courant swartland en weskus
die
Uitgawe 265
Bekroon: Nommer 1-Streekkoerant
Gratis • Free
hugenotestraat 24, malmesbury
tel: 022 487 3221
2 April 2014
Oud-Springbok kuier op Kloovenburg
Oud-Springbok Mannetjies Roux was gisteraand op Riebeek-Wes gasspreker by ‘n spesiale funksie as deel van Laerskool Riebeek-Kasteel se jaarlikse Paastoernooi. Hy het gistermiddag op Kloovenburg aangedoen en staan hier by truie van die legen dariese Piet Spiere du Toit. Oor daardie jare se amateurrugby vertel Roux dat hulle “10 sjielings ‘n dag gekry het en Piet is die enigste een wat geld teruggebring het.”
•Hart se klop revolusionêr herstel
Piekfyn ná operasie
Waar ‘n normale hartklop tussen 60 en 90 is, het Hein Pieterse van Malmesbury se hartkloppings tot 200 slae per minuut opgejaag. Op die gholfbaan moes hy dikwels eers ‘n tyd op die gras gaan lê voor hy kon voortgaan weens sy hart se bokspringe. Elke keer het hy gevrees dat dit ‘n hartaanval of beroerte kon meebring. Die gevolg is dat Hein (35), ‘n finansiële raadgewer, by dr. Razeen Gopal, kardioloog van die Panorama Mediclinic, om hulp aangeklop het. “My toestand is gediagnoseer as atriale fibrillasie of onreëlmatige hartkloppings. ‘’Ons het eers medikasie probeer, maar dit het nie veel gehelp nie. Soms as ek net koue water gedrink het, het dit my hartklop opgejaag,’’ vertel Hein, voorspeler-afrigter van Schoonspruit Sekondêr se eerste rugbyspan. Uiteindelik moes hulle noodgedwonge nagenoeg 18 maande gelede ‘n hartprosedure wat sewe uur geduur het, laat doen. Daarmee het Hein die eerste pasiënt in Afrika en die Midde-Ooste geword wat die revolusionêre hartprosedure ondergaan het.
Die keerpunt het gekom terwyl hy einde 2012 in Durbanville gholf gespeel het. Die gholfklub se mense het hom eers Durbanville Mediclinic toe geneem, vanwaar hy na Panorama oorge-
plaas is vir die operasie. ‘’Ek was drie dae in die hospitaal vir die operasie. Sedertdien voel ek 100%. ‘’Dit het groot veranderinge in my lewe gebring. ‘n Mens is net dankbaar dat daar sulke tegnologie beskikbaar is om mense ‘n tweede kans te gun.’’ In die prosedure word twee kateters via die lies tot by die hart gebring, waar ‘n krio-ballon met yskoue stikstof gebruik word om foutiewe elektriese seine in die hart te vernietig. Sedert die operasie het Hein elke drie maande vir ‘n dag met ‘n monitor geloop, maar alles lyk normaal. ‘’Ek gebruik geen medikasie meer nie en my hart klop soos ‘n nuwe een.’’ Hein en sy vrou, Rene, in diens by DKD, het twee kinders, Hanre (11) en Reinardt (5), leerders aan Laerskool Swartland. Gopal het aan Hein gesê elke mens het eintlik atriale fibrillasie, maar syne was ‘’net meer aktief’’ as ander.
Hein Pieterse en sy vrou, Rene, en hul seuns, Hanre (11) en Reinardt (5).