die courant 18 Julie 2012 182

Page 1

courant

gratis

Uitgawe 182

die

swartland en weskus

tel 022 487 3221

Ploeg(Sater)dag

Die Swartland Veterane Trekkerklub se jaarlikse Ploegdag word Saterdag buite Abbotsdale aangebied. Die dag se verrigtinge skop om 10:00 af met die beginparade en opening deur Fanie Basson. Om 10:15 begin die klein trekkers ploeg en om 10:30 die groot trekkers, het ‘n woordvoerder gesê. Vanaf 12:00 is dit tyd vir middagete, demonstrasies en uitstallers. Die wynveiling kom om 14:00 aan die beurt en die prysuitdeling volg om 14:30. Rugbygeesdriftiges sal die dag se wedstryde in die groot markiestent kan volg. ‘n Kontantkroeg sal beskikbaar wees. Daar sal ook springkastele wees vir kinders se vermaak en ‘n Damestent met verversings. Daar sal ook ‘n uitstalling van die Erfenisgroep wees oor toerusting en voertuie wat in die Tweede Wêreldoorlog gebruik is, asook ‘n Veteraanmotortentoonstelling. Die afsluiting is om 15:30. Toegangsgeld is R30 vir volwassenes en R10 vir kinders. Mense met navrae kan Freddie bel by 072 252 5381 of Linda by 084 887 7843. Almal is welkom by die Ploegdag.

18 Julie 2012

hugenotestraat 24, malmesbur y

Swartlander SA se beste pluimbalspeler

Andries Malan van Malmesbury is pas as Suid-Afrika se Junior Pluimbalkampioen gekroon. Sy verbysterende loopbaanstatistiek tot dusver lui dat Andries 74 provinsiale titels verower het, hetsy in enkelspel, dubbelspel en gemengde dubbelspel, asook 21 Suid-Afrikaanse titels en 2 Afrikatitels. Hy is ook reeds in die nasionale senior oefengroep opgeneem. Lees berig op bladsy 5.

Lees meer... Duncan Matthews gesels oor die Bulle en meer

‘Strewe na gehaltediens’ Nuwe hospitaalhoof wil voortbou

Die nuwe superintendent van die Swartland-hospitaal op Malmesbury is dr. André Stoffels, ‘n boorling van Hopefield. Hy sal vanaf 1 Augustus dié pos beklee. Stoffels het met die courant gesels oor sy lewe, sy beroep en sy nuwe werk. Hy is die oudste van vier kinders, wat op Hopefield grootgeword en aan Weston Sekondêr gematrikuleer het. “Ek sien my nuwe pos as ‘n uitdaging om eerstens voort te bou op die suksesse en goeie werk wat my voorganger, dr Anita Jacobs en haar span hier verrig het,” sê Stoffels. “Verder wil ek gestalte gee aan die missie van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, wat grootliks behels dat uitstekende, kwaliteit- en bekostigbare dienste aan alle pasiënte beskikbaar is. Verder moet dié diens gelewer word deur bekwame, passievolle personeel in skoon fasiliteite met genoeg ‘stakeholders’ en gemeenskapbetrokkenheid.” Stoffels sien die uitdagings vir die mediese beroep as dié om goed opgeleide personeel te bekom en te behou, die uitbreiding van kuratiewe teenoor voorkomende sorg en die

implementering van die nasionale gesondheidsorg-beleid. “Dit kom grootliks daarop neer dat ‘n toeganklike kwaliteitsisteem geskep en onderhou word ter wille van almal in die omgewing.” Stoffels het in 1993 sy MB.ChB aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, waarna hy ook verskeie ander kursusse oor MIV en TB gedoen het, sodat hy tans ‘n ervare MIV/TBklinikus is. Hy het sy M.Sc in sportmedisyne aan die Universiteit van Pretoria gedoen, maar moet nog die M-tesis voltooi voordat ook dié graad agter sy naam kan pryk. Stoffels het verskeie poste by die Vredenburg-hospitaal beklee, wat periodiek onderbreek is met verskeie dienstye in hospitale in Skotland en Engeland. Hy het van 2003 tot 2010 sy eie huisartspraktyk op Vredenburg hanteer en was ook ‘n mediese beampte in die Bergriviergebied, verantwoordelik vir die vestiging van ‘n MIVkliniek, asook die MDR-TB-uitreikdienste deur die Weskusdistriksmunisipaliteit (WKDM). Terwyl hy hierdie werk gedoen het, het hy na-ure by die Swartland-hospitaal gewerk, dus is hy bekend met die opset by die hospi-

taal en het hy ‘n breë kennis van die streek se mediese dienste. Stoffels het die afgelope 10 maande as ‘n mediese beampte by die Prins Albert-hospitaal in die Karoo gewerk. Stoffels en sy vrou, Natasha, het twee kinders. Hy beskryf homself as iemand wat belangstel in die kunste - hy is lief vir mosaïek- en loodglaswerk en skilder, asook jazz-musiek . “Verder hoop ek die gholfgogga gaan weer byt as ek ’n Swartlander raak – die stof- en klipbane van die Karoo kon dit nooit vir my doen nie!” Stoffels se lewensmotto word grootliks deur sy ouers geïnspireer: Sy pa, ‘n winkelbestuurder, het hom geleer dat harde, eerlike werk nog niemand doodgemaak het nie. Sy ma, Johanna Stoffels, die eerste vroulike burgemeester van Hopefield en vir die WKDM en bekleër van twee raadsheerskappe, het hom geleer dat mens nooit te oud is om te leer nie, en dat gemeenskapsdiens ongeag sosiale status, ras of ouderdom moet wees. “Verder glo ek vas dat wedersydse respek verdien moet word. En streef daarna om altyd jou beste te lewer, ongeag jou omstandighede!”

Dr. Andre Stoffels is vanaf 1 Augustus die nuwe superintendent van die Swartland-hospitaal op Malmesbury. Hy is ‘n boorling van Hopefield en het reeds in vorige betrekkings die mediese opset van die Swartland- en Weskusstreek goed leer ken.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
die courant 18 Julie 2012 182 by DieCourant - Issuu