c urant
Gratis • Free
65.8%
Hugenotestraat 24, Malmesbury
7 September 2016
Bergrivier
Swartland
se 1ste keuse
dié
1 Weskus
Uitgawe 386
tel: 022 487 3221
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
7 tot 10 September Swartland Skou 7 tot 10 September •GESELS OOR SY PASSIE EN 'LEKKER WERK'
Scholtz stuur SM vir nog 5 jaar 'n Passie vir plaaslike regering maak dat ek "elke dag geniet wat ek werk toe kom. Al is daar soms groot uitdagings, is dit vir my lekker." Só gesels die Swartland se munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, wie se diens verlede week deur die stadsraad eenparig met vyf jaar verleng is. Scholtz, 'n oud-Matie wat sedert 1997 hier werk, sê die eenparige besluit (ook gesteun deur die ANCraadslede) is vir hom 'n veertjie in die hoed. "Dit het my verwagtinge oortref, want ek moet dikwels ongewilde besluite neem, omdat gewilde besluite nie altyd reg is nie en regte besluite nie altyd gewild is nie." Al verstryk sy huidige kontrak eers aanstaande jaar, is nog vyf jaar nou bekragtig. Hy wil nie die name van ander owerhede wat hom genader het bevestig nie, maar raadslede het aan dié courant bevestig dat minstens Stellenbosch en Mosselbaai en selfs 'n provinsiale department graag Scholtz se dienste wou bekom. Hierop sê Scholtz: "Die feit bly staan dat ek gelukkig is in die Swartland en ek is en bly 'n lojale Swartlander." "Die Swartland Munisipaliteit was nog net goed vir my. Ek wil maar net iets probeer teruggee," vertel Scholtz vandeesweek aan dié courant. Hy is sedert 1 Augustus 2006 in die pos en praat met trots oor die afgelope vyf jaar waarin Swartland onder sy leierskap die enigste plaaslike munisipaliteit was wat vyf agtereenvolgende skoon oudits kon kry. Ook die SM se gradering vir finansiële volhoubaarheid (volgens Ratings Africa se jongste opnames) toon dat dié owerheid sedert 2012 van 58% tot 73% verbeter het. Hy het in dié stoel "geduld, deursettingsvermoë en dankbaarheid geleer. Dit is 'n ongelooflike voorreg om die munisipale bestuurder van die toonaangewende owerheid soos Swartland Munisipaliteit te wees. "Ek weet ons kan nie almal altyd tevrede stel nie en sommige mense waarskynlik nooit tevrede stel nie, maar ons poog voordurend om die basiese goed reg te doen en ook aandag te gee aan die klein goedjies. Dit is inderdaad die klein jakkalsies wat die
wingerd bedreig." Scholtz sê hy word dikwels as iemand met 'n toe-beursie-beleid beskryf, maar hy glo nie dit is nodig om uitspattig te wees nie en met die beperkte begrotings kan daar steeds met innovering baie vermag word. "Dit is met hierdie beleid en die ongelooflike groei wat die streek die afgelope jare beleef het, dat ons nou finansieel soveel meer volhoubaar kan wees." Hy beskryf ook die munisipaliteit se 97,2% gemiddelde spandering van sy kapitaalbegroting oor dié laaste 5 jaar as een van die groot suksesse en daarmee saam die 101% vordering van begrote inkomste. Ook die groot vordering wat gemaak is met die rompslompvermindering in effektiwiteit van bouplangoedkeuring, is vir hom 'n belangrike sukses. "Ons suksesse moet ons egter nie arrogant maak nie, want gister se sukses waarborg ongelukkig nie môre s'n nie." Oor die beleid van 0%-prestasiebonusse, sê Scholtz: "Ons word mos reeds betaal om te presteer." Daar is natuurlik ook teleurstellings. Hy beskou die manier waarop die publiek dikwels ná ure met munisipale personeel praat as een van hierdie aanhoudende teleurstellings. "Die na-ure-diens wat ons van 17:00-08:00 lewer is iets spesiaal, maar wanbetalers laat ons onder hulle skerp tonge deurloop, ongeag die feit dat húlle rekeninge nie betaal is nie." Hy verwys ook na die teleurstellings wanneer korrupsie, diefstal en oneerlikheid van werknemers aan die lig kom. Al het ons 'n beleid dat ons hierdie praktyke nie sal duld nie, is dit ongelukkig ook by ons teenwoordig. Ek waarborg egter dat dit net 'n kwessie van tyd is voor sodanige oortreders uitgevang word en ons sal die korrekte prosedures volg wat waarskynlik tot ontslag sal lei." Oor homself sê Scholtz van sy beste eienskappe is dat jy kry wat jy sien en dat hy dankbaar is. Aan die ander kant lê ongeduld en té taakgedrewe ("waaraan ek probeer werk"). "As iemand vinniger werk as ek, is dit wonderlik, maar ek het nie altyd begrip vir iemand wat stadiger werk nie."
Joggie Scholtz, is vir derde termyn aangestel deur Swartland Munisipaliteit.
Gepols oor eksterne fondse sê die munisipale bestuurder dat hy met 'n redelike mate van sukses eksterne fondse bekom vir projekte in die Swartland. Die skoon oudits en reputasie van goeie plaaslike regering, verduidelik hy, maak hierdie verkrygings aansienlik makliker. Daar is 'n paar goed op sy lysie van voorsiene uitdagings vir die volgende vyf jaar. "Ek wens dit was binne ons vermoë om die Voëlvleidam vol te hou. Ons moet met beperkte hulpbronne bestaande infrastruktuur in stand hou en nuwe infrastruktuur skep; finansieel volhoubaar bly met bekostigbare dienste en ook ons wykskomitees en kommunikasiestelsel aanpas om met die nuutste tegnologie by te hou. Ons moet die opgradering van die N7 (die grootste enkele ekonomiese inspuiting tot nog vir die streek) optimaal benut en nie alleen die positiewe nie, maar ook die negatiewe aspekte daarvan bestuur. Die SM sal 'n meer aktiewe rol moet speel in die vestiging van 'n geïntegreerde misdaadvoorkomingsplan. As ons misdaad nie kollektief aanspreek nie, kan ons nie die klimaat skep waar die ekonomie kan groei nie." Scholtz sal graag die voltooide N7-projek en 'n opgegradeerde paaie-netwerk wil sien voor hy eendag die stoel van munisipale bestuurder verlaat. Sien nog 'n berig op bl 2.
NUUS • NEWS
7 September 2016