courant Wellington
se 1ste keuse
dié
1 Weskus
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
Uitgawe 383
17 Augustus 2016
tel: 022 487 3221
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
Stowman nou speaker
Die nuwe burgemeesterspaar van die Drakenstein Munisipaliteit, Conrad en Jene Poole, by die inhuldiging gisteroggend in die Paarl-stadsaal. Poole het vroeër vanjaar reeds die leisels by advokaat Gesie van Deventer oorgeneem toe dié haar op Stellenbosch verkiesbaar gestel het.
Die waarnemende munisipale bestuurder van die Drakenstein Munisipaliteit, Jacques Carstens (regs), verwelkom Aiden Stowman as die nuwe speaker. Stowman is onlangs in die munisipale verkiesing as wyksraadslid vir wyk 11 (Van Wyksvlei en Newton) verkies. Hy volg die ervare Koos le Roux, ook van Wellington, op in dié amp.
• JUAN DE JONGH GEE DORP 'N EERSTE
Medaljes vir Wellington Wellington het twee Olimpiese medaljewenners opgelewer. Met die Suid-Afrikaanse sewes-rugbyspan se bronsmedalje-vertoning tydens die Rio 2016 Olimpiese Spele, het die geliefde Wellingtonner, Juan de Jongh, ons dorp se heel eerste Olimpiese medaljewenner geword. Hierdie medalje is opgevolg met nóg ‘n medalje toe Luvo Manyonga van Mbekweni buite Wellington ‘n silwermedalje in die verspring verower het. Die Blitzbokke, wat as deel van die Suid-Afrikaanse Olimpiese Span in Rio de Janeiro aan die Olimpiese Spele gaan deelneem het, het geskiedenis gemaak toe hulle die bronsmedalje in die Rugby 7’s gewen het. Dit was die eerste medalje wat ooit in hierdie sportsoort deur ‘n Suid-Afrikaanse span gewen is en het die Blitzbokke se uitmuntende pogings in die drie dae van hierdie strawwe toernooi, beloon. Alhoewel die Suid-Afrikaanse span se pad tot by die bronsmedalje-finaal nie seepglad verloop het nie, het hulle Japan tydens hierdie belangrike wedstryd met 54-14 platgeloop. Die ag skitter-drieë wat die span tydens hierdie wedstryd gedruk het, het hulle plek op die olimpiese podium beklink. Die 28-jarige Juan Leon de Jongh is ‘n Wellingtonner in murg en been wat reeds sedert sy skooldae bobaasrugby speel. Hy was ‘n eerstespan-rugbyspeler vir sy alma mater, Hugenote Hoërskool. Na matriek het hy vir die Boland Kavaliers uitgedraf en in 2007 vir die Westelike
Provinsie begin speel. Hy het in sy rugbyloopbaan reeds 56 keer vir die WP-rugbyspan uitgedraf, 93 keer vir die Stormers en 16 keer vir die Springbokke. Juan het al bykans 170 punte op professionele provinsiale, nasionale en internasionale vlak op die rugbyveld aangeteken – en nou bring hy ‘n Olimpiese medalje huis toe. Dat hy ‘n trotse Wellingtonner is, is nie te betwyfel nie. Op sy Twitter-profiel beskryf hy homself eerstens as ‘n “proud son of Wellington” en dán as ‘n “professional Rugby player.” Hy is in 2013 deur sy alma mater, Hugenote Hoërskool, vir sy puik prestasies op die rugbyveld met ‘n eretoekenning vereer. Tydens hierdie geleentheid het hy geen geheim van sy liefde en lojaliteit teenoor die skool, sy familie en die dorp gemaak nie. Volgens ‘n eg-Wellingtonse tradisie, waar die Hugenote-leerders na hulself as “Blackies” verwys, het Juan laat hoor dat sy bloed “altyd swart sal wees – Blackies-swart”. De Jongh het in Mei nog las van ‘n dyspierbesering gehad en moes gevolglik ‘n belangrike Stormers-wedstryd teen die Blou Bulle misloop. Hy het egter mooi herstel en sou volgens berigte definitief in die Springbokgroep opgeneem word, was dit nie vir sy verbintenis tot die Blitzbokke nie. Die ander plaaslike medaljewenner, Luvo Manyonga, se pad tot op die Olimpiese podium was een van baie terugslae, deursettingsvermoë en hoop. Luvo het onder baie moeilike omstandig-
hede by sy ma, ‘n huishulp van Mbekweni, en ouer broer en suster grootgeword. Mario Luvo het uitstekend begin presteer en in 2009 ‘n derdeplek by die Afrika Junior Kampioenskappe behaal. In 2012 stort Luvo se atletiekloopbaan in duie toe hy positief toets vir verbode middels. Dit kom aan die lig dat hy ‘n dwelmprobleem het en hy word vir 18 maande uit atletiek geskors. Boonop sterf sy afrigter, Mario Smith, tragies in ‘n motorongeluk. Luvo draai byna by die dood om a.g.v. sy tikverslawing. Die volgehoue positiewe insette en ingryping van mense soos die afrigter John McGrath, die voorsitter van die Olimpiese Komitee Gideon Sam en die Olimpiese swemmer Ryk Neethling, help Luvo om bo sy omstandighede uit te styg. Die Olimpiese Komitee gee hom permanente verblyf by die Hoë Prestasie Sentrum in Pretoria en in die middel van 2015 begin Luvo weer voltyds oefen. Vandag is Luvo Manyonga die trotse silwermedaljewenner in die verspring by die Olimpiese Spele in Rio – iets wat hy met vasberadenheid en deursettingsvermoë reggekry het. Volgens De Jongh was dit ‘n “fantastiese reis saam met die Suid-Afrikaanse span” in Rio. Luvo se eerste reaksie nadat hy die podium in Rio bestyg het, was dat hy die goeie nuus heel eerste met sy ma en seuntjie in Mbekweni wil deel. “Ek het my duiwels oorwin – dit wat my teruggehou het, het ek agtergelaat. Kyk waar is ek nou,” het hy gesê.
NUUS • NEWS
17 Augustus 2016