courant
tel 022 487 3221
Uitgawe 200
die
swartland en weskus
21 November 2012
hugenotestraat 24, malmesbury
Philip kry spoedkaartjie vir swem...
Die 17-jarige Philip Weideman (middel) van Laerskool Swartland op Malmesbury is tans aan die medaljes opstapel by die sesde Wêreld-swemkampioenskap vir Downs-swemmers in Loano, Italië. Hy neem teen volwassenes deel en het reeds ‘n bronsmedalje losgeswem in die 25m Vlinderslag (18:20); saam met sy SA spanmaats goud in die 4x25m-aflos (1.01.50) en nog ‘n brons in die 25m Vryslag (16:25). Sy afrigter, Riaan Steyn, is ‘in die sewende hemel’ oor dié fikse swemmer, wat in feitlik elke nommer ook sy persoonlike beste tye verbeter het. “Ek is sonder woorde, maar só trots op Philip,” het sy pa, Hennie Weideman (regs), Maandag gesê. By hul staan sy ma, Cobie. Philip is ‘n spoedboete opgelê omdat hy in een nommer veel vinniger geswem het as dié tyd wat op sy inskryfvorm aangedui is. Dié tyd is gegrond op sy prestasies wat hy tydens die Somerspele in Maart vanjaar geswem het, maar hy het intussen al heelwat daaraan verbeter.
Oes medaljes in Italië
•HUPSTOOT VIR TOERISME
Swartland Voëlroete geloods
“Hierdie mense beweeg in klein groepies rond, dra duur toerusting en ek belowe jou, as jy iets doen, gaan hulle vir jou kyk.” So het Peter Ryan, professor aan die Universiteit Kaapstad se Percy FitzPatrick Instituut, Vrydagaand gesê by die amptelike bekendstelling van die langverwagte Swartland Voëlroete. “Alles het begin toe ons vanjaar in April ‘n werksessie gehad het en op ‘n projek vir die Swartland besluit het. ‘‘ Voëlkyk is een van die vinnig groeiendste natuurtydverdrywe en ons kon net nie verder die mark ignoreer nie,” het Carlen Vorster van Swartland Toerisme se kantoor op Malmesbury gesê. Volgens haar besoek sowat 40 000 voëlkykers
per jaar Suid-Afrika en is daar ongeveer 24 000 Suid-Afrikaanse voëlkykers. Dié mark kan die Suid-Afrikaanse ekonomie met sowat R1.2 biljoen versterk. Arnold van der Westhuizen is aanvanklik gevra om drie roetes Swartland vas te stel, maar dit het vinnig uitgebrei tot 14 volledige roetes. Volgens Van der Westhuizen is daar tans slegs 4% van die oorspronklike renosterveld in die Swartland oor, waarvan 2% in bewaringsgebiede is. “Een van die suksesse van die bewaring van die Swartland is die terugkeer van die Bloukraanvoël. Hulle is nou volop en word daagliks gesien,” het Van der Westhuizen gesê. Volgens Ryan is die swart Harrier, die suidelike swart korhaan en die Bloukraanvoël van die
spesies wat die meeste in die Swartland gesien word. Die Horus Swift is volgens hom baie skaars in die Wes-Kaap, maar daar word baie van hulle in die Riebeek-Kasteelomgewing aangetref. Ryan het die noodsaaklikheid van bewaring benadruk. “Met die draai van die eeu in 1900 was daar sowat een miljoen pikkewyne op Dasseneiland. Vandag is daar net ongeveer 3000 oor.” Volgens hom is daar sowat 960 voëlspesies in Suid-Afrika en 56 is endemies in die Swartland. Die voëlroete het ‘n webtuiste met volledige kaarte wat kloksgewys in ‘n sirkel-roete loop, beskikbaar by www.swartlandtourism.co.za/ birds en ‘n Facebook-groep by www.facebook.
com/swartlandbirdingroute. Die roete sluit dorpse soos Malmesbury, Darling, Riebeek-Kasteel, Riebeek-Wes, Moorreesburg en Koringberg in. By Koringberg alleen is daar drie verskillende roetes wat gevolg kan word. Foto op bladsy 2. Wen boek - Ons gee vandeesweek ‘n lekker prys weg vir lesers wat ons op facebook “like”. Dit is ‘n boek vir kinders wat ons weggee in samwerking met Swartland Toerisme se nuwe Voëlroete-projek.As jy ons op facebook (die courant) like voor Dinsdag 27 November, staan jy ‘n kans om hierdie viertalige “My first book of Southern African Birds” van Sasol te wen.Ons sal die gelukkige wenner Woensdag 28 November in die courant en op die courant se facebook-blad bekend maak.