die courant 20 februarie 2013 210

Page 1

courant

tel 022 487 3221

Uitgawe 210

die

swartland en weskus

20 Februarie 2013

hugenotestraat 24, malmesbury

Wêreld se bestes sweef in Swartland

Die Wêreldbeker-Skermsweefbyeenkoms word van eerskomende Saterdag, 23 Februarie, tot 2 Maart naby Porterville aangebied. Die wêreld se voorste skermswewers meet jaarliks in ses byeenkomste in verskillende lande in die Wêreldbekerreeks kragte. Nagenoeg 130 deelnemers uit meer as 20 lande word verwag, Dit is die eerste keer dat ‘n Wêreldbekerbyeenkoms op die vasteland van Afrika aangebied word. Op die foto is deelnemers die afgelope week reeds in aksie in die Afrika-kampioenskappe by Porterville. Berig op agterblad.

•Nuwe Roete wes van Wesbank ondersoek

Skuif van N7 bekyk Wanneer die werk aan die N7 by Malmesbury kom, is die groot vraag of die N7 steeds deur die dorp gaan loop, en of dit oor ‘n nuwe roete wes van Wesbank sal strek. Met Sanral wat nou by die Melkboswisselaar werk, is die beplanningsfase vir Fase 3 by Malmesbury nou dringend nodig. “Die finale besluite oor die roete van die N7 sal gebaseer wees op die stadsvaders se vermoë om ver vooruit te kyk en voorsiening te maak vir Malmesbury se behoeftes en inwonertal tien tot vyftien jaar van nou af,” het Tijmen van Essen, die burgemeester van die Swartland Munisipaliteit (SM), aan die courant verduidelik. Die groot vraag waaroor daar nou navorsing gedoen en talle gesprekke gevoer word, is of die nuwe N7 met ‘n splinternuwe westelike verbyroete gebou sal word, en of die huidige N7 bloot verbreed gaan word, met nuwe wisselaars suid en noord van die dorp. “Die voordele van ‘n nuwe roete wes van Wesbank, is velerlei van aard,” het Van Essen verduidelik. “Eerstens kan die huidige N7 dan as ‘n nuwe interne aar gebruik word om die verkeer uit die dorp na die N7 te lei en opeenhopings in die dorp te verminder. Vir dié doel kan die SM dan van die strate wat nou naby die N7 loop, op die (dan nuwe) aar aansluit. Onthou, oor vyf jaar sal die inwonertal van Malmesbury, Wesbank en Il-

linge Lethu veel hoër wees as nou. Ons moet nie met ons broek op die knieë gevang word deur net te kyk na die huidige situasie nie. Dit kan nou meer kos, maar later baie duisende rande spaar.” Hoewel die voorgestelde nuwe N7-roete wes van die dorp langer en moontlik duurder kan wees weens grond wat uitgekoop moet word, het Van Essen gesê: “Daar is só baie faktore om in gedagte te hou: Enersyds wil die Provinsie (Wes-Kaapse regering) ‘n pad van die Hopefield-aansluit­ing na die Paarl-pad toe bou ter wille van die groei by Saldanhabaai – dit sal ‘n nuwe pad in die Klipfontein-area noord van Malmesbury beteken. “Tweedens is Sanral (die nasionale pad-agentskap) nou besig met die werk aan die N7 en ‘n ingeligte besluit is nóu nodig. “Verder gaan die geweldige groot hoeveelhede koring wat binnekort vanaf die hawe na die nuwe silo’s in Bokomoweg gery sal word (dalk tot 300 vragte per week), die druk op Bokomoweg kwaai verhoog. Die nuwe wisselaars by Melkbos­ strand kos nou tussen R20 miljoen tot R30 miljoen – ons wil ons wisselaars se ligging verander om ons inwoners te help om makliker by die industriële gebiede te kom. Daarvoor moet ons oorweging skenk aan presies wáár dié wisselaars moet kom! (Agt moontlikhede vir die wisselaars se ligging word nou oorweeg). “Gelukkig behoort groot dele van die grond

waarop die nuwe N7 moontlik sal strek aan die SM, wat ook kostes sal bespaar. Onthou, ons is nog net in die ondersoekstadium en kan geen voorspelling maak in terme van kostes, die finale N7-roete en waar sy wisselaars sal wees nie.” Van Essen sê die SM het ook sy eie ingenieurs aangestel sodat ‘n ingeligte finale besluit saam met die Sanral-ingenieurs geneem kan word. “Verder bly ons in kontak met die Provinsie, Sanral en al die ingenieurs. Die nuwe Hopefield-wisselaar kan 200m van die huidige een gebou word om sigbaarheid by die aansluiting te verbeter.” Gevra oor die moontlikheid dat die middedorp mag leegloop as die N7 verder verby die dorp loop en die lang verwagte Mall dalk aan die buitewyke van die dorp gebou word, het Van Essen gesê: “Al die tekens is daar dat iets aan die gebeur is in die middedorp. Met die inwonertal wat groei en ontwikkelings soos die Weskus-Kollege, die nuwe Prima-sentrum en die Van Riebeekstraatontwikkeling vir toeriste, gaan die middedorp nou ‘n lewe van sy eie kry.” “Die SM moet nou sy kanse benut en die regte besluit neem oor die ligging van die ‘nuwe N7.’ Die huidige roete is sestig jaar gelede gebou – ons moet hierdie geleentheid vir groei en verbetering aangryp – anders kom dié kans dalk eers weer na nóg 60 jaar!” Sien grafika op bladsy 2.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.