die Okavango Delta Festival op te tree. Hy gaan ook na Zambië toer. In Swakopmund gaan hy ‘n perdryrit meemaak en hy gaan op ‘n anti-stropingsperderit by die Olifantsrivier. Hy toer in Desember deur Tjeggië en gaan ook in Istanboel optree. In Suid-Afrika gaan hy onder andere by Die Boer Teater, aan die Weskus en by verskeie ander dorpe optree. In Januarie 2019 toer hy met ‘n Tjeggiese musiekgroep in Suid-Afrika. Volgens Gerald was die grootste struikelblok in sy loopbaan tot dusver moontlik ‘n tekort aan goeie bestuur en behoorlike visie of vooruitsig wat die bestuur van sy loopbaan betref. Dit waarop hy die trotsste is, is sy vermoë om saam met die land en wêreld se beste musikante op die verhoog te klim. “Wanneer ek saam met hierdie ongelooflike musikante speel en dit voel asof dit is hoe dit hoort, I’m a part of this - dít is hoogtepunte waarop ek trots is. En dan my songs, ek hóú van my eie songs,” sê hy. Hierdie eerlike, geniale, pretensielose musikant kom egter na al sy toere en internasionale optredes terug na sy basis in Wellington.
NUUS • NEWS