Wellington
courant
dié
1
Gratis • Free
18 Mei 2016
Hugenotestraat 24, Malmesbury
Uitgawe 370
tel: 022 487 3221
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
Verhaal van Skoonlief en die Onder op die planke
Die akteurs van Hugenote Hoërskool vertel tot Vrydagaand die verhaal van "Beauty and the Beast" in dié skool se saal op Wellington. Kaartjies beloop R50 vir volwassenes en R30 vir kinders en is by die skool beskikbaar.
• rust laat diep spore op wellington
Hulde aan ‘n ikoon
Die eerste dame van die dorp, ʼn ikoon. Dis van die woorde wat mens hoor as Wellingtonners van Winnie Rust praat. Dit is steeds ondenkbaar dat sy nie meer met ons is nie. Winnie het diep spore in die gemeenskap en harte van mense getrap. Winnie het uit ’n skrywersfamilie gekom. Sy is in 1939 op Moorreesburg gebore en het in 1946 na Wellington verhuis toe haar pa ʼn pos by die destydse Onderwyskollege in Wellington aanvaar het. Haar pa, C.P. van der Merwe, was die jonger broer van Boerneef en vroeër 'n Afrikaans-onderwyser. Kortverhale uit haar pen word deur die jare in verskillende bloemlesings opgeneem en die Literaprys vir debuutskrywers is twee keer aan haar toegeken. In die jare 2000-2013 was Winnie rubriekskrywer van die plaaslike Paarl Post. Haar eerste roman was Martha – die verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford, wat op die kortlys was vir die Jan Rabie/Rapportprys 2005. In 2011 verskyn Margie van die Seminary en ander verhale en in 2013 verskyn Trek, oor die ontwrigting van gedwonge verskuiwing van bruin mense uit die middedorp van Wellington. Sy was ook die samesteller van ʼn museumpublikasie wat hiermee verband hou, ʼn Lewe Suid van
Markstraat. Nostalgiese herinneringe aan ʼn tyd voor die gedwonge verskuiwings van die 1960’s (2014). Dit was ʼn behoefte van haar om die kloof tussen die mense van Wellington kleiner te maak. Winnie was nie net skrywer nie. Haar groot passie was die dorp en sy mense se geskiedenis. Sy en haar man, dr. Manie, was van die stigters van die Wellington Museum in 1975. Deur die jare was sy altyd aktief betrokke by die museum – as lid van die Vriende van die Museum, later ook as sekretaresse asook by verskeie museumprojekte. Winnie was die stigterslid van
die Wellington Besprekingsgroep in 1965 – nou die Gesprekskring. Sy het ook die Afrikaanse Leeskring begin en aan ʼn poësieklub in Durbanville behoort. Winnie het ʼn groot liefde gehad vir die kunste en musiek. Haar entoesiasme en betrokkenheid by die destydse Musiekvereniging asook die Breytenbach Sentrum getuig daarvan. Winnie het nie net gepraat nie, maar gedoen. Sy sou inspring en begin help met die bemarking van ʼn klassieke musiekreeks, of aanbied om sop en brood te maak vir die kunstenaars. Sy sou dadelik instem vir enige vergadering oor watter projek ook al en voorbereid kom en altyd dadelik vra hoe sy kan help. Winnie het opreg belanggestel in alle mense. Haar fyn aanvoeling en empatie met mense sal ons altyd bybly. Sy kon op ʼn sagte innemende manier mense moed inpraat, komplimenteer en ondersteun. Ons sal haar onthou as ʼn sprankelende, energieke, mooi en begaafde vrou met ʼn jonkheid van gees op wie die ouderdom blykbaar geen invloed gehad het nie. • Uit die pen van Wellingtonner Eugenie Wiggins, 'n dramadosent, taalkenner en baie betrokke lid van die gemeenskap. Sy was ook 'n goeie vriendin van Rust.
NUUS • NEWS
18 Mei 2016