courant
dié
Wellington
Gratis • Free
1
Hugenotestraat 24, Malmesbury
20 Julie 2016
Uitgawe 379
tel: 022 487 3221
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
• SUIKERSOET-KLANKE VAN WELLINGTON-GROEP
BlacShuga: Van vriendskap tot 7de Laan
• Jaomi Zeeman
‘n Wellingtonse sanggroep, BlacShuga, het die hele land aan die gons nadat hulle onlangs as gaskunstenaars in die klub van die gewilde sepie, 7de Laan, opgetree het. Die groep bestaan uit Lawrence Adams, Gurshwon Wellman en Randel Syster van Wellington, asook Mark Albanie van die Paarl. Hulle het mekaar as tieners geken en deur hul vriendskap en gemeenskaplike liefde vir musiek, besluit om ‘n sanggroep te stig. Die naam BlacShuga is juis in hulle tienerjare gebore toe daar tydens ‘n eksperiment in die skeikundeklas ‘n vreemde resultaat, wat soos swart suiker gelyk het, ontstaan het. Hulle pad tot op die verhoog van 7de Laan se klub, is egter allesbehalwe ‘n vreemde eksperiment – hulle moes hard werk en vele struikelblokke oorkom. Volgens Gurshwon Wellman, een van die groeplede, het dit vasbyt gekos om te kom tot waar hulle vandag is. “Ons groep bestaan al vir jare, maar as gevolg van al die lede se persoonlike lewens en besluite wat oor die jare geneem moes word, was ons nie almal die hele tyd bymekaar nie. Ek het ‘n paar jaar gelede vir Lawrence genader om weer die wiel aan die rol te kry,” vertel hy. “Ons het toe vir Randel gevra of hy ook weer sal saamsing en ook vir Mark, wat ‘n vriend van Lawrence is.” Sedert hulle weer bymekaar is, het hulle hard gewerk om ‘n naam in die musiekbedryf te probeer maak – soms met gemengde welslae. “Die groep het al aan vele internasionale talentkompetisies deelgeneem, maar dit nooit eers gemaak tot by die rondtes wat op televisie uitgesaai is nie. Dit het ons laat wonder oor ons talent en die musiek wat ons maak. Ons het al baie kere amper tou opgegooi omdat niks net wou werk nie, maar ook besef dat baie van die talentkompetisies eintlik oor show buzz gaan en nie net oor talent nie,” vertel Gurshwon. “Baie mense maak ook vreeslike beloftes wat net nooit realiseer nie. Ander lewer weer graag kritiek,” sê hy. Tog het hulle nooit moed opgegee nie – hulle lede is immers almal mense wat al baie hard in die musiekwêreld gewerk het. Volgens Gurshwon het sommige van die lede al in drie-, vier- en vyfsterhotelle in Dubai en Spanje opgetree. Hulle het ook die afgelope paar jaar gereeld in kerke en by funksies en feeste, soos die Festi-
val of lights, opgtree. Verder is hulle o.a. as gaskunstenaars na die Suidoosterfees en die Global Spotlight Talent Search genooi. Hoe het hulle dan in 7de Laan beland? Volgens Gurshwon het die vervaardigers van 7de Laan in Januarie 2015 ‘n nasionale kompetisie geloods waarin deelnemers ‘n video op die sepie se amptelike Facebook-blad kon plaas. “Ons het besluit om ‘n oorspronklike liedjie, “Liefling”, wat deur Lawrence geskryf is, in te stuur,” vertel hy. “Ons het dadelik positiewe terugvoering gekry. Die mense van 7de Laan het ons gebel en ‘n klomp van die mense van die meer as 8000 views wat ons op Facebook gekry het, het ongelooflike positiewe kommentaar gegee,” sê hy. Die vervaardigers van 7de Laan het BlacShuga amptelik in Februarie vanjaar na hul ateljees genooi vir ‘n opname en verskyning in die sepie. “Dit was ‘n baie opwindende ervaring en dit was so lekker om al die bekendes te ontmoet en in lewende lywe te sien. "Hulle is almal baie vriendelike en gasvrye mense,” vertel Gurshwon.
“Dit was ‘n belewenis om te sien wat agter die skerms gebeur en ook te besef hoe professioneel almal is en hoe hard hulle werk en hoe talentvol hulle is,” sê hy. Intussen is die groep oorval met komplimente, gelukwensings en ongelooflike ondersteuning en positiewe reaksie. “Ons is so dankbaar vir almal, en veral vir ons families en vriende, se ondersteuning. Dit motiveer ons, maar dit motiveer ook ander mense wat dieselfde liefde vir musiek het,” sê Gurshwon. BlacShuga het groot drome vir die toekoms. Hulle beoog om binnekort ‘n cd op te neem en hulle wil ook terugploeg in die gemeenskap deur ander mense te help om hul talent te ontwikkel. Hulle raad aan mense met dieselfde drome as hulle is juis om nooit in jouself te twyfel of moed op te gee nie – alles sal nie altyd goed gaan nie en niks gebeur oornag nie. Vir meer inligting of besprekings kontak Gurshwon Wellman (071 150 9908 / gurshwonwellman909@gmail.com) of hul bestuurder, Gershwin Marthinus by 083 799 9379.
NUUS • NEWS
20 Julie 2016