Wellington
courant
dié
1
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
1 Junie 2016
Uitgawe 372
tel: 022 487 3221
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
• 'ons het in hom bly glo'
Garth wóú altyd die No. 10 dra
“Trots. Ja, ons is trots, maar wil nie ons bors te ver uitstoot nie.” Só gesels Jeff en Angeline April in die voorkamer van hul huis, waar Wellington se jongste held grootgeword het. Garth April (24) was Saterdagaand by sy ouerhuis toe hy hoor afrigter Allister Coetzee het hom in die Springbokgroep opgeneem. “Ons het maar altyd geglo en baie ander het geglo dit gaan nog gebeur. “Selfs sy oom Gerald het tot voor sy dood verlede jaar volgehou Garth gaan in die 2019 Wêreldbeker vir die Springbokke speel.” Hy is die jongste van vier seuns, waarvan sy een broer, Brendon (‘n polisiebeampte op Malmesbury), al saam met hom vir die Boland uitgedraf het. Ma Angeline vertel rugby is in die familie se gene. “My pa, Jové Abrahams, het destyds vir Pirates gespeel en dikwels vir die Boland ook. Ek het netbal gespeel en sy pa (Jeff) en sy familie het ook vir Pirates gespeel.” “Die twee kinders het gekies om vir Roses te
speel.” Garth Graham April was nog klein, in standerd 1 in St Albans Primêr, toe hy een middag 15 hemde van 1 tot 15 genommer het en self die no.10-hemp oor sy kop getrek het. Hy het as 13-jarige al vir Boland gespeel en daarna weer o.16 en o.18, vertel pa Jeff, terwyl hulle koerantknipsels en foto’s van Garth wys. In die Hoërskool het Paarl Gimnasium “hom kom haal, voor hy daar bo vir Florida gaan speel het”. Daar het hy tussen 2009 en 2012 vir die Gautengers op o.18-, o.19-, o.21- en Vodacombeker-vlak diens gedoen. Toe die SA o.18 Skolespan ná afloop van die 2008 Cravenweek aangekondig is, was April, Elton Jantjies en Patrick Lambie in die groep van 22. Nou is hulle saam in Coetzee se Springbokgroep van 31. Maar Garth se loopbaan was nie net met rose besaai nie, hy het ná sy Vodacombekerdiens vir die Leeus op sy tuisdorp vir Boland in dié kompetisie uitgedraf toe ‘n kniebesering sy loopbaan ‘n harde knou toegedien het. Hy was ‘n jaar op die krukkelys en is van sy kontrak onthef. Sy ouers vertel hy was redelik moedeloos, maar hy het herstel en verlede
jaar saam met Brendon vir die klub Durbell gaan speel. Hulle het die klub gehelp tot in die Gemeenskapsbeker waar Garth as die Jong Speler van die Toernooi aangewys en deur die Westelike Provinsie opgeraap is om sy debuut op heelagter vir die streeptruie te maak. Die Wellingtonner se loopbaan was weer op koers en kort voor lank het die Haaie hom ingekatrol. Hier het hy in die Haaie se voorseisoense wedstryde in Frankryk baie goed gespeel en in die Superrugbyseisoen op die plaasvervangerbank begin voordat hy hom uitstekend van sy taak gekwyt het in moeilike wedstryde teen onder andere die Highlanders en die Chiefs. Oor sy besluit om Garth vir die Springbokgroep te kies, het afrigter Coetzee spesifiek verwys na Garth se vermoë om aanvallende rugby te speel, maar dat hy ook ‘n goeie voet het. “Ek hou veral van die manier waarop hy sy staal op losskakel gewys het teen moeilike opposisie.” Pa Garth, wat erken dat hy nou bietjie van sy ondersteuning van die Silwer Varing-span sal moet afsien, beaam dat Garth in die Superrugby uitsonderlik gevaar het teen die All Blacks se top-losskakels. Links: Trotse ouers, Jeff en Angeline April, voor hul seun Garth se geborgde motor by die Wellington-huis waar hy grootgeword het.
NUUS • NEWS
1 Junie 2016