courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
11 April 2018
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 464
11 April 2018
•GESTREMDHEID KRY KRANIGE ATLEET NIE ONDER
Blitsige Boltman •Jaomi Zeeman Die 18-jarige Bènadè Boltman van Hillcrest in Wellington is nie net ‘n kranige sportman wat al talle medaljes verower het nie, maar as gestremde atleet, leier en iemand wat terugploeg in die gemeenskap is hy ook ‘n inspirasie vir almal met wie hy in aanraking kom. Bènadè, wat sy skoolloopbaan aan die Paarl Skool voltooi het, gaan volgende jaar in Worcester studeer. Alhoewel hy met ‘n gestremde arm gebore is, het niks hierdie positiewe jongman nog ooit in die lewe teruggehou nie. Hy is ‘n kranige atleet wat al veral in die 100m en 200m, maar ook in items soos diskus en spiesgooi uitgeblink het. Bènadè se sportprestasies lees soos dié van een van ons land se top-atlete. Hy het in 2015 twee goue medaljes by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap vir Gestremdes losgehardloop - een in die 100m en een in die 200m. In 2016 het hy op hierdie prestasie voortgebou toe hy in Bloemfontein aan die Suid-Afrikaanse byeenkoms deelgeneem en weer goue medaljes in die 100m en 200m, maar ook in die diskus verower het. Hy het in 2016 ook die SA-rekord in die 100m vir sy ouderdomsgroep en afdeling verbeter. Verlede jaar het Bènadè selfs nóg beter presteer toe hy by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in Port-Elizabeth weer goue medaljes in die 100m en 200m losgehardloop het, maar hierdie keer sommer ook die wêreldrekord vir sy ouderdom in die 200m verbeter het. Hierdie wêreldrekordhouer moes hierdie jaar in Bloemfontein in die onder 20-afdeling met ouer atlete by die Suid-Afrikaanse byeenkoms meeding. Hy het amper die byeenkoms misgeloop aangesien daar tot op die nippertjie nie genoeg fondse vir sy deelname bymekaargemaak kon word nie. Gelukkig het ‘n borg net betyds tot sy redding gekom. Ten spyte van sy deelname teen ouer atlete en al die ander uitdagings wat hy die hoof moes bied, het Bènadè egter steeds met
Begraafplaas geniet aandag
bl 2
drie medaljes huis toe gekom: bronsmedaljes in die 100m en 200m en ‘n silwermedalje in die verspring. Hierdie kort, taai atleet se lewendige oë en groot glimlag val ‘n mens dadelik op. Hy gesels opgewonde oor sy liefde vir atletiek. “My pa is my afrigter en ons oefen elke dag. Ek is baie lief vir atletiek en dit is vir my baie lekker om daaraan deel te neem,” vertel hy. Sy pa, Bennie Boltman, is baie trots op hierdie seun van hom. Bennie, wat self ‘n kranige atleet is, spandeer baie tyd aan sy seun se afrigting en
Drakenstein se GOP kry groen lig bl 3
help hom om vir elke byeenkoms en item gereed te maak. “Ek is ongelooflik trots op Bènadè se deursettingsvermoë en harde werk. Dié kind van my gryp elke geleentheid wat na sy kant toe kom, aan. Hy is veel meer as ‘n goeie atleet, maar ook ‘n voorbeeld vir ander jongmense in die gemeenskap,” sê Bennie trots. Bènadè is self ook by die afrigting van jong atlete in sy gemeenskap en minderbevoorregte kinders betrokke. “Hy help hulle met atletiek, maar ook met dinge soos modelwerk en dans,” vertel Bennie oor sy veelsydige seun. Bènadè is baie lief vir dans en musiek en is ook een van die voordansers tydens die jaarlikse plaaslike Klopse. Hy help ook met die afrigting van ander kinders in hierdie erfenis-aktiwiteit. Oor die talle toekennings wat hy al by die Paarl Skool gekry het, is Bènadè nederig. Hy was al vir sy hardwerkendheid en praktiese vaardighede vereer en die skool het hom ook al as “Mnr. Inspirasie” aangewys. Hy is die wenner van die Alex Rodseth-wisseltrofee vir sy deursettingsvermoë en het ook al verskeie toekennings vir sy bedagsaamheid, pligsgetrouheid, positiewe gesindheid en lojaliteit ontvang. Hy is ook die wenner van die Skoolhooftoekenning wat aan ‘n leerder wat die waardes van die Paarl Skool op ‘n besondere manier nastreef en uitleef, toegeken word. Hy is boonop as eerste prins by die skool se Mnr. Paarl Skool Kompetisie gekroon. Hierdie veelsydige, positiewe, nederige en inspirerende jong man het groot drome. “Ek wil baie graag eendag aan die Paralimpiese Spele gaan deelneem en ons land daar verteenwoordig,” sê hy met sterre in sy oë. Intussen fokus hierdie jong ster van Hillcrest op die oefenprogram wat sy pa vir hom uitgewerk het, sy gemeenskapswerk en sy studieplanne vir volgende jaar.
Moratorium op sportvelde gelig
bl 3
NUUS • NEWS