courant swartland en weskus
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
Swartland
5 Augustus 2015
Bergrivier
BEKROON: Weskus se 1ste keuse
dié
1
Uitgawe 332
tel: 022 487 3221
Weskus se GEWILDSTE en GROOTSTE Streekblad - Ons BOU saam met GOEIE NUUS
Talle atlete hol in 30ste Berg
Lamtyd op Nuweland: Sussies Aníse en Hanné Louw van die plaas Nu-
weland buite Malmesbury vertroetel twee nuwe aankomelinge op die plaas. Dit is lamtyd in die Swartland en alhoewel die ooie vanjaar later lam as in die verlede, is die jongelinge gesond en sonder kwellinge. Foto: Franza Louw
Meer as 2000 deelnemers het Saterdag aan die PPC Riebeek Bergmarathon se wedlope deelgeneem. Phumlani Nxusani was eerste oor die eindstreep van die marathon in ‘n tyd van 02:31:18. Kort op sy hakke was Justin Fritz en Ben Matiso. Lee-Shay Willemse was die eerste vrou tuis in ‘n tyd van 03:24:14. Die halfmarathon is deur Mthandazo Qhina (mans) en Candice Hall (vroue) gewen, met Siviwe Nkombi en Mariette Strauss die wenners van die 10km. Die wedloop word deur PPC Sement en die Swartland Atletiekklub gereël. Onder die 10km-atlete was oud-Springbok rugbyspeler Morné du Plessis, wat die 30ste oor die wenstreep gedraf het met die 30ste bestaansjaar van dié gewilde wedloop. “Ons is in ons skik met vanjaar se opkoms en wil graag al die deelnemers gelukwens,” het Bernard Venter, PPC Riebeek se hoofbestuurder, gesê. “Dit is wonderlik dat soveel mense die 30 jaar van PPC se betrokkenheid in die Riebeekgemeenskap saam met ons kom vier het – en ons sien uit daarna om almal volgende jaar terug te verwelkom.” Julie Welkom was die Swartland Atletieklub se eerste atleet oor die wenstreep in die marathon. Hy is gevolg deur Derick Zoutman, Christiaan Adonis, Leon Williams, Hennie Vlok en Jan Nehro. Sien foto's op bl 12 en 13.
• DEPARTEMENT lei skolierpatrollies op
Skoolverkeer bekyk
Skolierpatrollies in die Swartland het 'n hupstoot gekry met die Departement van Vervoer en Openbare Werke se projek om leerders hierin op te lei. Skolierpatrollies is ‘n belangrike deel van padveiligheid en is noodsaaklik vir die veiligheid van ons skoliere, het Philip Humphreys, Direkteur Beskermingsdienste van die Swartland Munisipaliteit aan dié courant gesê. Hy het sy stem by die Departement van Vervoer en Openbare Werke gevoeg: die Departement het gesê skolierpatrollies is ‘n kardinale deel van padveiligheid-opleiding en ‘n kritiese verbetering van leerder-veiligheid. Skolierpatrollies reguleer verkeer, laat voertuie stadiger ry en fasiliteer veilige padkruisings. Dit maak ook jong voetgangers bewus van die belangrikheid van padveiligheid. Humphreys het die Departement geloof vir
die opleiding wat hulle aan skolierpatrollies in die Weskus gee. Hulle sal 12- en 13-jarige leerders by 27 primêre skole tot Septembermaand oplei om leerders by te staan om besige strate van en na skole te kruis. “Gevaarlike verkeersopeenhopings kom dikwels by en om skole voor, met baie ouers wat hul kinders af- of oplaai. Dit skep gevaarlike punte waar kinders raakgery kan word, vandaar die rol van die skolierpatrollie om die kinders veilig oor die straat te help. “Skolierpatrollies is ‘n oproep vir onbaatsugtige diens aan mede-leerders en die gemeenskap en lede van só 'n patrollie moet die volgende eienskappe uitstraal: verantwoordelikheid, stiptelikheid, toewyding en ‘n verbintenis tot spanwerk met karaktertrekke soos betroubaarheid,” het Humphreys beklemtoon. Ses van die skole wat opleiding ontvang, is in
die Swartland en twee in die Bergrivier. Die afgelope week het leerders van St Michaels Primêr op Abbotsdale en Laurie Hugo op Moorreesburg opleiding ontvang. Die Departement sal ook, in samewerking met die betrokke munisipaliteite, gereelde behoeftebepalings by die skole doen om gebreke in die pad-infrastruktuur te identifiseer en aan te spreek. ‘n Gebrek aan voldoende padtekens sal vinnig reggestel word. • ‘n Skolierpatrollie bestaan uit vier leerders wat stoptekens gebruik om verkeer by ‘n voetoorgang te beheer. Die patrollie-kaptein gebruik ‘n fluitjie om die kruising oop te maak en te sluit. Spanlede dra helder veiligheidsbaadjie oor hulle skooluniforms, asook pette wat deur die Departement se afdeling vir Padveiligheidsbeheer geskenk is. Een of twee onderwysers hou toesig oor die patrollie en gereelde vergaderings word gehou om enige probleme te bespreek.
NUUS • NEWS
5 Augustus 2015