courant
tel 022 487 3221
Uitgawe 211
die
swartland en weskus
27 Februarie 2013
hugenotestraat 24, malmesbury
2-3 Maart, Malmesbury: Die jaarlikse Kansa Relay For Life vind dié naweek op Malmesbury plaas. Sien berig en program op bladsy 6.
•‘Groot sprong’ vir SA, Swartland
Sonplaas in aanbou Franco Afrique Technologies (FAT), die eienaar van Franki’s Vineyards buite Darling, was in 2011 een van die eerste 28 suksesvolle bieërs in Suid-Afrika aan wie dié tender vir die bou van die Sunslim Swartland Solar Park toegestaan is. Nou, baie maande later, is die konstruksiefase onderweg nadat bouwerk weens oponthoud met velerlei kontrakte met vier maande uitge stel moes word. “Omdat dit die eerste keer in Suid-Afrika is dat privaat inisiatiewe kontrakte met Eskom sluit vir die lewering van energie, het die navorsings proses en die sluit van samewerkingsooreenkomste veel langer geduur as wat die verwagting was. “Ons het eers in November 2012 die kontrakte gefinaliseer en kon dus eers in Desember begin met die konstruksiefase”, sê die eienaar, Anthony Corin. “Die konstruksiefase gaan in twee dele afgehandel word, naamlik die solar-aanleg op die plaas en die bou van ‘n substasie en distribusielyn, wat die energie na Eskom moet gelei. Ons werk eerste aan laasgenoemde, omdat dit veel langer gaan duur as die solar-aanleg.”
Corin beskou dié aanleg as ‘n groot sprong vir die land en ‘n voorreg vir die Swartland om deel van só ‘n proses te wees. “Vir elke megawatt elektrisiteit wat Franco Afrique Technologies aan Eskom lewer, verlig dit druk op Eskom.” Hoe het Corin betrokke geraak by hernubare energie en dit op sy eie plaas, waar hy reeds vyf jaar woon? “Ek is ‘n ingenieur en my passie lê nog al die jare by hernubare energie. Wat hierdie projek besonders maak, is dat dit eintlik ‘n klein projek is as ‘n mens wêreldwyd kyk, maar vir ons omgewing is hierdie projek groot. Waar ander aanlegte van dié aard multibiljoen dollars beloop, sal hierdie projek se totale koste R200 miljoen tot R210 miljoen wees.” Sunslim Swartland Solar Park sal na verwagting teen Julie 2014 operasioneel wees. Corin sien die projek as besonders omdat dit op sy eiendom gebou word en hy ‘ fundamenteel gesetel is in die projek’. “Party ontwikkelaars kom ontwikkel en vertrek daarna weer na ander projekte toe. Ek is hier om te bly, daarom kom ek ook my sosiale verantwoordelikhede na, dus word ‘n plaaslike welsynsgroep van Darling
ook hierby betrek om voordeel uit dié ontwikkeling te trek. Ons kom graag ons sosiale verantwoordelikhede na, maar eers wanneer die sonplaas in bedryf is!” Volgens Corin het ‘n sonplaas ‘n leeftyd van 20 jaar. Die eerste fase sal 5 Megawatt energie aan Eskom kan gee. Teen Augustus sal Franco Afrique Technologies ‘n bod indien om ook die tweede fase te bou wat dié sonplaas in staat sal stel om ‘n verdere 17 megawatt aan Eskom te lewer. Die tweede aansoek sal vinniger gefinaliseer kan word, glo Corin. Dit sal op dieselfde terrein gebou kan word en die sluit van die eerste kontrakte was deel van ‘n leerkurwe, wat in die toekoms baie tyd sal kan spaar. Sal die inwoners van die streek voordeel trek uit dié projek, in die hartjie van die Swartland? “Nee,” meen Corin, “hierdie is deel van ‘n nasionale projek wat beteken dat dit ‘n ma kro-voordeel vir die land sal bied. Die totale 22 megawatt wat ons uiteindelik aan Eskom se distribusienetwerke sal kan bied, sal Eskom se vermoëns op nasionale vlak versterk.”