courant
gratis
Uitgawe 194
die
swartland en weskus
tel 022 487 3221
10 Oktober 2012
hugenotestraat 24, malmesbur y
Erfenis . . . Korrektiewe Dienste het gister sy Erfenisdagvierings op die Malmesbury rugbyklub se veld gehou. Personeel van die Malmesbury-gevangenis het die Basoeto-kultuur uitgebeeld. Regs staan Hilda Immelman, hoof van die gevangenis op Malmesbury, in Basoetodrag uitgedos.
Swartland kry grootste varkplaas in Afrika Die grootste varkplaas in Afrika word tans teen honderde miljoene rand naby Malmesbury tot stand gebring. Die onderneming Chalala, tussen Malmesbury en Darling, sal uiteindelik byna 10 000 varke op twee naby geleë plase huisves. Die perseel wat die eerste 4 800 varke sal huisves, sal na verwagting teen 2014 in volle produksie bedryf word. Die eerste varke sal reeds vanaf middel April vanuit Queenstown hierheen aangery word en dan sal die volle besending oor die volgende 21 weke gevestig word, het Jeff van Zyl, bestuurder van Chalala, aan die courant gesê. Nagenoeg 40 werkgeleenthede word geskep met die onderneming, wat sowat 120 000 varke per jaar vir die slagpale sal produseer. Die varke sal by Winelands Pork in Stikland se nywerheidsgebied geslag word. Chalala se reuse-varkboeronderneming sal bedryf word op die plase Kleine Rondeboschje en Ronde Vley. Dit was ‘n stryd om die onderneming
goedgekeur te kry. “Dit het ses jaar gevat om die omgewingsimpakstudie af te handel en al die addisionele studies wat gedoen moes word wat deur beswaardes in die omgewing op ons afgeforseer is,” het Van Zyl gesê. Hy wou hom nie uitlaat oor wat die aard van die besware was nie. “Dit was nog voor my tyd.” Die bouwerk, wat reeds sowat drie maande aan die gang is, voldoen aan die hoogste nasionale en internasionale gesondheids- en veiligheidsvereistes, wat beteken die plaas sal van meet af produksiegereed wees vir uitvoer na internasionale bestemmings. Simon Streicher, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusenteorganisasie in Pretoria, het aan die courant gesê die grootste varkvleisonderneming in Suid-Afrika is tans Number Two Piggeries, wat nagenoeg 15 000 varksôe op verskillende plase bestuur. In die Wes-Kaap is daar tans altesame 16 000 sôe. Volgens Streicher is die boukoste van ‘n varkplaas tans nagenoeg R40 000 per sog, wat
beteken dit kos nagenoeg R400 miljoen om ‘n varkplaas vir 10 000 sôe op te rig. Luidens ‘n studie wat in 2009 deur die omgewingskonsultant Doug Jeffrey gedoen is, word beoog om die varkvleis plaaslik en in die buiteland te bemark. Ten einde aan internasionale uitvoerstandaarde te voldoen, sal aan streng bioveiligheidsmaatreëls voldoen moet word, soos ‘n wasplek vir voertuie, verpligte stort vir personeel wat die perseel betree en die verpligte daaglikse was van uniforms. Nagenoeg 34 vragmotors sal per week die paaie gebruik vanweë al die bedrywighede op die plaas. Volgens Jeffrey se verslag kan reuke en geraas doeltreffend bestuur word sodat dit nie ‘n ergernis is vir mense op omliggende plase is nie. Chalala moet ‘n skakelkomitee bestaande uit sy personeel en dié van omliggende plase op die been bring ten einde ‘n gedragskode vir personeel en ander brandpunte te bespreek. Volgens Van Zyl is dit reeds gevestig.
Bouers is volstoom besig (foto’s links en onder) met bouwerk om Afrika se grootste varkplaas tussen Malmesbury en Darling op te rig.