courant swartland en weskus Uitgawe 226
die
Bekroon: Nommer 1-Streekkoerant
tel: 022 487 3221
12 Junie 2013
hugenotestraat 24, malmesbury
Bergrivier kan nou R35 miljoen vorder - Grondwethof
Huis kry nuwe intrekkers
Die skuins gebou tussen Dorp- en Amandelrugstraat op Malmesbury, trek deesdae die oog van bewaringsbewustes. Gebou in die laat 1800’s (sover vasgestel kon word) en bekend as ‘die perdestal’, kan dit voortaan as ‘n toerisme-aantreklikheid ingespan word mits onderhandelings tussen die Swartland Munisipaliteit (SM) en die toerisme-vereniging slaag. Die gebou is die eiendom van die SM en lê teen die roete wat oorspronklik deel sou uitmaak van die rivierpad wat sedert verlede jaar van die baan is ten gunste van die Weskus-kollege en toerisme-ontwikkeling in dié area. Volgens Linza Louw, voorsitter van Malmesbury Toerisme, werk die Toerismevereniging nou aan ‘n sakeplan wat aan die SM voorgelê gaan word. “Ons wil dié gebou innoverend inspan - dalk plaaslike wyn en plaaslike produkte hier verkoop en ‘n maandelikse kunsmark hou”. Skakel die toerismekantoor by 022 487 1133 indien u meer weet van dié gebou.
32 Bokomo Road Malmesbury
Tel: 022 482 1412/4
www.biworx.net
Die ou “perdestal” op Malmesbury kan voortaan as ‘n toerismeaantreklikheid ingespan word. LINKS: Die pleisterwerk binne die gebou wat al afgeskilfer het, wys die vakmanskap van die era waarin dit gebou is.
•Doen basiese goed in jou besigheid reg
Opsies vir SSK vs Mall
Die agteruitgang van ‘n dorp se sakekern (SSK) ná die bou van ‘n groot winkelsentrum is ‘n wêreldwye verskynsel. Ná die provinsiale goedkeuring van ‘n streekwinkelsentrum in Malmesbury onlangs, het die courant gaan navrae doen oor idees om lewe in die middedorp te behou. “Die goedkeuring is pas gegee en baie dinge moet nog gebeur voordat die Mall gebou word,” sê André Mouton van die maatskappy wat ses Wes-Kaapse winkelsentrums (waaronder die De Bronsentrum in Malmesbury) bestuur. “Sakelui moet kalm bly. Daar is geen kitsantwoorde nie. Die belangrikste om te onthou, is dat daar beslis kompetisie op pad is. Daarom moet élke huidige eienaar die ‘back to basics’-ding doen. Gaan maak weer seker dat jy kwaliteitdiens en -produkte lewer met netjiese, skoon fasiliteite en behulpsame en goed opgeleide personeel. Wanneer die sentrum dan kom, kan diegene wat in die historiese deel agterbly, seker maak dat dit steeds ‘n aangename ondervinding bly om daar sake te doen,” het hy bygevoeg. “Eintlik is ons al die laaste drie tot vier jaar besig om die sakekern op te bou,” sê die burgemeester van die Swartland Munisipaliteit (SM), Tijmen van Essen. “As ons kyk na die WeskusKollege, die beoogde toerisme-fokus in Riebeek-
straat en rondom die rivier-oewer, die betreklik nuwe Prima-sentrum onder in die dorp én die beoogde ontwikkelings rondom Spar, lyk dit vir my ons is op die regte pad om die tradisionele sakekern te beskerm. “In wese kan die SM nie voorskryf watter besighede moet waar opgaan of wie moet dit besit nie. By die SM wil ons die omgewing regkry waarbinne sakelui hul besighede kan vestig, maar ons kan nie te voorskriftelik wees oor wie die nuwe eienaars van geboue kan wees nie.” Van Essen sê eienaars van geboue moet self die oordeel aan die dag lê wanneer sake beklink word: “Uiteindelik lê die vraag daarin of die sakeman ook wil help om die dorp te beskerm – dis onsself wat onsself en dit wat ons eie is, moet beskerm. Verder kan ek nie sien dat daar binne die volgende twee jaar ‘n graaf in die grond gesteek sal word vir die Mall nie.” Erik Louw, die voorsitter van die Malmesbury Sakekamer, het voorgestel dat die projek se fases ‘n bietjie geskommel word: “In plaas daarvan om die Mall en winkels eerste te bou, kan ons (die Sakekamer) in gesprek tree met die ontwikkelaar en hulle probeer oortuig om eers meer voete in die dorp te kry met byvoorbeeld nog groepbehuising en dalk die privaathospitaal. Sodra daar dan
meer voete op die dorp is, is die behoefte aan winkels mos groter as wanneer dit gebou word voor Malmesbury meer inwoners kry.” Patrys Bester (ondervoorsitter van die Sa kekamer) het gesê hy hoop elke besigheidsman, die munisipaliteit en die gemeenskap sal saamwerk om dié groei en ontwikkelings te bestuur. “Ons het nog tyd om seker te maak die middedorp word beskerm teen agteruitgang. As die ontwikkeling in fases kan kom, soos die voete/ klante meer raak, sien ek meer kans hiervoor.” Mouton het gesê hoewel sterkter nasionale huurders bes moontlik na die nuwe sentrum toe sal skuif, “is die huidige ekonomiese klimaat een ernstige faktor wat die pas sal aangee. Verder sal die huurkoste in dié sentrum aansienlik duurder wees as in die sakekern. Dit speel ook ‘n groot rol om besighede in die sakekern te behou.” Stuartt Pringle, raadslid vir Somerset-Wes, is betrokke by die herstel van die middedorp dáár: “Alle rolspelers het in 2008 vergader om te besin oor die gesamentlike visie vir die middedorp, om haakplekke soos taxi-staanplekke en sekuriteit te identifiseer en toerisme te bevorder. Met ‘n gesamentlike ontwerp in gedagte, kán ‘n nuwe, mooier sakekern in die historiese deel gevorm word - moet nooit moed opgee nie!”
info@biworx.net