courant
tel 022 487 3221
Uitgawe 217
die
swartland en weskus
10 April 2013
hugenotestraat 24, malmesbury
Swartlanders by Taalmonument:
Met die vervaardiging van die televisiereeks 'Van Taalmonument tot Voortrekkermonument' se eerste episode by die Taalmonument in die Paarl, daag ‘n besoekende groep van Laerskool Dirkie Uys op Moorreesburg daar op op vir ‘n dagbesoek. Op die vraag: ‘’Praat julle Afrikaans?’’, gil hulle die ‘’ja’’ uit. Die regisseur Alan Hayward besluit toe net daar om hul terloopse verskyning te inkorporeer by die eerste van 13 episodes, wat in 2014 op KykNet uitgesaai sal word. Links by die groep is die sanger Pieter Smith en model Annelize Andrews. Die reeks oor die geskiedenis van Afrikaans sal, nadat dit uitgesaai is, as opvoedkundige DVD vir skole aangewend word.
•Eerste besending land veilig op plaas
Varkplaas kry gestalte
Die eerste besending van 240 varke het pas veilig op Afrika se grootste varkplaas in die Swartland aangekom. Die onderneming Chalala word tans teen honderde miljoene rand tussen Malmesbury en Darling opgerig, volgens internasionale standaarde ten einde te voldoen aan internasionale gesondheids- en veiligheidsvoorskrifte van buitelandse uitvoerbestemmings. Nagenoeg 4800 sôe sal aangehou word op ‘n plaas wat uiteindelik 50 000 varke sal huisves, volgens Mike Otto van dié plaas. Daar is drie eenhede. Eenheid 1 is die teelaanleg, wat pas voltooi is. Eenheid 2 is waar die klein varkies aangehou word nadat hulle gespeen is. En Eenheid 3 is die vetmaak-eenheid. Bouwerk aan die plaas het in Augustus 2012 begin, nadat dit deur ‘n eindelose aansoekproses van ses jaar voorafgegaan is, en sal na ver-
wagting einde vanjaar voltooi word. Die onderneming Chalala word tans op die plase Kleine Rondeboschje en Ronde Vley tussen Malmesbury en Darling gevestig. Ten einde aan internasionale uitvoerstandaarde te voldoen, sal streng bioveiligheidstandaarde nagekom word. Otto het verduidelik dat enigeen wat Eenheid 1 voortaan besoek, eers moet stort voor hy ingaan, en weer moet stort voor hy die terrein verlaat. Artikels soos selfone en sigarette word glad nie toegelaat nie. Kunsmatige inseminasie sal gebruik word vir voortplanting. Die dragtigheidstydperk is 114 dae en ‘n sog kan in ‘n leeftyd sowat ses na agt keer geboorte skenk aan sowat 12 tot 13 varkies op ‘n keer. Daarna word die sôe geslag vir die vervaardiging van varkwors.
Chalala Farms se eienaars is ‘n vennootskap tussen twee van die grootste varkvleisondernemings in Suid-Afrika, Number Two Piggeries en Delta Valley Farms. Van die groot name in Suid-Afrikaanse varkvleiskringe, Dave Osborne van Number Two Piggeries en Mike Heramb van Delta Valley Farms, tel onder Chalala se eienaars. Die grootste varkvleisonderneming in SuidAfrika is tans Number Two Piggeries, wat nagenoeg 15 000 varksôe op verskillende plase bestuur. Simon Streicher, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusenteorganisasie in Pretoria, het einde verlede jaar aan die courant gesê die boukoste van ‘n varkplaas is tans nagenoeg R40 000 per sog, wat beteken dit kos nagenoeg R400 miljoen om ‘n varkplaas vir 10 000 sôe op te rig.
/