Die courant well 27 jul 2016 380

Page 1

courant

dié

Wellington

Gratis • Free

1

Hugenotestraat 24, Malmesbury

27 Julie 2016

Uitgawe 380

tel: 022 487 3221

GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap

• KANS OP 2000 NUWE WERKSGELEENTHEDE

R100 miljoen vir ‘Old Tannery’ • Jaomi Zeeman

Een van Wellington se bekendste bakens, die gebou wat vir jare die ou Mossop’s Western Tannery langs die R44 gehuisves het, is besig om ‘n gedaanteverwisseling te ondergaan. Dié gebou, wat amper sewe jaar leeggestaan het, is verlede jaar deur ontwikkelaars gekoop met die oog op restourasie en ontwikkeling. Volgens Oscar Saunderson, een van die ontwikkelaars, het die projek op 3 Desember 2015 afgeskop. “Ons het aan die einde van verlede jaar met die skoonmaakproses begin. Die plek was in ‘n haglike toestand, omdat dit so lank leeggestaan het. Dit was omtrent heeltemal leeggesteel en gestroop van enige bruikbare items. Daar is selfs staal uit die dak gesteel, wat die struktuur op sekere plekke ‘n bietjie verswak het,” vertel hy. ‘n Gebou wat vir só lank leegstaan, kom met sekere uitdagings vir toekomstige ontwikkelaars. Behalwe vir die skoonmaakproses, moes die terrein ook eers beveilig word. “Ons moes ordentlike heinings reg rondom die eiendom aanbring en het ‘n baie goeie sekuriteitsmaatskappy aangestel wat die veiligheid van die terrein in ‘n japtrap weer herstel het,” vertel Oscar. “Ons het ook tonne rommel van die terrein verwyder. ‘n Mens kan eers met die eintlike restourasie begin wanneer jy al hierdie dinge in plek het,” sê hy. Ten spyte van al die uitdagings, het dit geensins die ontwikkelaars se moed gebreek nie. “Ons raak opgewonde oor geboue soos hierdie – dit maak my verskriklik opgewonde om by sulke geboue, wat niemand meer wil hê nie en vir die meeste mense na ‘n groter las as ‘n bate lyk, in te stap en die potensiaal daarin raak te sien. Dit is soos ‘n skoon doek, ‘n stuk klei – in die regte hande dit kan soveel wonderlike dinge word,” vertel Oscar entoesiasties. Van die grootste uitdagings in die restourasieproses is die feit dat dit ‘n erfenis-gebou is. Die ontwikkelaars wil dit graag respekteer en die gebou tot sy eertydse glorie herstel. Om so ‘n gebou te restoureer, verg meer arbeid en kundigheid. “Daar moet baie herbouings plaasvind en die hele dak moet vervang word. Só ‘n projek is baie kontant-intensief,” verduidelik Oscar.

Regs: Ontwikkelaars Oscar Saunderson en Bert Bezuidenhout is opgewonde oor die moontlikhede wat die “Old Tannery” bied. Volgens hom sal die hele projek tussen R80 miljoen en R100 miljoen beloop. “Ons is tans besig met die eerste fase en beoog om dit teen Desember 2016 bekend te stel. Die tydperk van voltooiing van al die fases van die hele projek, word op drie jaar bereken,” sê Oscar. “Soos ons dele gereed het vir okkupasie, trek van die opwindende nuwe huurders al in en ons het ‘n hele paar besighede wat reeds die Old Tannery hul nuwe tuiste gemaak het,” vertel hy. Daar is reeds verskeie kantoorruimtes wat deur onder andere ontwerpers en ander professionele persone gehuur word. Onder die ongeveer 10 besighede wat reeds permanent hierheen verskuif het, is Wellington Leather Novelties. Die Old Tannery gaan uiteindelik ‘n unieke kombinasie van restaurante, kantore, winkels, kunstenaars, vertoonlokale en funksielokale huisves. “Dit gaan ‘n ongelooflike kombinasie van kos, drank, kuns, musiek en besighede wees. Dit gaan baie familievriendelik wees. "Ons beplan ook ‘n uitgebreide gimnasium en ‘n hoë-kwaliteit varsproduktemark in van die volgende fases. Dit gaan ‘n bietjie soos ‘Spice

Route’ gekruis met ‘Old Biscuit Mill’, alles met ‘n industriële en plattelandse geurtjie wees – iets wat uniek en outentiek is,” verduidelik Oscar. Daar is reeds 30 nuwe werksgeleenthede met die ontwikkeling van die eerste fase geskep en die projek het die potensiaal om teen voltooiing ongeveer 2000 nuwe werksgeleenthede te skep. “Ons gebruik die ou, unieke kenmerke van die gebou as fokuspunte,” sê Oscar. “Die ou oond met sy skoorsteen is mooi gerestoureer en gaan deel van ‘n koffiewinkel wees. "Ook die watervore en die hele waterstelsel wat in die ou looiery gebruik is, gaan ‘n ere-plek hê en ‘n hoofrol in die nuwe ontwikkeling speel,” vertel hy. Met hierdie ontwikkeling kan Wellingtonners uitsien na ‘n groot ekonomiese inspuiting, maar ook na waarde-toevoeging en ‘n estetiese aanwins langs een van die toegangsroetes van dié dorp. Vir meer inligting oor die Old Tanneryontwikkeling en moontlike verhurings of besigtiging, kontak Bert Bezuidenhout by 083 308 6603 of Oscar Saunderson by 072 373 0301. Hulle webtuiste is www.oldtannery.co.za of stuur ‘n e-pos na info@oldtannery.co.za.

NUUS • NEWS

27 Julie 2016


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.