courant
BEKROON: Weskus se 1ste keuse
swartland en weskus
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
Swartland
dié
1
26 Augustus 2015
Uitgawe 335
tel: 022 487 3221
Weskus se GEWILDSTE en GROOTSTE Streekblad - Ons BOU saam met GOEIE NUUS
HSS-koor bó met 96%
Cum Laude!!! Dis kultuurweek in die Wes-Boland met Eisteddfods van die Weskus tot in Malmesbury. Maandag het die streek se
kore hul stemme met musiek verenig om die skoolsaal van Laerskool Swartland op Malmesbury te vul met volronde klanke. Verskeie kore het uitstekende kommentaar van die beoordelaars ontvang, met die koor van die Hoërskool Swartland onder leiding van Anna-Mare van Staden wat die dag afgesluit het met die beste punt van 96 persent. Die kommentaar het ingesluit dat die koor presies gewys het hoe koormusiek moet klink en werklik uitstekend was. Die koor is begelei deur Santa-Mari Walters.
• fosfaatmyn 'gaan 8000ha help bewaar'
‘R1 bilj vóór hulle myn’ Dit is belangrik om die balans tussen die mens, ontwikkeling en die omgewing te vind en te behou. Dit is besig om te gebeur met die ontwikkeling van die nuwe fosfaatmyn tussen Hopefield en Darling, meen Martin Halvorsen van die Weskus-biosfeer. Elandsfontein Exploration and Mining (Pty) Ltd (EEM) se leuse, “Om die natuur eerste te plaas”, onderstreep hulle toewyding om ‘n verantwoordelike groen mynmaatskappy te ontwikkel. “Die begrip van volhoubare ontwikkeling in die myn- en mineraalsektor het betekenisvol gegroei en ons maak erns om die filosofie van Geen Skade (Zero Harm) vir werknemer uit te leef en omgewingsverliese tot die minimum te beperk," sê dr Martin Carstens. “Ons het ons verbind om by te dra tot die volhoubare ekonomiese ontwikkeling van die gemeenskappe naaste aan ons projek, terwyl ons die natuurlike biodiversiteit wat ons minerale bronne omring, bewaar." Die aanleg is sowat 10km buite Hopefield en op die oomblik word daar ‘n pad gebou na waar die verwerkingsaanleg aangelê word. Dit kos sowat R70 miljoen en sal terselfdertyd groot waarde hê vir brandbestuur. “Dit sal ‘n permanente vuurbreek verskaf en toegang vir brandbestryding in gebiede verskaf waar dit in die verlede
onmoontlik was om uit te kom.” Halvorsen glo EEM is opreg in hul visie: “Hulle gaan ‘n biljoen rand bestee voordat hulle begin myn.” Van die myn se omgewingsbydraes sluit in beskermde areas wat die myn skenk vir bewaring. Die myn is reeds met Saldanhabaai Munisipaliteit en Sanparke in gesprek oor die bestuur en benutting van voorgestelde beskermde gebiede. Die myn sal geen ondergrondse water gebruik nie en verkry water vanaf die Saldanhabaai Munisipaliteit. Die biosfeer kyk ook na werkskepping vir mense van die omgewing. Die myn is daartoe verbind om eerstens mense uit Hopefield werk te gee. Dit is een van die teenprestasies wat hulle, en ook die munisipaliteit, gevra het. “’n Vergadering is gehou waar sowat duisend werklose mense opgedaag het.” Intussen is 60 nuwe werksgeleenthede reeds geskep. Tydens die konstruksiefase kan tussen 600 en 800 werksgeleenthede geskep word en omtrent 350 direkte geleenthede tydens produksie. “Hierdie is die grootste mynbou-projek in ons distrik. Ons moet dit verwelkom, terwyl ons sensitief omgaan met die omgewing," sê Halvorsen. “Die myn gaan sowat 450ha oor 20 jaar ontgin. As teenprestasie gaan hulle om en by 8000ha in bewaring terugsit.”
Drie geoloë werk saam met EEM. Een van hulle, Bertie Pepler, is heeltyds op die perseel, saam met ‘n honneurs-student, wat bedrywighede moniteer. Rehabilitasie word ook ernstig opgeneem en hiervoor is Deon van Eeden met sy maatskappy, Vula, aangestel om te help met bestuur. Halvorsen verduidelik dat rehabilitasie deurentyd sal plaasvind. EEM is ‘n vlak-myn, wat beteken dat die grond in lae verwyder word. “Grond en plante sal heeltyd teruggeplaas word. Veral die bogrond, wat die saadbank bevat en rooidataspesies sal sensitief behandel word. Halvorsen sê naby die myngebied is fossieloorblyfsels. “Die myn is in gesprek met die WesKaapse Erfenis departement om dit saam met die bewaringsgebied te bestuur.” Daar sal ook versigtig omgegaan word met die wild in die omgewing. Roosterhekke (cattle grids) sal wild tot veilige gebiede beperk. Terselfdertyd sal roosters groot genoeg wees dat dit nie slange en skilpaaie inperk nie. Halvorsen meen mense moet na die groter prentjie kyk. “Mynbou is deel van ons lewe. Ons mensgemaakte omgewing, geboue, ons tegnologie is alles afhanklik van delfstowwe. Ons moet net ‘n oog hou op die verantwoordelike ontginning daarvan."
NUUS • NEWS
26 Augustus 2015