courant
BEKROON: Weskus se 1ste keuse
swartland en weskus
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
Bergrivier
dié
1
28 Oktober 2015
Uitgawe 344
tel: 022 487 3221
Weskus se GEWILDSTE en GROOTSTE Streekblad - Ons BOU saam met GOEIE NUUS
Déan sit Smit-tradisie voort
Een van Hoërskool Swartland se hekkielopers, Déan Smit (middel voor), volg deesdae in sy pa, Charl, en tannie Brenda (destyds Krogman) se atletiekspore. Brenda, wat getroud is met die oudste van die bekende Du Plessis rugbybroers, Springbok Willie, woon deesdae in Sydney, Australië. Sy was op haar dag die SA o.21-kampioen in die 400m-hekkies. Haar en Willie se dogter, Lizaan, was voorheen die No. 1-tennisspeler in Suid Afrika. Charl, soos Brenda ‘n oudleerder van Dirkie Uys op Moorreesburg, was sélf ‘n kranige hekkiesatleet. Hy vertel sy beste tyd as o.19 WP-atleet in die 110m-hekkies was 14,7 sekondes. “Ek was nie so pligsgetrou soos Brenda nie.” Oor Déan sê afrigter Charl: “Hy het die afgelope vier maande geweldig ontwikkel. Hy is nou o.17 en sy tyd is so 14,2 sekondes. Die hekkie lig volgende jaar (o.19) ‘n bietjie, maar hy kan dan twee jaar o.19 deelneem.”
• ‘grondsake: Geld bring drome aarde toe'
Begin nóú - boer saam Moenie wag dat dinge gebeur nie, láát dit gebeur. Hierdie raad het gister van Willem Klaase van die Welbeloon Boerdery gekom. Hy was een van die opkomende boere wat by die Weskus Landbouberaad op Moorreesburg gepraat het. “Omring jou met kundigheid,” was sy raad aan medeboere. Hy was een van drie opkomende boere wat hul suksesverhale gedeel het. Meer as 200 agrirolspelers was byeen vir die beraad wat grondhervorming onder die loep gehad het. Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het gesê: “Gesprekke soos dié wat ons vandag hier het, is baie belangrik sodat ons gemeenskaplike grond kan kry van waaruit ons grondhervorming kan bespreek.” Hy het aan dié courant gesê daar is baie verwagtinge en drome, maar ekonomiese realiteite bring drome vinnig aarde toe. “Almal kan nie boer nie, die res moet hul harte in die waardeketting sit.” Klaase het sy dank uitgespreek vir die hulp wat die staat gee, maar ook gewaarsku: “Land-
bou is een van die slagare van die land. As die staat dit afsny, sal die land doodbloei. Hulle moet honderd present agter ons staan.” Welbeloon Boerdery behoort aan Klaase en sy vrou, Martha. Klaase het in 1983 met tien lammers begin boer. Hy het die lammers en ‘n stukkie grond by ‘n kommersiële boer gehuur. Die grond het groter en die vee meer geword, totdat hy besluit het om na ander kommoditeite te kyk. Die plaas wat hy toe by die staat gehuur het, Drommelvlei, het die infrastruktuur vir aartappels gehad en in Januarie 2012 het hy met Stef Stephan as mentor sy eerste aartappels geplant. Vandag is dié twee in ‘n vennootskap en die opbrengs is in die omgewing van 50 ton per hektaar. Die Wes-Kaapse Minister van Landbou, Alan Winde, het gesê grondhervorming moet tot voedselsekerheid en ekonomiese groei lei om suksesvol te wees. “Grondhervorming is ‘n groter ekonomiese
proses as net grond, sonder markte kan dit nie suksesvol wees nie,” het hy gemaan. Prof Nick Vink van die department landbouekonomie van die Universiteit van Stellenbosch, het in sy rede gesê daar is baie om te kritiseer. “Maar moenie die regering só erg kritiseer dat hulle dinge te haastig begin doen nie. “Daar is baie tyd nodig om grondhervorming te laat slaag. Die staat het ook tyd nodig om te leer om dit ordentlik te doen. "Dit is ‘n mite dat landbou in Afrika nie suksesvol is nie, dit groei vinniger as die globale gemiddeld.” Nog een van die beraadgangers was John Dürr van die Rooivleis Produsente-organisasie. Hy het aan dié courant gesê dit is duidelik dat daar baie frustrasie bestaan oor die sloerdery om huurkontrakte af te handel. “Baie van die mense sit op grond, maar hulle kan nie hulp kry sonder wettige kontrakte nie.” Tijmen van Essen, burgemeester van die Swartland Munisipaliteit: “Die sukses van grondhervorming moet van binne die landbou kom.”
NUUS • NEWS
28 Oktober 2015